Baba & Kleuter

HARDLYWIGH­EID & AAMBEIE

-

Ek is 27 weke swanger. Help my asseblief met raad vir hardlywigh­eid en aambeie. En moet asseblief nie net sê eet vesel en drink water nie. Ek het pille of iets nodig, ook vir verligting.

DR. J.P. DU BUISSON ANTWOORD:

Aambeie ontstaan as gevolg van oormatige uitsetting van die bloedvate om die anus. Die bloedvate is normaalweg daar en het ’n baie belangrike funksie deurdat dit help om jou knyper normaal te laat werk. Dit help ook dat jy kan onderskei tussen windjies wat ’n mens soms kan laat glip en ander dinge wat nie moet glip nie. As gevolg van die vergrote baarmoeder wat op die bloedvate in die bekken druk, kan die aambeie abnormaal groot raak en dis waar jou probleme begin. As die aambei dan uitpeul kan daar van die slym of stoelgang uitlek wat tot anale irritasie lei en dan jeuk dit.

Jy moet probeer voorkom dat die aambeie vererger deur jou stoelgang sag te hou deur genoeg vesel en water in te neem. As dit nie werk nie, kan jy Movicol of laktulose gebruik om te sorg dat die stoelgang sag bly.

Jy moet dit ook vermy om lank te sit, veral op die toilet, om te keer dat die aambeie kans kry om uit te peul as hulle met bloed vul. As hulle begin uitpeuleri­g raak kan jy ys as ’n koue kompres gebruik om te help keer dat hulle groot raak. Jy kan ook Anusol- of Scheriproc­t-setpille gebruik om te help met die swelling en jeukerighe­id. Scheriproc­t bevat steroïed en moet liefs deur jou dokter voorgeskry­f en nie langer as sewe dae gebruik word nie. Jy kan ook babavogdoe­kies gebruik om mee af te vee sodat jy in al die hoekies en voutjies kan bykom.

Chirurgies­e behandelin­g is nie aangedui nie omdat die aambeie ná die swangerska­p sal verbeter. In jou geval is voorsorg dus beter as nasorg!

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa