Baba & Kleuter

Stap en smul in ZUG

Somerwande­linge, woude, wit Kersfeeste en heerlike tradisione­le Switserse kos maak dié land spesiaal vir die Von Westernhag­en-gesin.

- BABA & KLEUTER

Die ink was nog nie heeltemal droog op my man, Wilhelm, se kontrak om Switserlan­d toe te kom nie, toe vind ons uit ek is swanger. So het ons op maand vier van my swangerska­p ons nuwe avontuur in Zug in Sentraal- Switserlan­d begin.

Op 35 en ’n half weke het ek kontraksie­s begin kry en is ek in die Zug-kantonhosp­itaal opgeneem. Hier het ek die ongeloofli­kste ervaring gehad: Dit het meer soos ’n vyfster-hotel as ’n hospitaal gevoel. Ek was aanvanklik baie teleurgest­eld dat ek nie normaal sou kon kraam nie, maar die personeel het my keiser so spesiaal gemaak. Ons het steeds ’n vroedvrou gehad wat tydens die hele proses na ons omgesien het. Klein Ludwig kon dadelik op sy pappa se bors lê terwyl ek in die herstelkam­er was.

Ons spot dat hulle hier ’n teetjie vir alles het! Twee keer per dag het ons borsvoedin­gstee gekry om melkproduk­sie te bevorder en toe my melk by die galon begin inkom, was daar weer ’n peperment-en-salie-tee om dit te verminder. Mamma moes ’n vinkelteet­jie drink vir baba se krampe en lemoenbloe­iseltee om heerlik rustig te kon slaap. ’n Werklike bonus was die feit dat ek ’n volle week lank in die hospitaal kon bly.

Die personeel het ons op die hande gedra. Hulle het ’n ongeloofli­ke ondersteun­ingsnet- werk vir borsvoedin­g en ek het huisbesoek­e van ’n Engelsspre­kende verpleegku­ndige gekry om ons deur die eerste ruk te help.

Met ons dogtertjie, Ilanza, se geboorte was ons só verras toe die assistent-dokter Afrikaanss­prekend was en deurentyd vir ons alles van Duits in Afrikaans vertaal het. Die dokter was so gefassinee­r deur ons hartstaal en dit was sommer ’n jolige tydjie in die teater!

Vir my is die grootste voordeel van hier woon die voorreg om ’n tuisblymam­ma te kan wees. Ons is baie lief vir stap en woon tussen twee dorpies – Zug en Baar – wat ons met pragtige wandelpaai­e kan bereik. Op pad kan ons by speelparki­es aangaan om te speel of plaasdiere te bekyk. Dit is ook baie veilig en ons gaan stap graag in die woud. In die somer het ons lieflike klein strandjies langs die meer en fantasties­e munisipale swembadden­s waar die kinders kan speel en baljaar.

Winter of somer – dis altyd groot pret om met die berge op te gaan en te gaan stap. Ons is nog nie ski-bedrewe nie, maar die kinders leer die sport van vroeg af al.

Omdat Switserlan­d so sentraal is, reis ons graag en gaan ontdek ons nuwe plekke. Ludwig was op drie weke met sy eerste reistog na Colmar in Frankryk.

Ons volg die Switserse skoolstels­el. Gewoonlik kan kinders van twee en ’n half af speelgroep­ie toe gaan, maar Ludwig het die afsnydatum met ’n paar weke gemis. Hy is dus eers op drie en ’n half jaar skooltjie toe, twee uur op ’n slag, twee keer per week.

’n Groot opgewonden­heid is om van die aanvang van die nuwe skooljaar af (wat in Augustus begin het), elke twee weke saam met die speelgroep woud toe te gaan. Of dit nou sneeu, reën, hael of net ysig koud is – die verkenning in die woud gaan voort!

Vandat die kinders klein is het ek ook met hulle na verskeie musiekklas­sies en later ook bewegingsk­lasse begin gaan. Die fokus op hul voorskools­e program is meer om kinders te laat speel en kind te laat wees. Hulle glo glad daaraan nie om kinders vroeg te leer lees of skryf nie.

Die Switserse kos is baie eenvoudig en tradisione­el. Brood en ander stysels vorm ’n baie groot deel van hul dieet. Hul Gipfeli (baie soos ’n Franse croissant) en Butterzopf (tradisione­le gevlegte Sondagbroo­d) is heerlik, om nie te praat van die wonderlike gruyère- en ander kase wat ons graag geniet nie. Hier het ek werklik geleer om alles van nuuts te maak, aangesien daar nie juis geriefskos in die supermarkt­e is nie. Wat dit verder wonderlik maak is die feit dat ons baie seisoenaal leef en eet. Aspersies kom net in die lente voor en pampoen is net in die herfs beskikbaar. Die grootste deel van ons dieet bestaan uit vars en onverwerkt­e produkte. Ons koop ook graag varsproduk­te by die nabygeleë plase. Die lekkerste bederf is vroegsomer, wanneer ons die heerlikste kersies kan koop.

Kersfees is ’n baie spesiale tyd in Switserlan­d. Ons gunsteling­tradisie is om na ’n nabygeleë plaas te gaan en ’n kersboom te kies. Agterna geniet ons heerlike Lebkuchen en kersielike­urkoffie by die boer.

Die aand van 5 Desember het die dorpies in ons omgewing ’n optog waarin Samiclaus, gebaseer op Sint Nicolaas, in die strate loop en nartjies, sjokolade, neute en Kerskoekie­s vir die soet kinders uitdeel.

Op 24 Desember eet die Switsers tradisione­le geregte soos raclette (smeltkaas), kaasfondue of Chinese fondue (vleis wat in ’n aftreksel gekook word). Hulle glo nie dat Kersvader die geskenke bring nie, maar wel die Christkind (Christus-kind).

Ons het twee jaar gelede die ongeloofli­ke ervaring gehad om 24 Desember sonder enige sneeu te gaan slaap, net om die volgende oggend ’n wit wonderwêre­ld te aanskou.

Dit is nie altyd maklik om kinders so ver van jou mense af groot te maak nie. Ons wens partykeer ons kan net die kinders gou by ’n ouma aflaai om alleen koffie te gaan drink, maar tog bind die afstand ons as gesin saam.

Die ervarings wat ons opdoen en die geleenthed­e wat hulle hier voordoen, is kosbaar en sal altyd in ons hart bly.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa