’n Storie van HOOP
Toe Adèle Hamman in 2015 vir ’n roetineondersoek by ’n internis aanmeld, was sy die oënskynlik gesonde ma van twee kleuters en ’n gelukkige plaasvrou van tussen Tosca en Terra Firma, diep in die Kalahari. Min het sy geweet van die beproewings wat van daar
Adèle en haar man, Francois, is in 2011 getroud. Marius, hul eersteling, is in 2012 gebore en sy sussie, Anelé, in 2013. In hierdie drie besige en gelukkige jare was daar ook hartseer. Adèle het haar ma kort voor haar troue aan kanker afgestaan en moes ook hoor dat haar suster met skildklierkanker gediagnoseer is.
“Gegewe die familiegeskiedenis met kanker wou my pa hê al sy kinders moes sou gou moontlik ’n deeglike ondersoek ondergaan. Daardie dag toe ek by die internis sit, het ek nie eintlik geweet hoekom ek daar is nie. Die dokter het dus maar ’n algemene ondersoek gedoen,” vertel Adèle.
Sy is onder meer vir bloedtoetse en ’n buik-skandering gestuur. Saam met die uitslae het dié diagnose gekom: kanker in haar regternier.
Adèle se nier moes so gou moontlik verwyder word in ’n prosedure wat bekend staan as ’n nefrektomie. Sy en haar uroloog sou dit tydens ’n opvolgbesoek bespreek.
“Met hierdie afspraak het ek genoem dat ek nie ’n voorbehoedmiddel gebruik nie, maar dat ek terselfdertyd nie bewus is van enige swangerskap nie. Om veilig te wees, het ons ’n swangerskapsbloedtoets laat doen.”
“Geluk, mevrou Hamman. Jy is swanger.” Hierdie woorde van haar ginekoloog ’n dag later het haar allesbehalwe opgewonde gestem.
“My moed het in my skoene gesak. Ek is pas met nierkanker gediagnoseer en nou was ek swanger. Hoekom moet so baie dinge gelyk met my gebeur?”
Vir die Hammans was daar egter nie tyd om te veel te tob nie.
“Weens die erns van die kanker en ’n sterk familiegeskiedenis moes ons dadelik besluite neem. Op Lentedag 2015 is my regternier verwyder. In daardie stadium was ek ses weke swanger.”
Hoewel Francois en Adèle altyd ’n derde baba wou hê, was hierdie baba nie beplan nie.
“Ons is voor die operasie goed voorberei deur my ginekoloog en uroloog dat die nefrektomie (wat in Adèle se geval ’n algehele verwydering van haar nier behels het) ’n baie groot skok vir my liggaam sou wees en dat daar dus ’n kans was dat ek die baba sou verloor. “Dit was ’n donker tyd, vertel Adèle. Behalwe vir die swangerskap en die swaard van kanker wat oor haar kop gehang het, het dit ook nie goed gegaan op die plaas nie weens ’n uitgerekte droogte. “Ek moes sterk wees vir Francois en ons kindertjies vrolik hou. Ek het baie aande omgehuil en baie vrae gehad. Here, wat nog? was my pleitvraag.”
En tog het sy in die dae voor die groot operasie en minute voor die prosedure in die teatersaal ál duideliker bewus geword van ’n Godgegewe belofte aan haar: “Wees stil en weet Ek is die Heer.” Adèle se aanvanklike skok oor die swangerskap en vrees vir die gevolge van kanker het verander namate sy meer en meer aan hierdie belofte begin vasklou het.
“Ek het ’n ongelooflike dokter gehad wat al die implikasies van die nefrektomie baie mooi aan my verduidelik het. Dit het gehelp dat ek kon rustig raak en op die operasie kon fokus.” Dit was nou een ding op ’n slag vir haar: Eers die nefrektomie en dan die swangerskap.
Ná die suksesvolle verwydering van haar nier moes Adèle twee dae in die hoësorgeenheid bly. Die wonderwerk het begin ontvou toe sy terug was in die gewone saal en haar uroloog ’n sonar kon doen. Reeds toe het sy geweet dat sy baie gebloei het tydens die operasie en daar dus ’n moontlikheid was dat sy die baba kon verloor het.
“In die rolstoel op pad na die uroloog se spreekkamer was ek ontsettend gespanne. Dit is toé dat ek besef het my fokus het nou verskuif van die kankergeveg na my swangerskap.
“’Dit is ’n absolute wonderwerk dat hierdie kleine mensie lewe,’ was die dokter se woorde aan my toe hy sien die baba het die operasie oorleef.”