WASHINGTON DC
Vivian Watts, sy Amerikaanse vrou, Jenna, en hul dogtertjie woon ’n klipgooi van die VSA se hoofstad af in ’n omgewing wat bruis van opwinding en stimulasie.
Ek is oorspronklik van Stellenbosch en Jenna het naby New York grootgeword. Nadat ons in Kalifornië studeer het, het ons vier jaar in Suid-Afrika gewoon. In Oktober 2007 het ons ons in Noord-Virginia kom vestig, sowat 20 km van Washington DC af.
In 2009 het ons ’n meenthuis in Springfield, Virginia, gekoop en ons dogter Natalie is in 2011 gebore. Ek besit ’n onderneming wat onderdele vir laboratoriuminstrumentasie voorsien en Jenna werk vir die US Patent and Trademark Office.
Kind grootmaak in Amerika is net so uitdagend as op enige ander plek. Meer gegoede gesinne het oppassers of au pairs wat ’n fortuin kos. Net die superrykes kan huiswerkers bekostig. ’n Mens moet dus maar self wasgoed was, stryk, kos maak en die huis skoon hou. Terselfdertyd moet jy werk en kinders by die skool, sport en ander aktiwiteite uitkry.
Soos ander groot stede in Amerika is die Washington DC-omgewing duur en baie gesinne het twee broodwinners. Omdat ons 17 km van die Pentagon af woon en daar ook ’n reuse weermagbasis naby ons is, is hier duisende gesinne met ’n militêre ouer. Die meeste van hulle het een ouer wat nie hoef te werk nie omdat hul woonplek gesubsidieer word. Baie van ons dogter se maatjies het ’n pa in die Marines of Army en dus ’n ma wat maatjies na playdates kan neem.
Die nadeel is egter dat militêre gesinne feit- lik almal elke twee jaar verplaas word en dat daar dus gereeld van maatjies afskeid geneem moet word.
Die DC-metropool (wat Noord-Virginia en ’n deel van die deelstaat Maryland insluit) is egter ’n fantastiese en groen plek met dosyne parke, woude, geteerde paadjies vir stap of fietsry, fantastiese speelterreine en kultuur soos konserte en die wêreldbekende Smithsonian-museums, almal 20 minute se ry van ons huis af. Wat Suid-Afrikaners eerste opval is dat daar bome is net waar ’n mens kyk. Meestal is dit ook baie veilig met uiters min misdaad.
Ons beskou ons as baie bevoorreg om ons dogter in so ’n opwindende, stimulerende plek groot te maak maar smag tog soms na ’n stiller, rustiger bestaan, en dalk ’n groter huis verder buite die voorstede. Die verkeer is iets ysliks met miljoene motors in die metropool. Die weer is minder ekstreem as elders in die land maar ons kry tog sneeu en die winter is aansienlik kouer as in Suid-Afrika. Somerweer is dikwels baie bedompig en warm, amper soos in die Laeveld.
Amerika is in vele opsigte soos SuidAfrika, met soortgelyke tradisies, smake en tydverdrywe. Sport is groot, mense hou van vleisbraai en see toe gaan, TV kyk en fliek.
Amerika is selfs meer van ’n reënboognasie as Suid-Afrika, met mense wat van oor die wêreld heen hierheen kom om ’n nuwe lewe te begin.
Dis ’n reuse land met 330 miljoen mense en verskil geweldig van plek tot plek. Hier in die Washington DC-metropool is buurte met groot getalle Koreane, Viëtnamese, Duitsers, Afgane, Chinese en Indiërs, om net ’n paar te noem. In sekere buurte pryk Viëtnamees, Spaans of Thai-skrif op die vensters. Ons kan dus tussen talle cuisines kies en keur wanneer ons gaan uiteet!
Ons county het besonder baie parke, reservate en plekke waar kinders en volwassenes kan ontspan. Veral in stedelike gebiede word daar baie klem gelê op groen dele, natuurbewaring in die vorm van reservate en plekke waar mense kan stap, hardloop of fietsry. Daar is groen gordels in die voorstede waar die natuur nog gedy te midde van al die residensiële ontwikkeling. Reg agter ons huis is ’n bos met ’n stroompie en ons sien dikwels bokke, jakkalse en selfs af en toe ’n slang!
Ek wil afsluit met ’n paar gedagtes oor hoe dit is om so lank so ver van Suid-Afrika te woon. Die aanpassing kan baie groot wees, veral vir gesinne wat met ouer kinders die land verlaat. Die aanpassing is waarskynlik nie vir almal ewe groot nie en verskil van mens tot mens. Party mense pas eenvoudig makliker by ander kulture en omgewings aan as ander.
’n Mens mis maar jou land, kos en taal, maar hier woon baie ander Suid-Afrikaners ook, en heelwat Suid-Afrikaanse kositems is vryelik op die internet of in spesialiteitswinkels beskikbaar. Foonoproepe is onbeperk met die meeste foonlyne en dis dus altyd moontlik om na hartelus met familie en vriende in Suid-Afrika te gesels. Die mens is ’n baie aanpasbare wese en die meeste SuidAfrikaners hier van wie ek weet mis hul land, maar is tog baie gelukkig.