Baba & Kleuter

MY selfstandi­ge SPRUIT

Jou peuter is besig om haar eie identiteit te ontwikkel en dít doen sy deur haar grense te toets. Hier is 10 maniere om jou te help om ’n selfstandi­ge kind groot te maak.

- DEUR LIBBIE JOUBERT

MIN REËLS

Jou kind is nog klein en jy moet jou verwagting­e daarby aanpas. Die geheim is om min reëls hê – hoogstens drie tot vier basiese reëls wat in vele situasies van toepassing is. Dit beteken dat jou kind ’n regverdige kans het om die reëls te onthou. ’n Voorbeeld hiervan is die reël dat kos slegs by die tafel geëet mag word. So voorkom jy krummels in kamers, kossmeerse­ls op jou sitkamerba­nk of ’n geëtery voor die televisie – alles met een reël.

DADE HET GEVOLGE

Volgens Anne Cawood, kenner op die gebied van ouer-kind-verhouding­s, beteken ferm dissipline jou kind leer die gevolge van keuses. “Slaan is ondoeltref­fend,” sê sy. “Dit kweek aggressie en werk oënskynlik slegs tydelik.” Jou kind moet weet dat sy vry is om te doen wat sy wil, maar dat sy nie vry is van die gevolge van haar dade nie. Moet ook nie die gevolge, of straf indien nodig, uitstel nie. Moenie dat jou kind moet wag vir pa om tuis te kom om haar te straf nie. Dit is wreed.

VEILIGE HUIS

Alle slim kinders is nuuskierig. Nuuskierig­e kinders wil meer weet van die wêreld om hulle en moet dus nie net as stout afgeskryf word nie. Sorg dat jou kind haar omgewing in veiligheid kan ondersoek deur seker te maak jou huis is veilig vir peuters.

PRYS JOU KIND

Jy kan jou kind nooit te veel prys vir haar goeie maniere nie! Dieselfde geld al die kere wanneer jou kind op ’n reël ag slaan – veral as sy nie dink jy kyk nie.

Tyd saam met jou kind bly die beste beloning en die meeste kinders sal dit bo enige present verkies.

DIE DAAD, NIE DIE KIND NIE

Vermy negatiewe woorde wat jou kind as mens beskryf, soos stout, moeilik, lelik, goor. Die woordkeuse wat jy moet gebruik is iets soos “dit [hierdie daad] pas nie by ’n oulike kind soos jy nie” of “soet kinders maak nie so nie”. Jou kind leer dan dat sekere dinge nie strook met dit wat as aanvaarde gedrag beskou word nie.

Anne sê ook op haar webtuiste dat ouers gerus vir kinders die woordeskat van gevoelens kan aanleer. “Kinders leer dan dat gevoelens altyd aanvaarbaa­r is, soos hartseer, woede, frustrasie. Die manier waarop dit hanteer word, is egter nie altyd aanvaarbaa­r nie. Oulike kinders slaan nie hul maatjies nie, selfs al is hulle kwaad.”

WERK SAAM

Volgens Anne moet ouers dit vermy om absolute bevele te gee soos “eet jou kos!”. Op haar webtuiste verduideli­k sy dat so ’n bevel dikwels ’n “nee”-reaksie by ’n peuter ontlok, wat ’n onmiddelli­ke magstryd tot gevolg het. Bevele moet eerder samewerkin­g vra, soos “Wat sal ons eerste eet – die pampoen of die hoender?”

TWEE ORE

Die peuterstad­ium is volgens kenners die beste tyd is om jou kind te begin leer om te luister. Vat aan haar wanneer jy met haar praat en maak gereeld oogkontak. Vra jou kind om die kort opdrag wat jy gegee het, te herhaal. ’n Kind wat kan luister maak dit vir ander mense, by die kleutersko­ol en elders, makliker om haar te help.

ELKE DAG DIESELFDE

Jou peutertjie se geheue is beter as wat jy dink. Onthou dus dat dit wat vandag toegelaat, ook môre toegelaat moet word. As jou kind vandag op die bed mag spring, sal sy aanneem dat sy dit more weer mag doen. Konsekwent­heid vereis goeie kommunikas­ie tussen ouers en duidelike reëls sonder enige grys gebiede.

DUIDELIKE GRENSE

Jou kind sal dikwels toets hoe ernstig jy oor ’n reël is, of hoe spesifiek die reël gevolg moet word. Dit is ouers se plig om duidelik te wees oor die grense, al voel dit soms soos hare kloof. Volgens Anne lê kinders se sekuriteit nie slegs in die grense wat gestel word nie, maar ook in volwassene­s se vermoë om die grense te handhaaf.

GOEIE SELFBEELD

Dis belangrik dat jy ’n goeie selfbeeld het. Vir dissipline en kinders het ’n mens ’n goeie sin vir humor nodig en dit kry jy net as jy ’n goeie selfbeeld het, sodat jy vir jou eie onvermoëns kan lag. Anne sê ouers moet sorg dat hulle tyd vir hulself inruim, asook tyd vir ander volwassene­s. “Dit is nodig om ’n bietjie van jouself te spaar vir wanneer jou kinders eendag die huis verlaat!”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa