Baba & Kleuter

BANG vir SKOOL

As die opgewonden­heid omgesit het in angs, moet jy inspring en jou nuwe graad 1’tjie help om haar vrees vir die grootskool te oorkom.

- DEUR NIA VISAGIE

Vir maande al is dit al waaroor julle praat ... Sussie gaan volgende jaar grootskool toe! Maar namate die Groot Dag nader kruip, begin sy elke keer as julle daaroor praat bleek om die kiewe lyk. Nie eens die nuwe uniform in die kas maak haar meer opgewonde nie.

En toe kom sy een aand met ’n maagpyn en die waarheid vorendag: Sy is eintlik dóódbang vir die nuwe skool.

Want wat as haar nuwe juffrou kwaai is? Of as niemand met haar wil speel nie? Om nie eens te praat oor die moontlikhe­id van groot kinders wat haar kan boelie nie!

Toemaar, jou kind se vrese vir graad 1 is heeltemal normaal. Dink maar aan die kere toe jý by ’n splinternu­we werk moes instap – en verdubbel daardie skrikkerig­heid met tien. Hoe jy bewerig aan almal voorgestel is en hoe bang jy was jy maak op dag een al ’n gek van jouself!

Gelukkig is daar heelwat wat jy kan doen om jou kind se vrees vir haar nuwe skool te besweer.

MAANDE VOORAF

Kinders wat al ’n ope of bekendstel­lingsdag by die nuwe skool bygewoon het, voel op die eerste dag minder vreemd. Sy kan haar klaskamer sien, dikwels haar juffrou ontmoet en sommer ook agterkom waar die speelgrond, toilette, snoepie en skoolsaal is. Maak beslis tyd om die dag by te woon as die skool julle nooi, al moet jy by die werk verlof vra.

Wys in die maand voor die skool begin vir jou kind foto’s in die koerant van skoolprest­eerders en ry gereeld by die skool verby. Gesels met haar oor al die positiewe dinge by die skool, soos die netjiese speelterre­in, die naskoolse aktiwiteit­e en hoe mooi almal in hul uniform lyk.

As daar nog tyd is, woon ’n skoolaktiw­iteit by soos ’n kermis, konsert, atletiekby­eenkoms of Kerskonser­t. Dit sal haar op haar eerste dag baie veiliger in die nuwe omgewing laat voel as sy al daar was en positiewe assosiasie­s het.

Maak seker dat jou spruit al deeglik met prenteboek­e, kleurpotlo­de, storieboek­e, skêre, papier en gom te doen gehad het voor sy grootskool toe gaan. Wanneer die groot dag aanbreek, sal dit haar selfbeeld so ’n klein hupstootji­e gee as sy weet hoe om dit te gebruik.

EK EN MY JUFFROU

Van die dag dat jou kleinding haar voet in haar nuwe skool sit, kry jy ’n vennoot in haar opvoeding by. Van nou af gaan Juffrou ’n baie groot rol in haar lewe speel.

Moenie vir Juffrou kritiseer waar jou kind dit kan hoor nie. Moet haar ook nie met die nuwe juffrou dreig nie. (“Wag maar, jou juffrou sal jou beslis maniere leer!” of “Wat gaan jou juffrou sê as sy weet jy is so stout by die huis?”) Jy maak haar dalk onnodiglik bang vir die juffrou saam met wie sy ’n jaar moet deurbring.

’n Kind wat gewoond is aan ’n roetine tuis, pas baie makliker by ’n nuwe, vreemde skoolomgew­ing aan. En ja, as jou meisiekind in haar lewe nog nooit aan dissipline blootgeste­l was nie, gaan sy beslis ’n bietjie swaarder as haar klasmaatji­es kry.

VERANDERIN­G IS SWAAR

Elke kind en ouer se rustige bestaan word noodwendig ’n bietjie omvergewer­p as Sussie die eerste keer skool toe begin gaan. Die juffrou, die klaskamer en die maatjies word nou deel van jou kleinding se nuwe, groter wêreld en vir party kinders is dit moeiliker as vir ander.

Dis dus ’n goeie plan om ’n bietjie strenger op jul roetine tuis te fokus, want dit skep ’n gevoel van geborgenhe­id. Geen kind kan ’n lang dag suksesvol aanpak as sy nie die vorige aand goed geslaap het nie. Stel ’n gereelde slaaptyd vas en sorg vir ’n voedsame ontbyt voor skool. Hou by dié goeie gewoontes. ’n Honger kind kan nie rustig en ontspanne in die klaskamer werk nie.

Neem jou kind saam as julle vir haar ’n kosblik gaan uitsoek en sorg dat daar ’n broodjie, ’n sappie en ’n vrug in haar blik gepak is. Iets so klein soos haar gunsteling-smeergoed op ’n broodjie kan troos as sy verwese voel. En veral kleintjies is kwaai op hul kosblikkie­s ingestel. Spaar jou kind liewer ’n geterg deur nié haar broodjies in ’n ou botterof roomysbak te gee nie.

Stiptelikh­eid op daardie heel eerste dag is baie belangrik. As julle laat by die skool opdaag, kan alles vir Sussie nog meer traumaties wees.

Koop ook betyds skoolklere en maak seker sy voel gemaklik daarin. Skoene wat drie nommers te groot of klein is, gaan jou kind net nog ongemaklik­er laat voel.

Moenie die afskeid te lank uitrek nie. Jou kind voel jou angstighei­d aan en dit maak háár ook gespanne.

Teen die tyd dat jou kleinding die grootskool betree, moet sy beheer oor haar blaas hê. Stel jou die angs en vernederin­g voor as sy ’n glipsie kry! Maak seker sy weet waar die toilet is en dat sy nie verleë hoef te voel om toestemmin­g vir kamerverla­at te vra nie.

Prakseer ’n poppekas en doen rollespel – dit sal haar selfvertro­ue opkikker. Verbeel julle dat julle in die klaskamer is met jou as die juffrou en ander maatjies. Laat haar oefen om hand op te steek en te vra of sy toilet toe mag gaan.

Gesels so dikwels moontlik in die vakansie met jou kind oor haar nuwe skool. Vra haar wat haar vrese en verwagting­e is. As sy net oor haar vrese praat, het sy hulle klaar halfpad besweer.

Jou kleinding moet weet jy is simpatiek en ondersteun­end. En bowenal dat haar voorbehoud­e oor hierdie wonderlike nuwe wêreld wat voorlê, heeltemal normaal is.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa