Baba & Kleuter

VIER KEER VERRAS!

Toe hulle hoor hulle verwag twee identiese tweelinge, kon Jean en Tracy du Plessis net lag. En vandag lag hulle steeds (meestal).

- BABA & KLEUTER DEUR SHANDA LUYT

“Die dokter se gesig was kosbaar. Hy het ’n paar keer op die sonar gekyk en toe weer gekyk asof hy nie wou glo wat hy sien nie. Ek het vir hom gesê: ‘Sê net vir my ek het verkeerd gesien.’ En Jean vra waaroor ons praat, want hy verstaan niks nie. Toe sê ons vir hom: ‘Daar is vier!’ Ons het net vir mekaar gekyk en gelag! Daar is nie woorde vir so iets nie!”

Tracy du Plessis lag lekker as sy daardie oomblik in die dokter se spreekkame­r onthou.

Agt jaar lank het die paartjie van Brackenfel­l in Kaapstad swanger probeer raak, maar tevergeefs. Hulle het uiteindeli­k in vitro-bevrugting ondergaan en twee embrio’s is ingeplant. Maar toe Tracy daardie dag dokter toe gaan, het sy iets vreemds sien: Pleks van twee hartkloppi­es was daar vier! Albei die ingeplante embrio’s het verdeel om twee identiese tweelinge te vorm.

Die swangerska­p het sy uitdagings gehad: Op 14 weke was daar vrese vir ’n dreigende miskraam en Tracy is op bedrus geplaas tot die vier se geboorte op 30 weke.

Die kleingoed was ná hul geboorte 71 dae lank in die neonatale intensiewe eenheid. “Dit was ’n baie moeilike tyd met baie wipplank-emosies. Jy kan nie verstaan hoekom jou kinders daar moet bly nie en daardie eerste paar weke spring jy op as die monitors net ’n geluid maak. Ek wil daardie tyd nooit weer oorhê nie ...”

Maar, sê Tracy, haar dogtertjie­s het gewys hoe sterk hulle is en dat hulle vegtertjie­s is.

As ons al vier klaar gevoed het, was daar ’n blaaskans van ’n halfuur – en dan het alles weer van voor af begin!

OORWELDIGE­NDE EERSTE DAE TUIS

Toe die groot dag aanbreek en hulle die viertjies huis toe kon neem, was hulle baie opgewonde, al het dit onwerklik gevoel, vertel Tracy.

“Dit het eers ingesink toe hulle sê ons moet begin regmaak en moet uit die kamer uit: Jean was so bekommerd toe ons hul naampies afhaal, want wat as ons hulle deurmekaar laat raak? Ons het vir hulle huistoegaa­n-kleertjies aangetrek en dit met ’n1, 2, 3 en 4 gemerk, ’n nommer vir elke naam.”

Die eerste aand tuis het hulle gelukkig hulp gehad, onthou Tracy. Hulle was aanvanklik vol vertroue dat hulle die viertjies bedags en oor naweke alleen sou kon hanteer, met ekstra hulp net op weeknagte.

“Ons was dom genoeg om te glo ons kon dit doen,” lag Tracy, “maar ná die eerste twee naweke het dit net nie weer gebeur nie!”

Sy onthou die oorweldige­nde tyd met ’n breë glimlag. “Jean het uiteindeli­k een keer op die kinders se vloer aan die slaap geraak. Toe ruil ons om en ek raak op die vloer aan die slaap! Jy sit en voer baba, maar jou oë is toe en jy slaap. Jy hoop net die kind drink die bottel.”

Hulle was al gekonfyt met die doekruiler­y teen die tyd dat die vierling uit die hospitaal ontslaan is, maar die spannetjie het baie tyd nodig gehad om hul bottel te drink en teen die tyd dat hulle klaar was met al vier voedings, het hulle net ’n halfuur gaping gehad voor hulle weer van voor af moes begin.

“In daardie tyd moes jy bottels was, sterilisee­r en dan moes jy weer begin voed! Dit was rof! Ná daardie naweek sê Jean: ‘Nooit weer nie!’ ”

Van toe af het hulle naweke ook iemand gekry om snags te help sodat hulle net ’n bietjie kon slaap, vertel Tracy.

“Of ten minste sodat pa kon slaap. Ek het steeds uitgemelk sodat ek vir hulle borsmelk kon gee, maar dit was belangrik om iemand daar te hê sodat ek ook net iewers ’n bietjie rus kon inkry.”

Die vierling het borsmelk gedrink tot hulle ’n jaar oud was. “Ek het hulle in die hospitaal probeer borsvoed, maar hulle was baie klein en het baie moeg geword, en ons wou hulle graag by die huis hê.

“Toe het ek besluit om uit te melk en dit het ek ’n jaar lank gedoen. Ek het vir omtrent vier maande van daardie jaar een formulebot­tel as aanvulling gegee; die res was borsmelk. Jean het gespot ek is ’n melkkoei, maar dit het baie gehelp.

“Ek het ’n elektriese borspomp gehuur en dit het my melkvoorra­ad tot 2,5 liter per dag laat styg .”

PRAGTIGE PEUTERS

Die tyd het vinniger verbygevli­eg as wat sy gedink het en die vierling is nou al woelige peuters. Tracy vertel sy probeer soveel moontlik gedoen kry terwyl hulle slaap.

“Party dinge moet jy maar net laat gaan. Die idee dat jy altyd ’n skoon huis sal hê, bestaan nie. Jy moet vrede met sulke goed maak.”

Sy vertel elkeen van die vierling het ’n baie unieke persoonlik­heid.

“Grace het die regte naam gekry, want ’n mens het grace vir haar nodig!” vertel Tracy laggend. “Sy het ’n willetjie wat skrik vir niks. Hannah is ons dametjie – ’n regte dogtertjie-dogtertjie en eintlik baie snaaks. Sy is die een wat altyd sal sê ‘eina’ tot mamma beter soen.

“Isabella is die kleinste, maar ’n regte waaghals. Sy staan vir niemand terug nie. En Jane is ons rustige enetjie, die maklike een wat saam met die stroom vloei.”

Die vierstuks kom uitstekend oor die weg, sê Tracy. “Vanaand weer het hulle op en af in die gang gehardloop terwyl hulle mekaar se hande vashou.”

Tog sal hulle partykeer in groepies van twee verdeel. “By die huis is die paartjies (die twee wat identies lyk) meestal bymekaar. Tensy daar kattekwaad aangevang word; dan is die meer spontane tweetjies gewoonlik bymekaar en ek het die twee wat op hul eie tevrede is. Interessan­t genoeg het elke paartjie een spontane meisietjie en een wat rustiger is.”

Sy lag as ek vra of sy en Jean ooit deurmekaar raak met wie wie is. “Deesdae gebeur dit meer! Hulle begin ál meer na mekaar lyk, veral van agter af. Dis darem net ’n tydelike verwarring: Sodra ons hulle van voor af sien, weet ons wie is wie.”

En ja, sê sy, sy trek hulle soms eenders aan – terwyl sy nog kan.

“Dis vir my lekker en prakties werk dit beter wanneer ons uitgaan, want dan weet ek waarna ek soek as iets sou gebeur. In hierdie stadium lyk dit asof hulle dit nog geniet om dieselfde klere aan te trek en hulle sal selfs vra om dit te doen. Maar as hulle nie meer wil eenders aantrek nie, sal ons dit respekteer.”

Die vierling is heeltyds by die huis, want sy is nog nie reg om hulle te laat gaan nie, sê Tracy.

“Maar ek weet die tyd kom en ons sal volgende jaar na ’n speelskool­tjie begin kyk.”

Soos met die meeste tuisblyma’s is daar dae wat sy oorweldig voel, erken sy. “Dan huil jy, want jy voel jy kan nie meer nie. Maar dan staan hulle in die oggend op en gee jou daardie glimlag of kom in die gang afgehardlo­op om vir jou ’n drukkie te gee, en alles is weer beter.

“As ’n ma moet jy jou maar opoffer. Die mens wat jy was, gaan nooit weer bestaan nie. Maar ek het nou uiteindeli­k alles wat ek nog altyd wou gehad het: my groot familie en vier pragtige, gesonde kinders.

“Daar is nie woorde vir hoe mooi hulle vir my is nie. Ek het my feëverhaal-einde gekry!”

 ??  ?? Jean en Tracy du Plessis se harte is vol. Die vierling is nou twee jaar oud en van links is Hannah, Jane, Grace en Isabella.
Jean en Tracy du Plessis se harte is vol. Die vierling is nou twee jaar oud en van links is Hannah, Jane, Grace en Isabella.
 ??  ?? Die viertjies dra meestal dieselfde klere, want dit maak uitgaan makliker en veiliger.
Die viertjies dra meestal dieselfde klere, want dit maak uitgaan makliker en veiliger.
 ??  ?? Pa Jean se arms is nooit leeg nie.
Pa Jean se arms is nooit leeg nie.
 ??  ?? Soms laat ’n mens almal sommer oor jou klim, sê ma Tracy.
Soms laat ’n mens almal sommer oor jou klim, sê ma Tracy.
 ??  ?? Die sussies is mekaar se beste maatjies.
Die sussies is mekaar se beste maatjies.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa