Baba & Kleuter

HOE MOET EK MYLPALE BENADER?

-

Die belangriks­te ding om te onthou is dat jul klein babatjie gebore is voor hy heeltemal gereed daarvoor was. Daarom het hy eintlik twee geboorteda­tums: sy chronologi­ese geboorteda­tum, wat die dag is waarop hy gebore is, en sy biologiese geboorteda­tum. Hierdie datum is die dag wanneer hy eintlik die wêreld moes ingekom het en word ook sy gekorrigee­rde ouderdom genoem.

As jou baba dus drie maande te vroeg gebore is, is sy biologiese of gekorrigee­rde ouderdom wanneer julle drie maande later huis toe gaan eintlik pasgebore, maar sy chronologi­ese ouderdom is reeds drie maande.

Dit beteken jul baba gaan nie noodwendig op dieselfde tyd as sy maatjies dieselfde mylpale bereik nie. Daarom moet julle hom in sy eerste twee lewensjare kans gee om teen sy eie pas die tyd in te haal wat sy maatjies langer in die baarmoeder kon deurbring en rustig en veilig kon ontwikkel.

Dit kan ook wees dat jul kleinding die “agterstand” so vinnig inhaal dat hy saam met of selfs vinniger as maatjies van sy ouderdom groei en ontwikkel.

Vroeggebor­e babas se ontwikkeli­ng hang dikwels saam met die oorsake vir vroeë geboorte. Dit lyk byvoorbeel­d of babas wie se ma vroeër die lewe geskenk het weens preëklamps­ie dikwels sterker is as dié wat vroeg gebore is weens siekte of infeksie.

Omdat elke kind so uniek is, is dit in elk geval moeilik om presiese mylpale te bepaal. Die beste is om jou baba fyn dop te hou sonder om oorangstig te raak, maar moet ook nie wag tot dit te laat is voor julle profession­ele raad inwin nie.

Hoe vroeër enige probleme geïdentifi­seer word, hoe beter. Neem jou baba op vier, agt en 12 maande chronologi­ese ouderdom vir ’n volledige ondersoek na jou pediater of prembaba-spesialis om te bepaal of hy bevredigen­d ontwikkel. Baie kundiges raai jou ook aan om baba van drie of ses maande af vir fisio- of arbeidster­apie te neem om enige moontlike probleme te ondervang.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa