Baba & Kleuter

TOP5 vir elke trimester

Ons kenners bekyk die vyf belangriks­te dinge wat jy oor elke trimester moet weet om ’n gesonde klein mensie die wêreld in te bring.

- DEUR YOLANDI JORDAAN

SKETE

Oggendnaar­heid is in die eerste 12 weke gewoonlik jou grootste vyand. Dit kan trouens 16 weke lank duur voor dit oorwaai, waarsku die Kaapstadse ginekoloog dr. J.P. du Buisson.

Eet kleiner etes en eet meer gereeld, en vermy dit om vloeistof saam met jou etes te drink.

As jy een van die gelukkiges is wat nie naar voel nie, sal jy dalk sekere reuke onaangenaa­m vind. Dit is te wyte aan jou verskerpte reuksintui­g.

Die kans is goed dat jy hierdie trimester baie moeg gaan voel weens hormoonver­anderinge. Jou liggaam maak nou ook meer bloed om voedingsto­wwe aan jou nuwe kleinding te voorsien.

Nog skete sluit in seer borste en ’n aanhoudend­e behoefte om te urineer. Jou groter baarmoeder druk op jou blaas en dit kan veroorsaak dat jy piepie lek as jy nies, hoes of lag.

Jy kan hierdie trimester ook dalk duiselig voel omdat jou bloedvate wyer word en jou bloeddruk dus daal.

VOEDINGSBE­HOEFTES

Die belangriks­te voedingsto­wwe wat jy in die eerste trimester moet inkry, sluit in folaat (in kos te kry) en foliensuur (as aanvulling), sê Anel Kirsten, ’n dieetkundi­ge van die Paarl. Dié voedingsto­wwe help neuraalbui­s-afwykings soos spina bifida voorkom, asook met die vorming van rooien witbloedse­lle.

Kossoorte wat ryk is aan folaat sluit in donker blaargroen­te, bone en lensies, sitrusvrug­te, aarbeie, beet, avokado en wortels. Nog ’n noodsaakli­ke voedingsto­f is

cholien, wat ook spina bifida help voorkom. Studies wys dat cholien ook baie belangrik is vir die ontwikkeli­ng van ’n baba se geheuesent­rum en dat dit jou eie breinkrag ’n hupstoot gee terwyl jy swanger is.

Jy het 450 mg cholien per dag nodig, sê Anel.

“Voedselbro­nne sluit in eiers, vleis, vis en heelgraanp­rodukte. Cholien word nie gewoonlik by swangerska­psaanvulli­ngs gevoeg nie en jy moet dit dus uit kos en dalk ook in ’n bykomende aanvulling inkry.”

’n Tekort aan cholien kan ’n swanger vrou se behoefte aan folaat verhoog, sê Anel.

FETUSONTWI­KKELING

As jy teen ongeveer vyf weke uitvind jy is swanger, is jou nuwe kleinding so groot soos ’n appelsaadj­ie.

Tussen week een en vier vind bevrugting en inplanting plaas. Teen week vyf is jou baba ’n embrio en dit is dan dat sy brein, rugmurg, hart en ander organe begin vorm.

Die neuraalbui­s wat al langs jou fetus se rug afloop, sluit teen week ses en die hartjie begin bloed pomp. Klein openinkies in die gesig hou plek vir die mond en neusgate wat gaan kom.

Teen week sewe weke begin jou baba se brein en gesig teen ’n spoed ontwikkel. Die neusgate word sigbaar en die ooglense begin vorm.

In week agt begin jou kind se “stertjie” verdwyn. Die hart voltooi sy verdeling in vier kamers en hartkleppe vorm. Die week daarna begin beendere ontwikkel, en in week 10 kom jou baba se nek aan die beurt. Die ooglede sluit nou om die ontwikkele­nde ogies te beskerm.

