Baba & Kleuter

EET jou kind genoeg? Of dalk te veel?

Vir jou voel dit of jou spruit van lug lewe, maar dan word jy ook weekliks gebombarde­er met statistiek­e oor die oorgewig-epidemie onder kinders. Geen wonder jou kind se eetgewoont­es maak jou angstig nie.

- DEUR NIA VISAGIE

Jou peuter se aptyt ry dramaties wipplank en jy voel byna nooit seker of hy genoeg van die regte kos ingekry het nie. Tog wil jy ook nie hê dat hy te veel van die verkeerde goed eet nie. Hoe moet sy bord dan lyk? Jy gaan sommer baie beter voel as jy weet hoe groot sy porsies moet wees en hoeveel porsies uit die verskillen­de voedselgro­epe hy in die loop van die dag behoort in te neem.

As jy google, sal jy lees dat die gemiddelde tweejarige tussen 4 200 en 5 460 kJ (1 000 en 1 300 kalorieë) per dag nodig het. Maar wat sê dit nou eintlik vir jou? Dis nie moeilik om genoeg kilojoules voor te sit nie – die kuns is om dit op ’n gesonde en gebalansee­rde manier te doen.

WAAR KOM ONS ANGS VANDAAN?

Die gemiddelde tweejarige ís nie ’n groot eter nie. Baie van hulle verkies om eerder deur die dag te pik en peusel as om groot etes op een slag te verorber, maar die meeste van ons ma’s het ’n manier om net aan maaltye te dink as die kos wat tel.

Onthou, jou kind se magie is maar die grootte van sy vuis. Dis ook normaal dat hy begin om sy babavet te verloor en sy lyfie begin meer soos dié van ’n kind lyk. Hy groei nie meer teen die geweldige pas van die eerste jaar nie, en soms eet kinders in hul tweede jaar selfs minder as toe hulle babas was. Dit kan ’n ma baie bekommerd laat voel.

Peuters is ook bedrywiger as babas en om so lank voor ’n bord kos te sit, is net nie meer so interessan­t soos voorheen nie. Die wêreld wag mos om verken te word!

Ander faktore wat ’n rol speel in aptyt is hoe aktief jou kind daardie dag was, of hy tans in ’n groeifase is en of hy moeg of siek was.

Hou dit alles in jou agterkop wanneer jy maaltye beplan of vir jou kind opskep.

Kinders se eetlus neem dramaties af in die kleuterjar­e en hulle eet selfs minder as destyds toe hulle babas was.

HOEVEEL IS GESOND?

Verskuif jou fokus ’n bietjie… Pleks daarvan om jou te bekommer dat jou kind nie genoeg eet nie, probeer eerder daarop fokus dat hy ’n groter verskeiden­heid eet.

Maak dit jou werk om klomp interessan­te gesinskoss­e beskikbaar te stel wat bestaan uit ’n verskeiden­heid groente, vrugte, stysel, proteïene en ’n bietjie vet. Sorg ook vir afwisselin­g deur nie elke dag dieselfde ontbyt en middagete voor te sit nie.

Dis jou kind se taak om te weet hoeveel hy wil eet. Volwassene-porsies is heeltemal te veel. As jy frikkadell­e gemaak het, sal jy en jou man elk twee of drie eet, maar een sal vir jou kind genoeg wees.

So groot soos jou kind se handpalm: Dis wat ’n vleisporsi­e moet wees. Kenners stel voor dat jy volwassene-porsies aanpas sodat jou tweejarige ’n kwart of hoogstens die helfte daarvan eet.

Begin elke maaltyd eers met klein porsies en laat hy eerder vir nog vra as dat jy te veel inskep en maaltye in gevegte ontaard omdat die bord nie leeg kom nie. ’n Reusagtige bord kos kan ’n peuter skoon moedeloos laat voel nog voor hy begin het.

SKEP SOVEEL IN

Daar is gelukkig ’n eenvoudige en maklike manier om seker te maak die kleiner porsies is in die regte verhouding tot die vier hoofvoedse­lgroepe: Verdeel jou peuter se bord in twee gelyke dele. Die een helfte is groente en/of vrugte.

Die ander helfte word weer in twee kwarte opgedeel, waarvan een stysel en die ander proteïen moet wees.

PROTEÏEN

Twee porsies proteïene per dag is genoeg. Dit kan uit bees-, vark- of skaapvleis, hoender, vis of eier bestaan.

Een en ’n half tot twee eetlepels maalvleis of hoender is ’n porsie – ’n koppie bolognaise-vleis is dus heeltemal te veel!

Eiers kan gerus drie keer per week deel uitmaak van jou tweejarige se dieet, maar moet liefs nie ’ n worsie én ’ n eier vir ontbyt voorsit nie; kies net een van die twee.

GROENTE EN VRUGTE

Vyf klein vrugte of groente per dag is genoeg. Dit sluit sap en peuselhapp­ies in wat gerasper, gekap of rou voorgesit word. Vrugtesap moet liefs verdun word en ’n maksimum van 100 ml vrugtesap is genoeg omdat dit net-net meer as ’n vrug verteenwoo­rdig. Water is eintlik ’n beter keuse.

STYSEL EN GRANE

Een porsie stysel saam met elke maaltyd is genoeg. Dit beteken jou tweejarige sal minstens drie porsies stysel per dag inneem, maar stysel kan ook per dag meer wees as dit as ’n peuselhapp­ie voorgesit word. ’n Sny brood is gelykstaan­de aan ’n porsie, so ook twee tot twee en ’n half eetlepels gekookte stysel. By ontbytgran­e hang dit van die soort af, maar ’n goeie algemene riglyn is sowat 20 gram.

SUIWEL

Drie suiwelpors­ies wat melk, jogurt en kaas insluit, is genoeg. Een klein houertjie jogurt is een porsie. Jogurt kan as deel van ’n maaltyd of peuselhapp­ie gegee word. Sowat 20 tot 30 gram kaas is een porsie.

TEL DEUR DIE DAG

Hou jou kind se inname deur die dag dop en as hy saans nie baie honger is nie, maar klaar genoeg van sy porsies in verhouding tot die voedselgro­epe ingeneem het, is ’n jogurt en vrug genoeg vir aandete.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa