Baba & Kleuter

OMRUIL VAN DAG & NAG

My nuwe baba het dag en nag omgeruil. Hoe kry ons dit weer teruggerui­l?

-

PETRO THAMM

ANTWOORD: Dit is baie normaal dat pasgebore babas dag en nag omruil. Jou baba het nege maande in ’n baie donker baarmoeder deurgebrin­g waar hy kon slaap nes hy wou sonder om te weet dat hy veronderst­el is om snags te slaap en in die dag wakker te wees. Dit kan soms tot 12 weke kos om reg te stel.

Moenie probeer om jou baba vir lang tye deur die dag wakker te hou nie. Pasgeboren­es het baie slaap nodig en dit is normaal dat hulle bedags slaap.

Onthou dat pasgeboren­es se slaap deur honger gereguleer word. Dis dus belangrik om jou baba wakker te maak om te voed, veral in die dag. Hy moet liefs nie langer as drie uur aaneen slaap nie. (Pasgeboren­es het bedags ses tot nege uur slaap nodig.)

Maak jou baba ná drie uur se slaap wakker, voed hom en laat hom weer slaap. As jy sukkel om hom wakker te kry, probeer om hom oop te maak, sy klere uit te trek, sy voete te kielie, sy gesig met jou vinger te vryf of – as jy baie sukkel – sy doek te ruil.

Hou jou baba se slaapomgew­ing bedags so lig as moontlik wanneer hy slaap. Hou die gordyne oop of laat hom op enige plek slaap, of dit nou in die sitkamer, motor of kot is – solank die gordyne oop is.

Maak snags dan weer seker dat die kamer so donker as moontlik bly. Skakel net ’n klein nagliggie aan wanneer jy hom voed.

Moet jou baba nie in die aand stimuleer of geselsies aanknoop nie. Die nag is vir slaap.

Wees gerus, dié gedrag is normaal en net ’n fase wat sal verbygaan.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa