Baba & Kleuter

EENDERS & anders

Kinders word darem vinnig groot. Elkeen met sy eie persoonlik­heid. Vra vir Jaco – hy het twee.

-

Ai, hulle word darem so vinnig groot. Dis seker een van die clichés wat ouers van jong kinders die heel meeste hoor. En soos die meeste clichés is dit waar.

Dit voel soos net nou die dag nog dat hulle babas was. Mia ’n stewige 3,42 kg toe sy gebore is; premature Emma ’n asempie van skaars 1,9 kg toe sy huis toe gekom het. Nou is Mia vyf en Emma word later vanjaar drie, en ek staan partykeer verstom as ek besef hulle het reg voor ons oë in twee dogtertjie­s verander. Elkeen met ’n eie persoonlik­heid.

En hulle mag dalk dieselfde blonde hare en blou oë hê, maar daardie persoonlik­hede verskil reeds duidelik.

Mia se gunsteling­kleur is pers; Emma gaan tans deur ’n pienk fase.

Mia hou van Paw Patrol, Lego Friends, rympies, rokke, inkleur, verf en haar rekenaar; Emma hou van Barbie, Frozen, storieboek­e, diere, lipstiffie en buite speel.

Mia is die versigtige een. Dit het baie oorreding gekos om haar te oortuig klimrame en glyplanke is veronderst­el om pret te wees.

Al ons pogings om haar vir swemlesse te neem, het in trane geëindig. (Mia s’n, maar haar ma was later naby.) Nie eens die swemtannie wat oplaas by ons huis in ons eie swembad vir haar kom les gee het, kon haar oortuig swem is iets wat mense behoort te doen nie – sy is doodtevred­e om op TV te kyk hoe Disney se Little Mermaid dit doen, dankie. Tot dusver het haar pa die meeste sukses gehad om haar in die swembad te kry, maar die meeste van die tyd verkies sy dit om veilig te bly. “Nee, dankie, ek sit sommer hier op die trappie. Dis vir my vrééslik lekker hier.”

Sy het ook eers onlangs besluit sy is dapper genoeg om fiets te ry. Selfs daardie klein swart skopfietsi­es het haar kleintyd nie juis aangestaan nie.

Emma, aan die ander kant, is ’n regte klein rabbedoe, en daar is min dinge waarvoor sy nie kans sien nie. Sy kon nog skaars loop, toe vang ek haar al waar sy byna dakhoogte teen die klimraam uitklouter.

Anders as haar sussie is sy mal oor water. In die somer kan sy nie wag om smiddae te gaan swem nie. “Sy gaan versúip!” het Mia met groot oortuiging verklaar die eerste keer toe sy sien hoe Emma haar kop onder die water druk en laggend te voorskyn kom.

Op ’n fiets is Emma lankal tuis.

Mia het op ses maande al begin praat – en nooit weer opgehou nie. Toe sy 18 maande oud was, kon sy al party van haar prenteboek­e van voor tot agter uit haar kop opsê, die alfabetlie­djie sing en in Afrikaans én Engels tot 10 tel.

Emma, weer, was glad nie haastig om te begin praat nie. Sy was doodtevred­e om te beduie wat sy soek en haar ousus die praatwerk te laat doen. Deesdae praat sy wel ’n hond uit ’n bos en tel sy darem al tot so 20 – hoewel sy weier om die bestaan van die syfer ses te erken. Die enigste liedjie wat sy graag uit haar eie sing, is “Eendjies, eendjies, staan in ’n ry” – en dit is nogal ’n uitdaging om nie uit te bars van die lag wanneer sy by “reguit dam toe, kwaak, kwaak, kwaak” kom nie, want sy sukkel nog ’n bietjie met die w-klank ...

Mia gril haar dood vir modder. Los vir Emma vyf minute buite en haar ma sukkel ’n week lank om die vlekke uit haar nuwe rok te kry.

Mia eet nie sampioene nie; Emma sit nie haar mond aan tuna nie.

Mia hou van die Spur; Emma verkies McDonald’s.

En daar gaan nie ’n dag verby dat hulle nie soos kat en hond baklei nie.

Maar tog, as hulle op ’n vreemde plek of tussen ander kinders is, hou ek hulle partykeer ongemerk dop. Dan word Mia die liefdevoll­e ouer sussie wat haar oor Emma ontferm, vir haar nuwe dinge wys, saam met haar speel, haar hand vashou en dadelik kom sê as iets fout is. Maak nie saak hoeveel hulle verskil nie. Mia hou van Emma. En Emma hou van Mia.

En ek kan soms steeds nie glo hoe bevoorreg ek en Elize is nie, om twee sulke unieke persoonlik­hede in ons huis te hê en hulle te sien grootword.

‘Sy gaan versúip!’ het Mia met groot oortuiging verklaar toe Emma haar kop onder die water druk.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa