NOOIT GEKRUIP
My kind is sewe jaar oud en het as baba nooit handeviervoet gekruip nie. Ek weet nie of ek spoke opjaag nie, maar dit lyk of iets met sy hand-oog-koördinasie skeel. Hy het ook laaste gekom in die naellope by die skool en vaar nie te goed in balsport nie. Sal arbeidsterapie help? Of is dit net in die gene?
LIZANNE DU PLESSIS ANTWOORD:
Oog-hand-koördinasie (of hand-oog-koördinasie) is nodig vir ’n verskeidenheid daaglikse aktiwiteite. As kinders daarmee sukkel, kom ons gewoonlik agter dat hulle sekere take vermy of klaerig is as hulle dit moet uitvoer omdat daardie takies inspanning vereis en die kind soms voel hy misluk daarmee.
Probleme met hand-oog-koördinasie is dikwels aangebore, maar soms ontwikkel dit ook as gevolg van onderliggende toestande, soos wanneer ’n kind nie genoeg blootgestel word aan speletjies en aktiwiteite wat die ontwikkeling van koördinasie stimuleer nie.
Die hand-oog-koördinasie wat geverg word deur ’n slimfoon, ’n tablet- of videospeletjies is beperk en onnatuurlik en vaardigheid daarmee dui dus nie op goeie hand-oog-koördinasie nie.
As jou kind ’n hand-oog-koördinasie-probleem het, sal jy waarskynlik die volgende agterkom: • Hy staan terug as dit kom by deelname aan
sport, veral waar ’n bal en raket betrokke is.
• Hy vind dit moeilik om ’n goeie postuur te behou wanneer hy by ’n tafel of op die mat sit. Hy laat rus gewoonlik sy kop op sy arm of lê op die grond en speel. • Jou kind vermy fyn motoriese aktiwiteite soos
ryg, uitknip en inkleur. Legkaarte word vermy. • Hy vind dit moeilik om hom self aan te trek, knope vas te maak en skoene aan te trek. Probleme met hand-oog-koördinasie kan aangepak word deur die groot motoriese en fyn motoriese spiere van die liggaam en veral die hande en oë te versterk.
’n Arbeidsterapeut sal die omvang van die probleem kan bepaal wanneer sy hom evalueer, asook die moontlike oorsaak. Sy sal vasstel of dit van so ’n aard is dat ingryping nodig is en indien wel, in watter mate.
Soms is ’n tuisprogram en idees vir aktiwiteite by die huis genoeg. Ander kere word ’n intensiewe terapieprogram aanbeveel wat gewoonlik uit een tot twee sessies per week bestaan. Dit sluit uitdagende maar prettige aktiwiteite of speletjies in.