WAT ’N DRAMA
Ag, as ek terugdink, kry ek nog hoendervleis tot by my kleintoontjie, maar nou, nege maande later, het ons geleer om daaroor te glimlag. Kom ek vertel julle. Ek kuier in Januarie 2016 ’n bietjie by my ouers op ’n baie klein plattelandse dorpie. Ek was sewe maande swanger met my seuntjie en was 120 km van my hospitaal en ginekoloog af. Dinsdag 26 Januarie sê my ma sy voel ek moet my tassie regkry en ons gaan koop al my laaste nodige goedjies. Woensdag 27 Januarie 2016 word ek wakker en is vol energie! Geen pyn, geen naarheid, niks nie. Almal gaan werk en ek maak my gemaklik voor die TV. Net ná 09:00 begin ek pyn voel. Dit word erger en ek besluit om my ma te bel. Sy maak vir my ’n afspraak by die plaaslike suster. Daar gekom, sê die suster ek gaan binnekort begin kraam en moet liewer hospitaal toe. Ek is na my ma se huis om te gaan inpak, maar die pyn is later so erg dat ek nie meer kan regop staan nie.
My ma bied toe aan om my hospitaal toe te neem en omtrent 20 km voor ons bestemming is my kontraksies 30 sekondes uitmekaar. My ma het nog nooit in haar lewe so vinnig gery nie en ek was nog nooit so bang nie – nie vir die spoed of kraam nie, maar vir die lewe van my kind. Daar was vir niks tyd nie en daardie middag het ek om 12:50 op 32 weke die lewe geskenk aan ’n seuntjie wat 1,9 kg weeg.
Hy is dadelik in die neonatale intensiewesorgeenheid (NISE) opgeneem en my hart was stukkend. Hy moes suurstof kry en ’n klomp ander pypies is aan hom gekoppel. Ons kon hom ’n week later vir die eerste keer vashou. Ná vier lang weke is hy uiteindelik ontslaan.
Nou is hy ’n ster en weeg op nege maande oud al ’n volle 10 kg. Ek dink nie ek kan genoeg dankie sê vir die dokters en NISE- susters nie. Julle doen ongelooflike werk. Baie dankie.