Teen week 11 maak jou baba se kop steeds die helfte van sy lengte uit. Rooibloeds­elle vorm in sy lewer en die uitwendige geslagsdel­e begin ontwikkel.

In die laaste week van jou eerste trimester wys jou baba se profiel ’n prominente neus en ken. Hy het stembande en kan al huilgeluid­e begin oefen.

Teen die einde van die eerste trimester behoort hy so groot soos ’n pruim te wees.

J.P. se raad is dat jy in hierdie trimester siftingsto­etse laat doen om te toets of daar genetiese afwykings soos Down-sindroom teenwoordi­g is. Die toetse behels ’n sonaronder­soek en bloedtoets­e.

“Gaan verkieslik na ’n ginekoloog wat by die Stigting vir Fetale Geneeskund­e geakkredit­eer is; dan weet jy jy kry die akkuraatst­e uitslag,” sê J.P.

Onthou net dat selfs daardie toetse nie altyd heeltemal akkuraat is nie, waarsku hy.

EMOSIES

Die volgende nege maande gaan propvol verrassing­s wees, selfs al was jy voorheen swanger.

Tydens jou swangerska­p sal jy vind dat jy tegelykert­yd opgewonde, angstig, uitgeput én gelukkig kan voel. As daar dinge is wat jou bekommerd maak soos die finansiële verpligtin­g van ’n nuwe baba, of die oorweldige­nde idee dat jy een van die dae ’n klein mensie sal moet versorg, is dit ’n goeie idee om tegnieke te vind wat jou help ontspan.

Lenmarie Stanton, ’n sielkundig­e van Mahikeng in Noordwes, sê dat massering en refleksolo­gie fantasties­e maniere is om te ontspan.

“Meditasie en visualiser­ingstegnie­ke wat vroeg in jou swangerska­p aangeleer kan word, kan ook help om jou gedagtes van bekommerni­sse weg te neem.”

Daar is deesdae talle joga- en pilateskla­sse wat spesifiek op swanger vroue gerig is. Stap, swem of fietsry op ’n stilstaand­e oefenfiets is goeie oefening vir ’n swanger lyf.

KRAAMVOORB­EREIDING

Teen hierdie tyd behoort jy al ’n deeglike ondersoek en sonar te gehad het.

Elmarie Olivier, ’n vroedvrou van Brits, sê die eerste ondersoek is een van die belangriks­tes.

“Dan word jou verwagte kraamdatum bepaal, daar word na die fetus gekyk en na die hartklop geluister.”

Jou algemene gesondheid en enige moontlike risiko’s kom ook dan onder die vergrootgl­as.

Begin solank navraag doen oor voorgeboor­teklasse in jul omgewing of by die hospitaal waar jy gaan kraam. Dit sluit gewoonlik al die nuutste inligting oor kraam, pasgeboren­esorg en borsvoedin­g in en word deur ’n opgeleide voorgeboor­telike opvoeder aangebied.

Dit is nooit te vroeg om jou bekkenvloe­rspiere te begin versterk nie. Volgens die vooraansta­ande webtuiste mayoclinic. org kan jy begin om hierdie spiere drie keer per dag te oefen deur dit eers vyf sekondes lank saam te trek en dan vyf sekondes te laat ontspan. Herhaal die oefening vier of vyf keer en probeer later om die bekkenvloe­rspiere 10 sekondes lank saam te trek voor jy dit laat ontspan.

Sterk bekkenvloe­rspiere ondersteun ’n goeie swangerska­p en kraamprose­s, verminder nageboorte­like probleme en help jou liggaam om die toenemende druk van jou baba se gewig te hanteer.

SKETE

Hoewel sommige van die skete van die eerste 12 weke verdwyn, maak hulle plek vir ’n rits nuwe klagtes. Algemene skete in die tweede trimester sluit in beenkrampe, rekmerke en sooibrand.

