RED ONS VERLOSKUNDIGES
Sukkel jy om ’n ginekoloog te kry wat bereid is om jou baba te verlos? Dís hoekom.
Dit was nog nooit veiliger om ’n baba te hê nie en dit was nog nooit gevaarliker om ’n verloskundige te wees nie.
Só lei dr. Graham Howarth, hoof van geneeskundige dienste by die Mediese Beskermingsvereniging, ’n artikel in wat al in 2013 in die Suid-Afrikaanse Mediese Joernaal (SAMJ) verskyn het. Dis nou meer as drie jaar later, en steeds word die vraag gevra: Wie in die privaat sektor gaan teen 2020 nog bereid wees om babas te vang?
Die vrees om gedagvaar te word weens mediese nalatigheid en die gepaardgaande hoë vrywaringsversekering wat dokters moet betaal, het die afgelope jare daartoe gelei dat talle ginekoloë opgehou het om verloskundiges te wees. As hulle nog swanger pasiënte het, verwys hulle hulle gewoonlik teen omtrent 10 weke na ’n kollega wat nog as verloskundige praktiseer.
Dit lyk ook nie of die situasie gou gaan verbeter nie, veral nie as ’n mens dié syfers in ag neem nie: In 2013 het vrywaringsversekering ’n ginekoloog sowat R180 000 per jaar gekos. Dié bedrag het intussen tot R650 000 per jaar gestyg. Die verwagting is dat dit vanjaar sowat R800 000 sal beloop.
’n Huisdokter betaal sowat R144 000 aan vrywaringsversekering per jaar.
Hierdie skerp styging is volgens dr. Johannes van Waart, voorsitter van die SA Vereniging van Verloskundiges en Ginekoloë (Sasog) die hoofrede waarom tot 80 ginekoloë in 2016 besluit het om verloskunde te laat vaar. “Ons verwag dat die syfer vanjaar ten minste gaan verdubbel,” sê hy.
Daar is net 500 verloskundiges in privaat praktyk in Suid-Afrika. Nog 280 werk in die staatsektor.
Dr. Chris Archer, ook ’n ginekoloog en hoof van die Suid-Afrikaanse privaatpraktykforum wat in 2007 gestig is, bevestig dat die prentjie donker is. Volgens hom is daar in ’n onlangse vraelys aan ginekoloë gevra of hulle dit oorweeg om verloskunde te staak. “Uit die 142 respondente het 105 ‘ja’ geantwoord.”
Die probleem lê nie net by bestaande spesialiste nie. “Nuwe dokters wil ook nie meer in ginekologie spesialiseer nie. Die meeste spesialiste in verloskunde en ginekologie is gemiddeld 55 jaar en ouer,” sê Chris.
Dr. Jaco Strydom, ’n ginekoloog by die Universiteit van die Vrystaat se departement verloskunde en ginekologie, sê hulle het ook agtergekom die aansoeke vir hul opleidingseenheid neem af.
“Ons moet jaarliks ses tot agt poste vul en kry gewoonlik meer as dubbel soveel aansoeke. Vir 2017 se inname het ons net vier aansoeke ontvang.”
Terselfdertyd stel ál meer ginekoloë daarin belang om infertiliteitspesialiste te word, sê Jaco. Hy raai dié toename word ook deur die reusagtige versekeringspre- mies veroorsaak, en dat infertiliteit as ’n spesialisrigting ’n uitkomkans bied vir dokters wat nie meer verloskundiges wil wees nie.
Die gebrek aan ginekoloë gaan die landelike gebiede die swaarste tref, sê kenners, aangesien dit is waar ginekoloë nie genoeg babas vang om hul versekeringskoste te dek nie. Volgens Johannes betaal mediese fondse bykans R4 600 per bevalling uit, terwyl vrywaringsversekering sowat R4 000 per pasiënt kos. Die totale koste van ’n bevalling is volgens Sasog sowat R12 000.
Hoewel pasiënte ’n bybetaling maak om van die ekstra koste te dek, is dit nie genoeg om die ginekoloë se koste te dek nie.
Verloskundiges word infertiliteitspesialiste; plattelandse vroue sal in staatshospitale moet kraam.
WAAROM STYG DIE VERSEKERING SO?
Die dekking van verloskundiges is ’n ingewikkelde veld, sê Graham. Die Mediese Beskermingsvereniging (MBV), waar hy hoof
van geneeskundige dienste is, gebruik omvattende aktuariële ontledings om die ledegeld te bepaal.
“Hoe baie daar in die streek geëis word en hoe groot hierdie eise is, speel ’n groot rol. As die eise en die bedrae wat geëis word toeneem, moet ons ons lidmaatskaptarief verhoog.”
Die soort beserings wat tydens geboorte opgedoen word, is een oorsaak van groot eise. Baie daarvan is neurologiese beserings wat selfs die lewenslange versorging van ’n pasiënt kan vereis.
“Die toename in hierdie soort eis is ’n wêreldwye probleem en maak die prysbepaling van verloskunde-risiko ’n enorme uitdaging,” se Graham, wie se organisasie ook geneeshere beskerm in lande soos Ierland, Hongkong en Bermuda.
Nog ’n kinkel is die tydsverloop van eise. Daar verloop soms ’n dekade tussen die voorval waarvoor die ginekoloog gedagvaar word en die eis – soms meer as 20 jaar. Daarteenoor is die tydsverloop van ander mediese eise gewoonlik nie langer as vyf jaar nie.
“Weens die vertragings ontstaan daar nog meer faktore wat die uiteindelike waarde van die eis kan beïnvloed, soos ’n verandering in wetgewing,” sê Graham.
HET DOKTERS MEER NALATIG GEWORD?
Graham meen nie die toename in eise beteken daar is ’n afname in professionele standaarde nie. Die probleem is meer ingewikkeld en sluit onder meer die gebrek aan ’n goeie pasiënt-gesentreerde klagtestelsel in.
“Baie pasiënte beskou dagvaarding as die enigste werkbare manier om ’n probleem op te los.” Die gebrek aan ’n doeltreffende regsproses en die publiek se groeiende aanspraak op hul regte dra ook by tot meer eise.
WAARVOOR EIS PASIËNTE, EN HOE GEREELD?
Volgens die MBV, wat al byna 60 jaar lank aan dokters in Suid-Afrika ’n diens lewer, beloop die gemiddelde eis teen verloskundiges sowat R30 miljoen. Een onlangse uitbetaling was selfs R80 miljoen.
Regsgedinge teen medici gaan meestal oor sterfte van die ma of baba, geboorteafwykings en chirurgiese beserings wat in die bevalling opgedoen is. Daar is gemiddeld 20 groot eise per jaar waarvan die meeste geskik word, sê Johannes.
Dis egter die toename in die aantal en die grootte van die eise wat premies opjaag eerder as die uitkoms van sake. Die MBV beraam eise het tussen 2009 en 2015 met 27 persent toegeneem.
Johannes – en heelparty ander rolspelers in die huidige krisis – sê prokureurs bemark dikwels hul diens aggressief aan pasiënte wat andersins nooit ’n eis sou oorweeg het nadat iets met ’n geboorte verkeerd geloop het nie.
“Tot 25 persent van die bedrag wat geëis word, word aan die prokureur uitbetaal,” sê Johannes.
WAT BETEKEN DIE KRISIS VIR JOU?
Swanger vroue, veral dié wat ver van groot dorpe of stede bly, sal by staatshospitale moet gaan kraam. Volgens ’n Sasog-beraming moet verloskundiges meer as 20 babas per maand vang om hul vrywaringsversekeringspremie te kan bekostig.
In ander lande gebeur dieselfde as hier – in Ierland is daar byvoorbeeld geen verloskundiges in privaat praktyk oor nie – maar in daardie lande is daar gewoonlik net ’n baie klein verskil tussen die gehalte van versorging in die privaat en staatsektor.
Dieselfde kan nie altyd van Suid-Afrika gesê word nie.
“Epidurale pynverligting tydens normale kraam is byvoorbeeld heeltemal anders in die staatsektor as in privaat praktyk,” sê Johannes.
(Eise word ook in die staatsektor ingestel, maar dan is dit die staat se probleem en nie die individuele dokter s’n nie.)
Johannes raai voornemende ouers aan om seker te maak hul mediese fonds sal genoeg vir ’n bevalling betaal – met ander woorde, ’n bedrag wat vir jou ginekoloog finansieel sin maak. Vra hom of haar gerus daaroor uit.
Dit is ewe belangrik dat mense behoorlike gesinsbeplanning doen, meen Johannes. Jy moet weet dat kraam jou ’n klomp geld uit die sak gaan jaag en dus goed daarvoor beplan.
BETEKEN DIT MEER WERK VIR VROEDVROUE EN HUISDOKTERS?
Elgonda Bekker, president van die organisasie van vroedvroue in Suid-Afrika, sê die huidige krisis vang vroedvroue ook sleg.
“Vroedvroue met ’n onafhanklike praktyk is afhanklik van samewerking met ’n verloskundige, veral in die geval van swangerskappe met ’n effens hoër risiko. Die balans is nie meer daar nie en uiteindelik is dit die ma en haar baba wat die prys gaan betaal.”
Vrywaringsversekering vir vroedvroue is egter aansienlik laer as dié van verloskundiges.
Wat huisdokters betref, lyk die prentjie min of meer dieselfde. Volgens Chris is dit meestal plattelandse huisdokters wat verloskunde as ’n diens bied. Dokters in stede behartig selde bevallings.
Huisdokters hoef nie heeltemal so baie soos ginekoloë vir versekering op te dok nie, want hulle word meestal nie gedagvaar nie omdat hulle hul hoërisiko-pasiënte na ginekoloë verwys.
“As huisdokters in die toekoms meer babas gaan vang, sal die probleem van buitengewoon hoë vrywaringsversekeringspremies mettertyd ook hulle s’n word,” sê Chris.
IS DAAR HOOP?
Die situasie in Suid-Afrika kan nog beredder word met die hulp van die minister van gesondheid en maatreëls soos Sasog se Better-Obs-program, sê Johannes.
Die Better-Obs-program bevorder veiliger bevallings.
“’n Deel van die oplossing lê ook by ons, die verloskundiges,” sê hy.
“Verloskundiges kan nie hul hande in onskuld was nie. Daar ís nalatigheid. Juis daarom is ’n program soos Better-Obs ontwikkel om verloskundiges te help om uit mekaar se foute te leer en verantwoordelikheid te aanvaar vir foute wat gemaak word.
“Better Obs wil ook ’n protokol daarstel om ginekoloë te help met gevalle waar daar komplikasies was. Die uiteindelike doel is natuurlik om die voorkoms van nalatigheid te verminder.” Die MBO beywer hom weer vir ’n pasiënt-gesentreerde klagtestelsel in Suid-Afrika, sê Graham. Ouers sal hul klagte daar kan gaan lê sodat dit opgelos kan word voor hulle dagvaar.
“Dit sal ’n groot verskil maak as so ’n stelsel in Suid-Afrika geïmplementeer kan word,” voorspel Graham.
Sasog hoop dat ons gesondheidsminister, dr. Aaron Motsoaledi, sal ingryp deur onder meer ’n beperking te stel op die bedrag wat weens nalatigheid geëis kan word. Sasog vra ’n maksimum van R30 tot R40 miljoen.
Hulle hoop ook dat die regering Sasog se voorgestelde bemiddelingskomitee sal steun. Dié komitee wil ’n onafhanklike derde party (wat ook ’n geneeskundige is) by ’n potensiële eis betrek voor die verloskundige strafregtelik vervolg word.
Die doel is om vas te stel of daar werklik nalatigheid was voor al die regskoste aangegaan en die dokter se naam deur die modder gesleep word.
“Dit gebeur te veel dat daar nooit eintlik ’n saak was nie,” sê Johannes.
“Ons hoop ook dat mediese fondse en privaat hospitaalgroepe sal toetree tot die gesprekke om ’n oplossing te vind.”