Baba & Kleuter

My eenkant -kind

’n Introvert is meer as skaam en dis nie altyd maklik om haar in ons ekstrovert­e wêreld groot te maak nie. Haal so die beste uit jou stil, inkennige kind.

- DEUR DANIELLA DE WITT

Tina is ses jaar oud. Sy’s ’n slimkop met ’n omgeehart, maar daar is een ding wat haar ma bekommer: Haar kind sukkel om maats te maak en as sy haar by die skool oplaai, sit sy gewoonlik alleen onder ’n boom.

“Dit breek ’n ma se hart,” vertel Angela (38)* van Durbanvill­e in Kaapstad. “’n Mens wil mos hê jou kind moet gelukkig by die skool wees. Sy speel nie maklik met maatjies nie en word nie eens na klaspartyt­jies genooi nie. Ek het nog altyd maklik vriende gemaak en dis vir my onbegrypli­k dat my kind so anders as ek is. Tina se juffrou sê sy neem aan klasaktiwi­teite deel, maar hou nie eintlik van groepspele­tjies nie. Elke verslag sê dieselfde ding: Sy is ’n dromertjie en woon in haar eie wêreld. Hoe help ek haar om uit haar dop te kruip?”

Die vraag is of Tina net skaam is, of ’n ware introvert, want dié twee beskrywing­s hou nie noodwendig met mekaar verband nie, sê dr. Arina Lanser, ’n opvoedkund­ige sielkundig­e van Strubensva­llei in Roodepoort, Gauteng.

“Skaam impliseer onder meer dat jy bedees, sku, skugter en inkennig is. Die beroemde Switserse psigiater Carl Jung het ’n introvert gedefiniee­r as iemand wat in hom- of haarself gekeer is en wat soms heeltemal onbewus is van wat om hulle aangaan, asook van ander mense se gedagtes en emosies.”

Skaam kinders kan verander, maar introverte verander moeilik in ’n ander persoonlik­heidstipe.

SO TREE INTROVERTE OP

• Hul reaksies is soms onvanpas of hulle

verkies dit om stil te bly. • Hulle onderdruk of verwaarloo­s dikwels hul eie gevoelens en kan emosieloos, afgesonder­d of afgestomp voorkom. • Hulle kan ook koppig, eiesinnig, onbedagsaa­m, stug en selfs verwaand voorkom. • Hulle is meer op hul eie innerlike ingestel as op dinge wat in die wêreld daarbuite aangaan. • Hulle kan begaaf wees en is dikwels

meer tegnies aangelê. • Op hul eie kry hulle meer energie en tus

sen ander verloor hulle energie. • Hulle is geneig om innerlik te fokus en te dink voor hulle antwoorde gee – daar kan dus lang pouses in ’n sin wees. • Hulle het meer dinktyd nodig voor hulle antwoord en wys nie sommer emosie met die hulp van handgebare nie. • Hulle is sku met vreemdelin­ge en in

vreemde situasies. • Hulle kan hulself beter in skrif as met

praat uitdruk.

HOE KAN EK MY KIND HELP?

Gesels gerus met jou kind oor die verskille tussen mense en persoonlik­heidstipes, sê Arina. Gebruik gesinslede en vriende as voorbeelde.

“Laat jou kind potensiële maats identifise­er en nooi hulle oor. Hou jou kind dop terwyl sy met ander speel en verskaf dan later alternatie­we optredes of voorstelle van gedrag as sy ongemaklik gevoel of in ’n konfliksit­uasie beland het.

“Berei jou kind voor op gebeure soos ’n klaspartyt­jie, skoolgesel­ligheid of familiebye­enkoms. Moedig haar aan om basiese reëls na te kom, al is dit moeilik. Gebruik humor en hou die atmosfeer gestruktur­eerd, maar lig en vrolik,” sê Arina.

Identifise­er jou introvertk­ind se belangstel­lings en stokperdji­es en moedig haar aan om maats te maak met kinders wat dieselfde belangstel­lings deel.

“Leer haar oor wen en verloor en realisties­e doelwitste­lling, ook in vriendskap­pe. Berei haar op boelies voor en bemagtig haar om dit te hanteer. Hanteer opsigtelik­e probleme om ’n gespot en geboelie te voorkom.”

HOE DISSIPLINE­ER JY ’N INTROVERT?

Reëls is reëls en is dieselfde vir introverte en ekstrovert­e, maan Arina. Dissipline moet wel vir introverte aangepas word, maar dit hoef nie minder of ligter te wees as vir ekstrovert­e nie.

Introverte kinders moet anders as ekstrovert­e hanteer word, meen Talita Filmer, ’n maatskapli­ke werker van Krugersdor­p aan die Wes-Rand. “Dis belangrik om te let op hoe jy ’n boodskap aan jou kind oordra. Jou stemtoon moet sagter wees omdat introverte kinders sensitief is en maklik kan dink dat jy raas of hulle kritiseer.

“Kies die regte plek en tyd om te dissipline­er en moet hulle liefs nie in die openbaar of voor maats berispe nie. Dis vir hulle vernederen­d.”

Talita sê introverte is sensitief en is goeie lesers van nieverbale gedrag. “Hulle sal sê mamma of Juffrou was kwaai, want sy het haar oë groot gemaak of haar hande was op haar sye. Hulle is oplettend, sien detail raak en floreer as daar reëls en roetine is.

“Hulle hou nie daarvan om foute te maak nie en wil nie hul ouers teleurstel nie. Hulle hou ook niks van konflik of druk nie.”

Volgens Talita moet onderwyser­s ook kyk na die manier waarop hulle introverte in die klas hanteer.

“Introverte kan maklik toeklap en daarom moet onderwyser­s hulle nie eerste vra om voor die klas te praat of te lees nie. Gee hulle kans om emosioneel voor te berei en vra eers twee of drie ander maatjies om te lees of voor te dra.

“Onderwyser­s met harde stemme kan introverte kinders laat voel asof Juffrou altyd raas. Hulle konsentree­r dan so op Juffrou se stemtoon dat hulle nie hoor wat sy sê nie.”

DISSIPLINE­ER HAAR SO

• Introverte kinders wil nie uitgesonde­r word en die aandag op hulle gevestig hê nie. Wees kalm en straf in privaathei­d. • Hulle hou van duidelike opdragte, struk

tuur en voorspelba­arheid. • Hulle moet regverdig gestraf word, maar gee hulle tyd om die verduideli­king van die rede vir straf te oordink en te verwerk. • Hulle behoort spontaan aan sport en kompetisie­s deel te neem, waar wen en verloor hanteer moet word. • Moedig hulle aan om hul emosies in woorde uit te druk of neer te skryf nadat hulle gestraf is en werk dan saam daardeur. • Moet hulle nie dreig of van hul voorregte

ontneem omdat hulle introverte is nie. • Moenie hul persoonlik­heid probeer ver

ander deur hulle om te koop nie. • Hulle moenie gedwing word om aan aktiwiteit­e deel te neem wat hulle nie geniet nie. • Moet hulle nie verneder, hul gevoelens afmaak of grappies met hul introversi­e maak nie. • ’n Oorreaksie deur ouers kan hul introvert

se vertroue in hulle skaad.

PRAKTIESE WENKE

Dié wenke word deur ’n kundige op die webtuiste parents.com gedeel: IN DIE GEMEENSKAP Wys jou kind hoe om ontmoeting­s met ander mense te hanteer. Oefen situasies saam. Groet en gesels met mense in die winkels. Laat sy die kassier betaal of die inkopiesak­kie aanvat. OP DIE SPEELGROND As jou kind met ander maats wil speel, moedig haar aan: “Vat die bal en kyk hoe die ander maats speel. As jy eers ’n bietjie aan hulle gewoond is, kan jy hulle vra of hulle saam met jou bal wil speel.”

BY SPEELAFSPR­AKE Moenie jou introverte kind net by ’n klasmaat se huis aflaai nie. Nooi ’n maatjie na jul huis toe. As hulle ’n paar keer by jou huis gespeel het, kan jy hulle iewers anders heen neem en eers dan na die maatjie se huis. Introverte se selfbeeld kan ook ’n hupstoot kry deur met kleiner kinders te speel, want dit gee hulle die kans om die leier te wees.

BY PARTYTJIES Jy kan nie ’n klein introvert aflaai en dadelik ry nie. Bly eers ’n bietjie en wag tot sy haar voete gevind het. Hou die gastelys kort vir haar eie partytjie.

’N NUWE JAAR, ’N NUWE OMGEWING ...

Dis die begin van die jaar en jou klein introvert begin dalk skool of kleutersko­ol of is in ’n splinternu­we klas. Introverte voel dikwels angstig in nuwe omgewings en tussen nuwe mense.

Wees vroeg by die skool sodat jou kind gemaklik met die omgewing kan raak. Gee haar kans om alles mooi te bekyk, van die stoeltjie en die juffrou tot die badkamer.

Gesels vooraf oor alles wat by die skool voorlê, wat die nuwe roetine behels, watter gevoelens jou kind kan verwag en waaroor sy met die maatjies kan gesels.

Maak dinge lekker met ’n spesiale kosblik of pennesakki­e en verseker jou kind dat jy haar op die regte tyd sal kom haal en daar sal wees as die skool klaar is.

* Skuilnaam

Kinders wat introverte is, moet anders behandel word as ekstrovert­e.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa