STIMULEER & SNOEI
Jou kleuter se brein hou van oefening. Stimuleer reg en haar brein sal ál gladder funksioneer.
Dis veral in die voorskoolse jare dat die ongelooflike menslike brein teen ’n geweldige pas ontwikkel en aanpas. In hierdie tyd kan jy baie doen om seker te maak dat dié “beheersentrum” van jou kind op sy heel beste werk sodat jou spruit sy volle potensiaal kan bereik.
Die brein bestaan uit sowat 100 tot 200 biljoen klein senuselletjies wat inligting bêre en oordra. Tussen hierdie senuselle is daar paadjies waarlangs inligting oorgedra word, byna soos ’n elektriese sein met ’n stroombaan. Die aantal en organisasie van hierdie paadjies beïnvloed alles, van jou kind se vermoë om letters te herken tot sy emosies.
Sy sintuiglike ervarings, beweging, emosionele belewenisse en verstandelike blootstelling sal beïnvloed hoe sy brein ontwikkel. Elke ervaring, of dit nou die eerste keer is dat jou kind ’n seekoei sien of ’n grappie is wat julle deel, stimuleer sekere senu“stroombane”. Die “stroombane” wat gereeld gebruik word, sal versterk word, dié wat selde gebruik word, word weggesnoei. Die wegval van hierdie ongebruikte paadjies klink dalk angswekkend, maar dis eintlik baie belangrik. Want deur die oorbodige verbindings weg te sny, raak die oorblywende verbindings vinniger en meer doeltreffend.
Vir dié paadjies of “stroombane” om regtig goed en vinnig te werk, is nog iets nodig: isolasie, sodat inligting nie langs die pad verlore gaan nie. Dit gebeur deur die proses van miëlinisasie. Miëlien is ’n digte, vetterige stof wat die senuselle isoleer en help om boodskappe vinniger en duideliker oor te dra sodat jou kind inligting uiteindelik vinniger kan verwerk.
5 TOT 7 JAAR
Teen vyf jaar oud is die brein sowat 90 persent van sy volwasse grootte en vind miëlinisasie en ontwikkeling stadiger plaas. Hoewel die eerste drie jaar dikwels beskou word as die venstertydperk vir breinontwikkeling weens die geweldige pas waarteen ontwikkeling plaasvind, beteken dit geensins dat geen verdere breinontwikkeling daarna plaasvind nie, al is die brein nou minder buigsaam as voorheen.
Jou kind word ál beter met dinge wat sensoriese insette van albei hande vereis. As jy nou vir hom ’n growwe stuk papier in die een hand gee en ’n gladde stuk in die ander, kan hy die verskil voel. Sy abstrakte denke en kreatiwiteit kan ook nou ’n hupstoot kry.
In dié tyd vind daar steeds geweldig baie besnoeiing van verbindings plaas en rondom agt tot 10 jaar het ’n kind byna die helfte minder verbindings as in sy eerste lewensjaar – net soveel soos ’n gemiddelde volwassene. Jou kind sal dus ál vinniger op bevele kan begin reageer omdat neurale verwerking vinniger plaasvind.
Die kritieke tyd vir die aanleer van taal begin ook nou tot ’n einde kom en hoe ouer jou kind nou word, hoe moeiliker sal hy dit vind om ’n taal aksentloos aan te leer.
HOE JY KAN HELP
• Lees vir jou kind en laat hom ook “lees”. Dit stimuleer hom op ’n verskeidenheid maniere: Nie net is hy gewoonlik fisiek naby jou nie, maar dit gee ook sy selfbeheer en konsentrasievermoë oefening en stimuleer sy verbeelding.
• Laat jou kind aan sport deelneem en sy balvaardighede ontwikkel.
• Hou konsert en laat jou kind rympies opsê, sing en dans en sy verbeeldingsvlugte uitleef.
BREINSLAGYSTERS
• Gebrek aan stimulasie: Kinders wat grootgeword het in omgewings sonder stimulasie, waar hulle byvoorbeeld bitter min klank, kleur, prente en interaksie ervaar, se brein is kleiner as dié van kinders wat in gelukkige ouerhuise met baie sintuiglike ervarings grootgeword het.
• Wanvoeding: Kinders wat erg ondervoed is weens ’n gebrek aan kilojoules en proteïen in hul dieet – veral in die eerste twee jaar – kan vertraagde breingroei ondervind. Die brein is kleiner as normaal en hulle kan ook gedrags- en verstandelike probleme hê soos stadiger taalontwikkeling en fyn motoriese vaardighede, ’n laer IK en swakker skoolprestasie.
• Loodvergiftiging: Lood, selfs in klein hoeveelhede, is gevaarlik en die simptome daarvan verskyn gewoonlik eers as die kind ses of agt jaar oud is. Dit kan lei tot leerprobleme en selfs permanente breinskade veroorsaak.
• Mishandeling en verwaarlosing: Mishandelde en verwaarloosde kinders wat min aangeraak is, met wie min gepraat is en wat min geleentheid gehad het om te ontdek en eksperimenteer, se brein is gemiddeld 20 tot 30 persent kleiner as die meeste ander kinders van hul ouderdom.
• Blootstelling aan gifstowwe: Vroeë blootstelling aan nikotien, alkohol en dwelms, ook in die baarmoeder, kan ’n vernietigende invloed op die brein hê.
Tussen agt en 10 jaar begin jou kind vinniger op versoeke reageer omdat sy brein die opdragte vinniger kan verwerk.
Jou vyfjarige behoort 11 uur slaap per nag te kry. Sit hom vroeg in die bed. Genoeg slaap is noodsaaklik vir gesonde breinontwikkeling.