Baba & Kleuter

MA’S HET SUPERMAGTE

-

Ek word sommer vies as ek hoor dat iemand van haarself sê “ek is net ’n ma.” Nee maggies, die woord “net” hoort nie naby die woord ma nie; daarvoor is die rol wat ’n ma in haar kinders se lewe speel darem te belangrik.

Dit begin al by swangerska­p. Staan net ’n oomblik stil en verwonder jou daaraan dat jy in 40 kort weke ’n volledige ander mens maak! Dis verbystere­nd. En borsvoedin­g? Ewe ongeloofli­k. Jy kan ’n ander wesetjie perfek aan die lewe hou met iets wat jou lyf sommer so vanself maak.

Ma’s se superkragt­e hou ook nie op by die lyflike dinge nie. Ek het my onlangs verwonder aan hoeveel mag in my blik opgesluit lê. Laat ek verduideli­k ...

Emily is nou 11 en het besluit sy wil die Midmarmyl swem. Die skool het ’n vorm gestuur. Om haar plek in die span te verseker moet ons vinnig invul en terugstuur, vertel sy met sprankelen­de ogies en trots in haar stem. Toe ruïneer ek alles.

“Dis 1,6 km! Ek dink nie jy kan so ver swem nie – jy’s net ’n kind!” Haar lippie het begin bewe.

Ek was regtig vies vir die skool. Hulle moes dit eers met die ouers bespreek het! Die probleem was, wat ek van swem af weet kan jy in een sin opsom: Chad lyk mooi sonder sy hemp. Dis al. Ek weet nóg minder van oopwatersw­em.

Ek moes Emily paai en later die aand google ek om meer te lees oor dié saak waarvan ek niks weet nie. Ek sien toe dat kinders van haar ouderdom wél die Midmarmyl swem en ek kry toe sommer ook ’n oefenprogr­am vir haar ouderdom. Van die instruksie­s op die oefenprogr­am moes ek ook google ... My kind sit nie voet in daai dam sonder ordentlike voorbereid­ing nie!

Ons eerste sessie by die gim gaan goed. Die kind kan swem, hoor! Maar sy vererg haar, want my verraste gesig is vir haar ’n belediging. Haar ma moes mos geweet het sy kan so ver swem! Nou is ek weer té entoesiast­ies en dit irriteer haar. Die tweede oefensessi­e gaan minder goed en met die derde sessie hou sy sommer halfpad op, maak nie saak wat dié ma- coach sê nie.

Ons los die geoefen toe, maar gaan doen een Sondag as gesin ’n pret-swem van 500 m in oop water. Emily swem ons almal weg. Selfs haar pa. (Ek sien sy kry lekker, maar bly maar stil want ek het mos my les geleer.)

Later die dag lê sy haar eie oefenreëls neer. Sy wil nie google se program volg nie. Ons moet vir haar sê hoeveel lengtes by die gim 1,6 km is en dan sal sy dit elke keer swem. Ons stem in en ek vra of ek by die huis kan bly terwyl sy oefen. Nee. Ek moet by die swembad sit. Ek moet vir haar kyk, haar lengtes tel, maar ek moet niks sê nie. Dit is dus wat ons nou doen.

Elke keer as sy aan die ver kant omdraai kyk sy stip na my en ek rig my blik op haar gesiggie tot sy weer aan die rand voor my raak. Met die laaste paar hale beloon sy my met ’n klein glimlaggie voor sy weer omdraai vir die volgende lengte. Dan kyk ek weer na haar agterkop wat in en uit die water beweeg.

Terwyl ek daar sit en stadig tot 64 tel, het ek besef hoe belangrik my blik vir haar is. Al motivering wat sy wil hê, is dat ek vir haar kyk. Ek moenie coach nie, ek moenie inmeng nie, maar ek moet kýk. Ek moet ook glo dat sy self ’n ding kan deurvoer. Op háár manier.

My oë gaan hard werk om haar op 12 Februarie tussen die swemmende skares in daardie reusagtige dam uit te ken, en dan gaan my blik stip op haar bly tot sy uitstap. Ek gaan verseker die hele tyd my asem ophou. Ek gaan alles moet uithaal om nie ’n bohaai te maak of ’n traan te pink nie, want my dogtertjie word voor my oë groot en dis ’n voorreg om dit te kan aanskou.

Hou asseblief vir ons duimvas!

Tot volgende maand

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa