Baba & Kleuter

Kreature met karakter

Oorspronkl­ik is haar middelnaam en die woord uniek is al wat sy ken. Ontmoet Wilmarie Viljoen (39) van Krugersdor­p, eienaar van die besonderse Boo!beloobie-poppe en ma van Wian (7).

- DEUR YOLANDI JORDAAN BABA & KLEUTER

HOE IS BOO!BELOOBIE GEBORE? Ek het my eerste een ses jaar gelede kort ná Wian se geboorte gemaak. Ek het in daardie stadium in die finansiële sektor gewerk en besluit om my kraamverlo­f tot agt maande te verleng. Ná agt maande saam met Wian het ek geweet dat ek nooit sou terugkeer werk toe nie en net daar het ek met Boo!beloobie weggesprin­g.

HOE HET JY BESLUIT DIÉ NAALDWERKS­KEPPINGS IS DIE DING VIR JOU? Kuns was nog altyd in my bloed. Ek het kunsklasse op skool geloop, gesing en ná skool geskilder. Ek het ook soms van my skilderye by markte verkoop. Hoewel ek kunstig is, kon ek nie ’n steek naaldwerk doen toe ek met my eerste poppie begin het nie. Ek onthou nog hoe ek my ma gebel het om my te help om die masjien wat ek toe pas by Game gekoop het, te bedraad. Ek het met die gids op my skoot gesit en stik.

Ek weet vandag nie eintlik hoekom ek gekies het om poppies te maak nie. ’n Ontwerp het een aand in my gedagtes opgeduik en ek het net besef dat dít is wat ek wil maak.

WAAR KRY JY JOU IDEES EN INSPIRASIE? Die begin was moeilik, want jy kan nie help om inspirasie van ander te trek nie. Ek het egter reg van die begin af ’n punt daarvan gemaak om nooit iemand anders se werk na te boots nie. Dit was soms ’n uitdaging en dit het my twee jaar gekos om met ’n boek te kan sit en my eie stempel op elke liewe pop-ontwerp af te druk. Dit is ’n proses en dit duur ’n ruk voor jy gemaklik in jou eie vel is. Ek kan nou sê dat ek my eie styl het.

Om uit te vind presies hoe ek wil hê my ontwerpe moet lyk, het ek ure lank marknavors­ing gedoen en doen dit steeds elke dag. Ek het vinnig agtergekom dat my kliënte aanhoudend nuwe dinge wil sien.

Ek het aanvanklik op die internet op webtuistes soos Pinterest en Etsy geboer. Ek het van my poppe op Etsy verkoop en daardie ervaring was besonder insiggewen­d.

Deur Etsy kan mense vir jou, soos op Facebook, privaat boodskappe met terugvoer stuur én die webtuiste het ’n funksie waar mense aan jou punte toeken.

Hierdie interaksie­s sorg dat jy presies weet waarvan mense hou en wat jy moet verander.

WAT MAAK JOU POPPE BESONDERS? Ek hanteer elke kliënt as spesiaal en sorg altyd dat elke bestelling wat ek kry individuel­e aandag geniet. Elke poppie word van voor af ontwerp en ek sorg dat ek my stempel goed daarop afdruk. En dit is wat ’n kliënt spesiaal laat voel.

Ek ontwerp gereeld dekor, geskenkies en partytjiep­akkies vir kinderpart­ytjies – ek vind dit vreeslik opwindend! Elke partytjie se tema, kleure en grootte speelgoed is uniek en net vir daardie partytjie ontwerp. Ek aap niks na nie en as iemand ’n idee iewers raakgeloop het, doen ek altyd ’n herontwerp in my styl. Elke bestelling wat ek doen, is vir my persoonlik. Elke besigheid het sy eie resep. Myne is om al my werk self, perfek en op my manier te doen.

HOE VIND JY BALANS TUSSEN JOU WERK EN WIAN? Ek het dit aanvanklik moeilik gevind. Ek dink dit was omdat ek maar stadig gewerk het. Tydbestuur is ook nie vir my natuurlik nie, maar daarmee het my man, Johan, sommer vinnig gehelp.

Ek het deesdae ’n lekker ritme: Ek werk soggens en gaan haal Wian 13:30 by die skool. As hy buitemuurs­e aktiwiteit­e het, doen ek naaldwerk in die motor terwyl ek vir hom wag. Ek bring tyd saam met hom deur as ons tuis kom en werk eers weer as hy in die bed is.

Ek herinner my gereeld daaraan dat tyd wat ek saam met hom misloop, vir altyd weg is. Dus gee ek elke bietjie wat ek het.

JY MAAK UILPOPPE VIR DIE BEKENDE HANDELSMER­K MYSLIMKIND. IS DAAR NOG GROOT HANDELSNAM­E VIR WIE JY WERK DOEN? My strewe was van die begin af om by my kind te wees, maar ook self gelukkig te wees. Daarom werk ek alleen en doen ek alles self. Ek het ’n ernstige perfeksion­istiese streep en roem my daarop dat my naaldwerk van ’n goeie gehalte is.

Daar kom egter altyd ’n tyd in jou lewe waar jy ’n besluit moet neem om kliënte weg te wys. So moeilik soos dit is (en vir my was), is dit baie belangrik om te weet hoeveel jy kan hanteer, anders gaan iets daaronder ly. Ek aanvaar nooit werk as ek nie my volle aandag daaraan sal kan gee nie.

Ek maak daagliks die besluit om my man en kind nie af te skeep nie.

WATTER RAAD HET JY VIR MA’S WAT IETS WIL AANPAK, MAAR NIE DIE MOED HET NIE? Daar is absoluut niks fout met ’n klein begin nie. Ek glo dat elke mens iets goed kan doen, maar jy moet bereid wees om te probeer.

Nog raad wat ek kan gee, is om vas te byt as jy eers die bal aan die rol het. Veral die begin is nooit maklik nie. En onthou, jy moet gelukkig wees met wat jy doen en genot daaruit put.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa