Baba & Kleuter

Almal stres saam

Gedink jy is die enigste ouer wat worstel en wroeg? Ons gee raad vir die ses topdinge waaroor alle ouers saam bekommerd is.

- DEUR SANDRA COETZEE

‘ALLES DRAAI OM GELD EN BESITTINGS’

Ons ken seker almal die gevoel van ’n kind wat soebat en smeek om ’n sekere speelding of kledingstu­k omdat sy maatjies dit het. Daar was nog altyd groepdruk en wedywering, maar dis beslis erger vandag as toe ons self klein was.

RAAD:

Dis noodsaakli­k dat jy jou kinders van baie jongs af ’n gesonde waardestel­sel leer. Hulle moet weet dat hulle gelief en oulik is, al is hulle nie die rykste nie. Moenie toegee aan die druk om elke week vir jou kind ’n speelding te koop omdat jy skuldig voel nie. Leer hulle dat geskenke vir spesiale geleenthed­e bedoel is en dat daardie geskenke spesiaal is. Bestee gehaltetyd saam met jou kinders, dan sal hulle dalk beter voel omdat hulle nie al daardie duur goed het nie – dis tog baie lekkerder om saam met ma en pa te verf, mekaar te jaag en te lag as om alleen met ’n duur pop te speel.

‘ONS MOET MEEDING MET TV EN SELFONE’

Selfs klein kindertjie­s sit deesdae ure lank vasgenael voor een of ander skerm en hoe ouer kinders word, hoe meer tyd wil hulle in die virtuele wêreld deurbring. Dit kan soms ’n nuttige “babawagter” wees, maar baie ouers raak gefrustree­rd deur die feit dat hul kinders ál minder speel.

RAAD:

Daar moet streng reëls neergelê word oor die tyd wat kinders voor skerms deurbring. Lei jou kind om ook fantasie speletjies te speel, aktief te wees en met maatjies interaktie­f te wees. Menslike kontak en vrye spel bly die belangriks­te maniere waarop jou kind leer, ontdek en die sosiale reëls aanleer.

‘ONS VOEL GEÏSOLEER’

Ouers voel deesdae dat hulle ál meer geïsoleerd lewe. Veral in stede is daar nie meer waarlik ’n sin van gemeenskap nie – baiekeer ken jy nie eens jou bure nie. Daarby het talle ouers glad nie familie naby nie en mense vertrou mekaar ook nie meer maklik nie.

Dit laat mense met ’n onderligge­nde gevoel van magteloosh­eid, want op wie reken hulle as daar ’n krisis is?

RAAD:

Ouers moet mekaar ondersteun en daardie rol in mekaar se lewe begin vervul. Ons kry almal immers swaar. Stig ’n netwerk van vriende op wie jy kan reken. Kom ooreen om daar te wees vir mekaar. Maak beurte om die kinders skool toe te neem, kuier by mekaar, laat die kinders saamspeel en help mekaar in krisisse. Selfs iets soos om net nou en dan jou kind vir ’n uur by ’n vriendin te los sodat jy dokter toe kan gaan, help al baie. Doen moeite om jou bure te leer ken.

‘ ’N ONVEILIGE WÊRELD’

Misdaad is oral aan die toeneem – dis nie uniek aan Suid-Afrika nie. Julle woon in ’n fort en jy hoor van kinders wat ontvoer en gemolestee­r word. Dit maak ouers angstig, want hulle voel hulle kan hul kinders nie meer vrylik laat speel nie en ook nie alleen laat by mense wat hulle selfs goed ken nie.

RAAD:

Moenie agter geslote deure lewe nie. Vind alternatie­we soos om by ouer- en-kind-speelgroep­ies aan te sluit, naweke op veilige plekke in die natuur te gaan stap en jou kinders in die parkie te laat fietsry terwyl jy toekyk.

Moenie jou vrese aan jou kinders oordra nie, maar maak seker dat hulle basiese veiligheid­sreëls ken.

Laat jou kind gekoester wees in ’n kring van vriende en familie deur lekker saam te kuier. Jou kind moet ook baie tyd kry om vrylik buite te speel. Wees jy net daar om toesig te hou.

‘SKOLE PLAAS TE VEEL DRUK OP ONS KINDERS’

Ouers wêreldwyd voel dat daar deesdae te veel druk op kinders in skole geplaas word – veral in kleutersko­le en die laer grade van die laerskool. Terwyl dit ’n tyd is waarin kinders nog meer moet speel, voel ouers die aanslag is heeltemal te akademies.

RAAD:

’n Mens hoor al meer van laerskole wat besluit om huiswerk heeltemal af te skaf. Die kinders se enigste huiswerk is om te lees. As jy voel jou kind kry te veel druk en dat daar te veel op akademiese sake gehamer word, gaan spreek gerus die onderwyser­es of skoolhoof. Dalk kan ’n drukgroepi­e van ouers die skool se huiswerkbe­leid verander.

‘ONS VOEL VERSKEUR’

Al ooit gevoel jy moet jou middeldeur skeur om alles gedoen te kry? Veral ma’s met ’n heeltydse werk voel die druk geweldig. Die moderne samelewing verg van die ma om haar in twee te skeur – sy moet ’n suksesvoll­e werker én ’n suksesvoll­e ma wees (en natuurlik vrou ook). Ouers is uitgeput weens al die druk.

Volgens ’n opname wat Baba & Kleuter onlangs gedoen het, werk 78 persent van ons lesers. Ons sê nie die lewe van ’n tuisblyma is maklik nie, maar ’n werkgewer plaas bykomende druk op ’n mens. Hoewel pa’s deesdae meer betrokke is as ’n paar generasies gelede, rus die grootste verantwoor­delikheid steeds op ma’s wat betref die huishoudel­ike take en versorging van die kinders.

RAAD:

Wat jou beter kan laat voel is ’n belegging in die beste dagsorg wat julle kan bekostig, en ’n gesprek met jou man oor jul werklading tuis. Gee jouself toestemmin­g dat jou huis nie altyd perfek hoef te wees nie en leer hoe om vir sekere dinge nee te sê.

As jou werk dit enigsins moontlik maak, gesels met jou baas oor buigsame ure, al is dit net dat jy nie elke dag in die verkeer tydmors nie. Met tegnologie kan ’n mens mos op enige plek werk.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa