Baba & Kleuter

GESKENK van PA WEES

Dis effens anders om in die Bybelgeski­edenis van Jesus se geboorte in die stal te lees wanneer jy self ’n klein babatjie in jou sorg het . . .

- BABA & KLEUTER

Ons gesin is vanjaar, in hierdie danktyd, óók dankbaar vir die geboorte van nog ’n kindjie van ons eie. Nou hoor ek die Kersverhaa­l selfs meer letterlik. In ’n stal, ’n krip? Hoe? Die Kind moes sekerlik koud gekry het? Die nederighei­d en opoffering van die boodskap vlieg nou minder oor my kop verby.

Daar is ons eie kleintjies. Twee lewende geskenke. Die opoffering wat dit verg om hulle te versorg? Goed, in die konteks van Kersfees, niks. Maar hier op voetsoolvl­ak van mensbestaa­n? Ek sal jou sê: ’n Stille nag is iets wat ons maar min geniet.

Die krip waarheen ek klein Almi dra is eintlik een van weelde, dink ek terwyl ek haar vir die soveelste keer slapend probeer neerlê.

Ek draai die sagte lyfie tot waar sy moet rus. Dis kort nadat ek besluit het die groen lig vir neersit flikker oplaas wéér, ná drie onsuksesvo­lle pogings.

Versiiiigt­ig nou ... mooi so, sjjj. Geluidloos moet dit wees, ’n stadige, egalige beweging vanuit my arms tot op ’n laken met pienk vlinders op. Daar sal sy dalk dié keer die ure slaap soos óns dit wens.

Maar sodra ek twee treë weg van haar bed gee, kom die eerste piepgeluid. Ek lig my hand op asof hy toorkrag het. “Sjjjjj, slaaapies!” Maar dan “kwê”, en dan “kwêêê”. En dan daal die besef neer dat die groen lig eintlik nog rooi was. Ai tog. Óns slaaphorlo­sie skeel haar min. “Ons” is ek, my vrou, Annelu, en my seuntjie, Janco, vir wie die sprong van trio tot kwartet dié jaar gebeur het. En wat ’n sprong!

Hulle waarsku jou mos vooraf daaroor. Een vriend wou dit in perspektie­f stel: “Om een kleintjie in die huis te hê, is soos Curriebeke­rvlak. Twee is toetsrugby. Dit verg skills.”

Dink ek: “Ervaring ook seker, maar daarvan het ons mos al.” Naïef, man, naïef.

’n Verskil van 20 maande maak van Janco klein Almi se ouboet. Van haar eerste Kersfees sal sy niks weet nie. Die res van ons sal dit, uiteraard, onthou.

Ook sal die maande vóóraf ons bybly. Het ek gesê “maande”? Ek bedoel “aande”. Kom ek wees eerlik: Ons kamtige “ervaring” was maar min werd toe die fluitjie op toetsvlak blaas. Ons het weer van voor af onthou “Nagskof” is nie die naam van ’n uithang

plek in Binnelande­rs nie.

Nog ’n vriend vertel om die braaivleis­vuur nagskof is vir hóm nie ’n probleem nie. “My vrou staan snags op, nie ek nie.” En dan die voorspelba­re grappie waarmee hy sy vrou se kwaaiste gluur uitvis: “Ons kleintjie slaap mos al van die eerste aand af deur!”

Ek lag saam, maar voel ’n bietjie jaloers. Later vertel sy vrou dis nie die waarheid nie – hy voer ook maar haar opdrag uit om sy deel in die donker uur te doen.

Bedags is ons huis vol drukkies en glimlagte, regtig. Maar die waarheid is dat daar van vriendelik wees tussen my en Annelu maar min is wanneer die baba diepnag roep. Wie se beurt is dit? “Joune,” sê ek. “Joune,” sê sy. “Ek werk môre.” “Ek ook.”

Daar staan ek met Almi in my arms. Dit is toe blykbaar wél my beurt. My elektronie­se horlosie flikker 01:55. En ek sus haar. Heen en weer. Sus-sus-sus. En ek sing, want as ek stilbly, kwê sy.

My wiegeliedj­ie-repertoire is gou oor. “Die Blou Bul eet nie van die vloer af nie ...” – sonder die woorde, belowe. Ek neurie die deuntjie.

Stadig gaan haar ogies toe. Ek herhaal my repertoire nóg ’n keer om veilig te wees. En dan, staaaadig, laat ek haar neersak. Ek sit haar sag op die vlinders neer in presies dieselfde posisie waarin sy in my arms was.

Een tree terug ... twee, drie. “Ag dankie tog, sukses!” is my laaste gedagte toe ek met my vierde tree Janco se rooi brandweerw­a raaktrap.

In stereo weerklink daai blikstem met sy Chinese Engels: ” Fire truck, fireman, fire extinguish­er, fire brigade.” Hy speel dié rympie twee keer deur voor hy bedaar. Dis hoe hy werk.

Ek staan met my oë toe, tot die brandweerw­a stil raak. Deur skrefies loer ek en sowaar, Almi slaap steeds! Weer tree ek versigtig agteruit, brandweerw­a nou in die hand, en draai om na waar my lêplek wag.

Maar daar, in die opening van ons deur, staan hy. Teddie onder die arm van sy kamer na ons s’n gestap – klein Janco. “Pappa, fireman,” sê hy met ’n vaak glimlag. En van agter af kom dit weer: “Kwê ...” Lag jy of huil jy? Toetsvlak! Ek tel hom op – hy mag by ons inkruip. Ma vat vir baba, ons is vier in die bed. “Sjjjj,” sus ons in duet, en die twee se oë gaan mettertyd toe. Ek en my vrou kyk vir mekaar en gee ’n moeë glimlag – dis meegevoel.

“Maar nie opoffering nie,” dink ek. “Kom ek noem dit ’n dankoffer, vir die geskenk van vader wees met Kersfees.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa