BOU BABA SE BREIN
Jou baba se brein gaan nooit weer so baie groei en verander soos in die eerste lewensjaar nie. Hoe haal jy die meeste uit hierdie tyd?
Die linkerkant van die brein beheer positiewe emosies en die regterkant negatiewe emosies.
Sorgsaam toegevou en beskut in ’n beskermende holte sit hierdie magtige en kragtige, maar terselfdertyd weerlose orgaan: die brein; in baie opsigte die meesterstuk van die Skepping.
Want hoewel baie mense geneig is om aan die brein te dink as net die setel van verstand, is dit veel meer. Jou kind se brein beheer sy hele lewe: van sy emosies tot sy motoriese vaardighede, taalontwikkeling, verbeelding en sosiale vaardighede.
Jou kind se brein bestaan uit baie verskillende dele, elk met sy eie funksies. By die meeste mense is die linkerkant van die grootbrein verantwoordelik vir taalvermoë (skryf en praat) en positiewe emosies soos vreugde. Die regterkant beheer weer ruimtelike vermoë (om ’n kaart te lees, afstand te skat en vorms te herken) sowel as negatiewe emosies.
Die regterkant van die brein beheer die linkerkant van die lyf en andersom. Jou kind se bewegings word deur nog ’n breindeel, die serebellum of kleinbrein, beheer en ander dele van die brein is weer verantwoordelik vir dinge soos kreatiwiteit en abstrakte denke of emosies.
Elk van jou kind se breingedeeltes “spesialiseer” dus van geboorte af al in bepaalde rigtings. Maar as een deel beskadig word, het die brein die vermoë om sekere take van die beskadigde deel oor te neem. Hoe jonger jou kind, hoe groter is sy brein se aanpassingsvermoë.
Jou kind se breinontwikkeling is soos ’n wonderwerk wat ontvou en dit begin reeds voor geboorte.
VOOR DIE GEBOORTE
Binne ’n week ná bevrugting ontwikkel breinselle al aan die punt van die embrio en teen ses maande is byna al die nodige senuselle reeds daar. In die laaste drie maande van swangerskap groei en versterk die verbindings tussen hierdie senuselle. Die breinselle stuur en ontvang nou reeds boodskappe oor aanraking, gehoor en beweging en die sintuie van smaak, reuk en sensitiwiteit vir lig ontwikkel ook al in die baarmoeder.
DIE EERSTE JAAR
Die brein is by geboorte die enigste onvoltooide orgaan van die liggaam. Hoewel die meeste breinselle dan reeds gevorm is, moet baie van die paadjies tussen die senuselle nog gevorm en ook verder versterk word. Hoe hierdie paadjies gaan vorm en ontwikkel, hang af van jou pasgebore babatjie se ervarings.
Die dele van baba se brein wat verantwoordelik vir al ons doelbewuste gedag- tes, gevoelens, geheue en doelbewuste aksies, is nog nie goed ontwikkel nie en daarom is hy nou net in staat tot refleksbewegings.
Die deel van die brein wat willekeurige beweging reguleer, ontwikkel ná geboorte letterlik van kop tot toon, met beheer wat eerste in die kop en skouers bereik word, daarna in die arms en lyfspiere en heel laaste in die bene.
Pasgebore babas se brein het ook nog baie min miëlien, en dis een van die hoofredes waarom babas en jong kinders inligting soveel stadiger verwerk as volwassenes.
Namate baba ouer word, ontwikkel verskillende dele van sy brein teen ’n verskillende pas. Jy sal sien dat sekere vaardighede soos fisieke beheer in ’n stadium baie vinnig ontwikkel, terwyl kommunikasievaardighede op ’n ander tyd weer vinniger toeneem.
Hoe ouer jou baba word, hoe meer sal hy ontdek en ’n wye verskeidenheid emosies uitdruk namate die fisieke, verstandelike en emosionele stelsels van sy brein meer volwasse raak.
Op visuele vlak begin jou baba teen twee maande voorwerpe met sy oë volg en daarop fokus. Hy kan nou in kleur sien, diepte waarneem en aanpas by verskillende afstande. Teen drie of vier maande is sy visie soortgelyk aan ’n volwassene s’n.
Jou baba begin in hierdie tyd dit wat hy sien, proe, hoor en voel bymekaar uitbring – dit word sensoriese integrasie genoem.
Tussen ses en 12 maande ontwikkel hy vinnig op alle vlakke en sien jy ’n groot verskil in sy begrip van wat jy sê, bewegings vaardighede, leer vermoë en sosiale interaksie– alles tekens dat sy breintjie besig om heeltyd nuwe verbindings te vorm.
In hierdie tyd sal baba se kop ook vinniger groei as die res van sy lyfie: Binne-in daardie breintjie is biljoene nuwe paadjies met ander selle besig om te vorm. Hierdie paadjies is die sleutel tot
jou kind se fisieke, intellektuele, emosionele en sosiale ontwikkeling.
Jou kind se nuwe vaardighede skep ook nuwe stimulasie geleenthede: Sodra baba begin sit, kan hy hom as ’n onafhanklike wesentjie begin beskou en nuuskierig sy vlerkies sprei om die wêreld om hom te ontdek. Elke nuwe dingetjie wat baba ervaar dra by tot die vestiging van nuwe paadjies in sy brein.
Babas tussen ses en 12 maande volg ’n vaste patroon van bewegings ontwikkeling: Die meeste babas begin teen sewe maande sit, kruip teen nege tot 10 maande, staan en loop terwyl hulle aan meubels vashou teen 10 tot 11 maande en daardie eerste treetjies word teen 12 tot 15 maande gegee.
Hierdie ontwikkeling van motoriese vaardighede hou direk verband met jou kind se ontwikkelende brein.
Tussen nege en 12 maande sal baba ál meer inligting deur sy sintuie inwin wat hy gebruik om die wêreld om hom te interpreteer.
Jou baba kan in hierdie tyd skeidingsangs ontwikkel omdat sy brein hom nou vir die eerste keer in staat stel om te besef dat jy weg is of dat hy iets wil hê en dat dit nie meer daar is nie.