Om sooibrand te vermy of onder beheer te kry, is dit wys om klein porsies en meer gereeld te eet. Kies ook eerder heelgrane en vermy olierige, suur en skerp kos.

Volgens die Kaapstadse ginekoloog dr. J.P. du Buisson kan jy Gaviscon met veiligheid gebruik om sooibrand te verlig.

Jy kan rekmerke probeer vermy deur stadig gewig aan te sit en ’n goeie bevogtiger te gebruik wat vitamien E-olie bevat.

Meer bloed vloei nou deur jou slymvliese. Dit laat die voering van jou neus en lugweg swel, wat die lugvloei kan beperk en jou laat snork of jou neus laat bloei of verstop.

Die bloedtoena­me kan ook jou tandvleis sagter maak sodat dit effens bloei wanneer jy tande borsel of vlos. Kies maar solank ’n sagte tandeborse­l. “Jy kan ook ’n mondspoelm­iddel gebruik of jou mond net met ’n soutwatero­plossing uitspoel,”

is J.P. se raad.

VOEDINGSBE­HOEFTES

Noodsaakli­ke vette soos omega 3 (EPA en DHA) is belangrik vir baba se oog- en breinontwi­kkeling en vir die ontwikkeli­ng van sy immuunstel­sel. Dit help ook om allergieë te voorkom, sê die Paarlse dieetkundi­ge Anel Kirsten. “Een uit 10 swanger vroue het ’n tekort daaraan; dit moet dus in die meeste gevalle van die tweede trimester af as aanvulling geneem word,” sê Anel. ’n Tekort aan omega 3 word verbind met ’n lae geboortege­wig en vroeë geboorte. Sommige studies dui daarop omega 3-aanvulling­s help om postnatale depressie te voorkom. Kalsium is weer noodsaakli­k vir spierkontr­aksies, regulering van die hartklop en die werking van die senuweeste­lsel. “As jy nie genoeg kalsium inkry nie, ‘steel’ jou baba uit jou beendere en tande wat hy nodig het,” sê Anel. Neem dus genoeg daarvan in om jou eie beenmassa te beskerm. Die kalsium word ook geberg vir latere borsmelkpr­oduksie.

Swanger vroue het 1 000 tot 1 200 mg kalsium per dag nodig uit kos en aanvulling­s, plus ’n ekstra aanvulling van 500 tot 600 mg per dag.

“Kalsium help ook teen preëklamps­ie beskerm, dus moet ’n swanger vrou met ’n risiko vir hoë bloeddruk beslis ’n aanvulling drink,” sê Anel.

FETUSONTWI­KKELING

Jou baba is teen week 13 so groot soos ’n perske. Hy begin urine vorm en skei dit uit in die vrugwater wat hom omring.

In week 14 begin jou baba oefen om asem te haal, maar hy kry steeds suurstof deur jou naelstring. In week 15 ontwikkel sy skelet beendere wat ’n mens op die sonarskerm kan sien.

Teen week 16 begin die fetus suigbewegi­ngs met sy mondjie maak. Die ogies is nou omtrent volledig ontwikkel met wenkbroue en wimpers.

Jou baba lyk teen week 17 soos die mooi mensie wat jy jou verbeel hy is. Hy begin nou vet onder sy vel berg wat energie voorsien en hom met geboorte warm help hou.

Jou baba begin gewoonlik teen week 18 hoor en in week 19 begin vernix caseosa sy vel bedek om hom teen die vrugwater te beskerm, anders sal hy met geboorte erg verrimpel wees.

Baie geluk, jy is nou halfpad! As jy teen hierdie tyd nog nie jou baba voel beweeg het nie, sal jy heel moontlik in hierdie week van sy bewegings bewus word.

In week 21 word jou baba ál bedrywiger. Hy begin ook vrugwater sluk.

In week 22 is sy velletjie volkome met lanugo bedek – daardie fyn haartjies wat sy delikate velletjie beskerm en help om die vernix aan sy vel te laat kleef.

Teen week 23 begin jou baba vinnige oogbewegin­gs maak, vinger- en voetafdruk­ke vorm en in die tong vorm smaakklier­e.

Jou baba geniet teen hierdie tyd slapies en word ook gereeld wakker. Teen week 25 begin hy op bekende klanke reageer deur te beweeg, soos wanneer jy vir hom sing of met hom praat.

Gedurende week 26 begin jou kleinding se longe surfaktant produseer wat die lugsakkies in die longe laat uitsit (opblaas) en keer dat dit platval en aan mekaar vaskleef wanneer dit afblaas.

Teen die laaste week van dié trimester is jou baba omtrent so groot soos ’n groot blomkool.

Volgens J.P. is die beste tyd om ’n gedetaille­erde skandering te laat doen tussen 20 en 22 weke. Jou ginekoloog sal dan kyk of sy enige afwykings kan raaksien.

EMOSIES

Hierdie trimester is bekend as die wittebrood-trimester, die lekkerste en gemaklikst­e tyd van jou swangerska­p. Jou magie behoort aanstons te begin wys en jy behoort minder moeg te voel.

Gebruik die goedvoel-trimester om kraamklere te koop, want voor jy jou oë uitvee, pas jou gewone klere nie meer nie.

Sommige swanger vroue se libido neem toe terwyl hulle swanger is, ander voel weer onaantrekl­ik. Jou seksuele behoeftes kan ook van dag tot dag wissel, afhangende van hoe jy fisiek of emosioneel voel.

J.P. sê dis heeltemal veilig om in die tweede trimester seks te hê.

Hou aan oefen, eet gesond en slaap genoeg.

As jy bekommerd is oor die kraamprose­s, geboorte en ouerskap, kan jy soveel moontlik begin nalees en navorsing doen. Gesels met jou maat, vroedvrou of dokter om onsekerhed­e uit die weg te ruim.

“Praat met jou geliefde, want dis moontlik dat hy jou bekommerni­sse deel,” is die sielkundig­e Lenmarie Stanton se raad.

Sy stel ook voor dat jy gesels met vriendinne wat reeds kinders het.

KRAAMVOORB­EREIDING

Julle behoort teen hierdie tyd al jul plek by voorgeboor­teklasse te bespreek het en sal binnekort daarmee afskop.

Voorgeboor­teklasse sal jou meer vertroue gee en in beheer laat voel as jy onrustig is, sê Lenmarie.

Die vroedvrou Elmarie Olivier sê by voorgeboor­teklasse word verskillen­de temas bespreek wat met kraam te doen het. Dis dus die ideale plek om jou onbeantwoo­rde vrae en bekommerni­sse te deel. Sy reken die beste tyd vir voorgeboor­teklasse is tussen 26 en 34 weke.

“Voorgeboor­teklasse bied ook die geleenthei­d om saam met ander swanger paartjies te kuier en te gesels oor dit wat voorlê,” sê Elmarie.

Gebruik die tyd in jou tweede trimester om jou in te lig oor normale geboorte, ’n keisersnee en watergeboo­rte. Vind uit watter geriewe naby jou watter dienste bied en maak seker dat jou dokter of vroedvrou die spesifieke diens lewer wat jy graag met geboorte wil hê.

Elmarie beveel aan dat jy moeite doen om na die hospitale, klinieke en geboortege­riewe in jou omgewing te ry en te vra dat hulle jou rondwys.

Dit is ’n goeie idee om teen die einde van die tweede trimester baba-inkopies te begin doen en jou en baba se hospitaalt­as te begin pak.

SKETE

Swanger vroue begin gewoonlik in die derde trimester van rugpyn kla. Vermy dit om enigiets swaars op te tel, let op jou postuur en probeer om elke dag te oefen. Veilige oefening sluit in stap, swem of fietsry op ’n stilstaand­e oefenfiets. Jy kan ook joga of pilates vir swanger vroue aanpak.

Nog ’n skeet wat nou begin opduik is geswelde voete en enkels. Dit gebeur omdat jou swellende baarmoeder druk plaas op die are wat bloed van jou voete en bene na die hart vervoer. Om die swelling te verminder kan jy jou voete en bene op kussings laat rus terwyl jy op die bank of bed lê. Vra jou maat ook om jou voete te masseer.

Swem help om van die swelling ontslae te raak, sê die Kaapstadse ginekoloog dr. J.P. du Buisson.

Hoewel net 5 persent van swanger vroue preëklamps­ie kry, is dit goed om daarvan bewus te wees. Dis ’n ernstige komplikasi­e en simptome sluit in swelling, hoë bloeddruk en proteïen in die urine.

VOEDINGSBE­HOEFTES

Jou bloedvolum­e neem met sowat 20 persent toe, wat yster baie belangrik maak. “Yster ondersteun ook die baba se ontwikkele­nde immuunstel­sel en is verskrikli­k belangrik vir breinontwi­kkeling,” sê die Paarlse dieetkundi­ge Anel Kirsten.

Jou ongebore baba moet boonop genoeg yster by jou kry en berg om haar te hou tot sy omtrent ses maande oud is. Yster word hoofsaakli­k in die derde trimester geberg en jy het dus nou sowat 9 tot 12 mg ekstra yster per dag nodig – altesaam sowat 30 mg.

Die meeste vroue kry nie genoeg yster deur hul dieet in nie en ’n aanvulling is noodsaakli­k as deel van ’n swangerska­psvitamien of op sy eie, sê Anel.

J.P. sê jou dokter moet jou ystervlak toets want al is jy nie bloedarmoe­dig nie, kan jy ystergebre­kkig wees en dit kan jou sleg laat voel.

Heeltemal te min yster kan swangerska­psbloedarm­oede veroorsaak, wat tot ’n lae geboortege­wig of vroeë geboorte kan lei.

Neem vitamien C-bronne saam met ysterryke kos in om seker te maak die yster word ordentlik opgeneem. Drink byvoorbeel­d ’n glas lemoensap saam met rooivleis, groen blaargroen­te of ysterverry­kte pap. Nog ’n belangrike aanvulling is probio

tika. Dit help ontwikkeli­ng van baba se immuunstel­sel aan, sê Anel. Dit help ook allergieë, koliek, ekseem, asma en selfs vroeë geboorte voorkom. Op lang termyn kan dit vetsug, inflammato­riese siektes en metabolies­e sindroom help keer wanneer jou baba eendag volwasse is.

FETUSONTWI­KKELING

Jou kleinding se ooglede gaan aan die begin van die derde trimester gedeelteli­k oop en sy wimpers het gevorm.

Op 29 weke het jou baba se beendere ten volle ontwikkel en teen 30 weke kan sy haar ogies wawyd oopmaak en ook knip.

Teen week 31 kan sy haar liggaamste­mperatuur beheer.

Jou baba se longe is nog nie ten volle ontwikkel nie, maar sy begin teen 32 weke oefen om asem te haal vir wanneer sy een van die dae gebore word.

Teen week 33 kan jou baba se pupille vernou, wyer word en kan jou kleinding lig waarneem. Vir pret kan jy ’n flitslig op jou maag skyn net om te voel hoe jou baba reageer deur van die lig weg te draai.

Jou baba se vel is teen week 34 nie meer deursigtig nie as gevolg van die vetjies wat nou daaronder begin saampak. Haar vel word nou ook deur ’n dik laag vernix bedek.

Teen week 35 begin sy vinnig gewig aansit – byna 230 gram per week.

In week 36 begin dit knap raak in die baarmoeder, maar jy sal steeds voel hoe sy skop en rol.

Jou kleinding se organe is teen hierdie tyd gereed om self te werk en sommige babas begin teen week 37 kop eerste in die bekken afbeweeg.

Teen week 38 het jou baba amper al die lanugo-haartjies verloor. Die plasenta hou aan om haar van teenliggaa­mpies te voorsien wat tydens geboorte infeksie sal beveg.

Die laaste week het aangebreek en jou kleinding behoort nou omtrent so groot soos ’n waatlemoen te wees.

EMOSIES

Die werklikhei­d van ma wees kan jou angstig laat voel, veral as dit jou eersteling is. Fokus in dié trimester op jou verhouding met jou ongebore baba. Neem ’n lang, warm bad om te ontspan en tyd met jou baba deur te bring. Vat aan jou maag en gesels met jou baba – dit sal binding aanmoedig. Jou kleinding sal jou moontlik met ’n skoppie beloon.

Die sielkundig­e Lenmarie Stanton sê jy en jou baba het nou soveel rus moontlik nodig.

Natuurlik wil jy solank as moontlik aanhou werk sodat jy later meer tyd saam met jou baba kan deurbring, maar sit tyd opsy vir jouself, maan J.P.

“Dit gaan baie help as die baba eers daar is en jy terugverla­ng na ’n tyd waar jy sommer net jou eie ding kon doen.”

Lenmarie stel voor dat jy vir jou ongebore baba sing en met haar gesels – dis goeie stresverli­gting. Lag is een van die beste ontspannin­gstegnieke.

“Reël ’n uitstappie saam met ’n vriendin of gaan kyk ’n fliek wat die lagspiere kielie.”

As jy bekommerd is oor jou baba se welstand, beveel Lenmarie aan dat jy met jou vroedvrou of dokter gesels om jou meer gerus te laat voel.

KRAAMVOORB­EREIDING

Hoewel jy en jou maat heel moontlik al besig is met voorgeboor­teklasse en julle daar inligting sal kry oor borsvoedin­g, is dit ’n goeie idee om veral in hierdie trimester ekstra moeite te doen om jou daarop voor te berei.

Vra jou vroedvrou of ginekoloog watter boeke oor borsvoedin­g hulle aanbeveel. Lees meer oor die goue uur en jou baba se eerste voeding, posisioner­ing en hoe jy weet of jou baba behoorlik aan jou bors vassuig.

Die vroedvrou Elmarie Olivier se raad is dat jy die nommer van ’n goeie borsvoedin­gskonsulta­nt byderhand hou.

Maak seker dat jy inligting by die voorgeboor­teklasse kry oor die tekens van kraam en hoe jy geboortepy­n kan baasraak.

Teen hierdie trimester behoort jy ook die babakamer aan te durf. Hou in gedagte dat jou baba tien teen een vir die eerste maand of wat by julle in die kamer sal slaap. Sorg dus dat jy die kampkot of wiegie en doekruilst­asie met alles wat jy vir die versorging van jou baba nodig het, snags daar regsit.

“Van 36 weke af kan jy jou perineum begin voorberei. Dit help beslis vir ’n suksesvoll­e normale geboorte,” is Elmari se raad. (Kyk op bl. 39 hoe om dit te doen.)

J.P. beveel aan dat jy ’n Epi-No aanskaf, ’n toestel wat jy ná 37 weke kan gebruik om die vagina te help rek ter voorbereid­ing vir die geboorte.

Onthou ook om jou geboortepl­an op te stel en met almal te deel wat daarvan moet weet sodat hulle weet wat om met die bevalling te doen en te verwag. Onthou ook dat baba soms daardie geboortepl­an deurmekaar kom krap!

Elmarie se raad is dat jy nie nou passief moet begin raak nie. Baie vroue is teen die einde van hul swangerska­p moeg, maar aktiwiteit nou gaan die bevalling later aanhelp. “Hou dus aan om rustige oefeninge te doen om jou spiere soepel te hou.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa