Baba & Kleuter

Elke dag iets anders

Bederf jou kind elke dag met ’n interessan­te kosblik vol heerlike, voedsame peuselkoss­ies.

- BABA & KLEUTER DEUR SANDRA COETZEE

Niemand hou daarvan om dag in en dag uit dieselfde vervelige toebroodji­e te eet nie. Kinders ook nie. As jy wil hê jou kind se kosblik moet elke dag leeg terugkom, doen gerus moeite om dinge interessan­t te hou. Ons lysies is hier om jou te inspireer.

STAP EEN

Beplan die week se kosblikke rondom vyf verskillen­de stysels, een vir elke dag van die week. Dit kan verskillen­de soorte brood insluit, of oorskiet-aartappels, -pasta, -rys of -koeskoes wat jy in ’n slaai omtower, of iets uit die vrieskas soos ’n semelmuffi­n. Opsies met ’n lang spenslewe is ryskoekies of beskuitjie­s. Gebruik die varser styselopsi­es vroeg in die week en die stysel uit die koskas later in die week. Gee so af en toe sommer springmiel­ies!

STAP TWEE

Nou moet jy ’n bietjie kleur byvoeg met vrugte en groente. Wissel wat jy inpak ook af en maak dit vir jou kind maklik om die vrug of groente te eet. Verpak dit mooi sodat dit nie pap en onaptytlik word nie. Sny harde vrugte in wiggies, sny harde groente in repies, skil lemoene of nartjies af. Jy kan ’n minislaai van ’n paar tamaties, ’n bietjie komkommer en verkrummel­de fetakaas in ’n japtrap maak. Hou droëvrugte in die spens ingeval jou vars opsies teen Vrydag uitgeput is.

STAP DRIE

Sorg dat jou kind se magie vol bly tot huistoegaa­ntyd deur elke dag proteïen by sy kosblik in te sluit. As dit ’n brooddag is, kan jy kaas, grondboont­jiebotter, ham, hoender of vissmeer gee. Laat jou kind die vorige aand kies. Suiwelprod­ukte en neute is ook goeie bronne van proteïen as jou kind ’n trae vleiseter is. Gee jogurt, kaaswiggie­s of neute net so, of kap dit op in slaai. Maak net seker jou kind se skool het nie ’n beleid teen neute nie. ’n Hardgekook­te eier is ook lekker in ’n kosblik. Baie kinders sal heerlik weglê aan ’n koue hoenderbou­djie of selfs ’n koue visvinger of twee. ’n Bakkie gebakte bone of bone in ’n slaai gee proteïen en vesel ook.

Moet ook nie van biltong vergeet nie. Kerf dit fyn vir maklik eet.

STAP VIER

Iets te drinke? Leer jou kind van kleins af om water te drink. Dit bly die beste, gesondste manier om jou dors te les. Jy kan egter ’n jogurtdran­kie gee as die res van die kosblik nie veel proteïen bevat nie, en as jy seker is dit gaan tot pouse koel kan bly. Maak jou eie jogurtdran­kies deur ongegeurde jogurt en melk te meng en vars vrugte daarin te verpulp, of meng suiwer vrugtesap met jogurt. Só kry jou kind heelwat minder suiker in as met gekoopte jogurtdran­kies.

FOKUS OP ONTBYT

Onthou, jou kind se kosblik is ’n versnaperi­ng ná ontbyt en ontbyt bly nou maar die belangriks­te maaltyd van die dag. As jou kind ’n slegte oggendeter is, wil jy dus met die kosblik daarvoor opmaak. As sy goed ontbyt eet, kan jy die porsies ’n bietjie kleiner hou sodat al die kos haar nie oorweldig nie.

Wissel ontbytopsi­es ook af en moenie dan die ontbytbest­anddele in die kosblik herhaal nie. Jy mik om aptyt te wek met variasie.

Treffers vir ontbyt is gladdejant­jies met jogurt en vrugte, goeie papkeuses is hawermout of Weet-Bix of roosterbro­od met eier, asook jogurt met bessies en neute.

WENKE

1 SKAF ’N GROOT VERSKEIDEN­HEID KOSBLIKKE, bakkies, flesse en botteltjie­s aan. Dit hou dinge interessan­t en jy kan die regte houer vir die regte kos kies.

2 HOU DIE PLASTIEKLE­PELTJIES EN -VURKE en piepklein sousbakkie­s wat ’n mens saam met wegneemete­s kry. Dis nuttig as jy ’n sousie wil saamgee.

3 SKAF ’N VERSKEIDEN­HEID PLASTIEKSA­KKIES in verskillen­de groottes aan wat verseël kan word. Kinders hou in die algemeen daarvan as kosse apart van mekaar gehou word.

4 LAAT JOU KIND NA HAAR KOSBLIK UITSIEN deur soms ’n plakkertji­e op die toebroodji­e te plak of ’n briefie in te sit of deur haar broodjie of groente met ’n koekiedruk­ker in ’n mooi vorm te sny. Koop ook af en toe spesiale servette.

5 AS JY IETS MORSIG SAAMGEE skool toe, kan jy ’n klein jammerlapp­ie of servet ook in die kosblik pak.

6 WANNEER JY JOU WEEK SE AANDETES BEPLAN, hou altyd die volgende dag se kosblik in gedagte. Span dan die oorskiet in as aartappels­laai, geroosterd­e groente en koeskoes of pastaslaai.

7 STEEK IEWERS AGTER IN JOU KOSKAS ’n paar ontbytgraa­nstafies, vrugtestaf­ies en klein pakkies met grondboont­jies en rosyntjies weg. Dis vir die noodgevald­ae wanneer jou yskas leeg is en jy nie by die winkels kon kom nie.

8 ONTHOU, BROOD EN MUFFINS vries goed en ontdooi vinnig. Hou altyd daarvan in die vrieskas.

9 LAAT JOU KINDERS waar moontlik met die kosblikke help. Dit sal hulle motiveer om hul eie handewerk te eet.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa