Baba & Kleuter

WAT VAN ’N TWEEDE TAAL?

-

Ál meer Afrikaanse ouers wil hê hul kinders moet ’n tweede taal – gewoonlik Engels – vlot en aksentloos praat. Die redenasie is hoe vroeër hulle begin, hoe makliker.

Heila Jordaan, een van Suid-Afrika se voorste kenners van tweetaligh­eid, sê die beste manier om jou kind te help om ’n tweede taal tuis te leer, is om haar dikwels die geleenthei­d te gee om met iemand wat die taal goed praat, te kommunikee­r.

“Die besluit om ’n kind tweetalig groot te maak, sal net slaag as daar volgehoue, konsekwent­e blootstell­ing van ’n goeie gehalte aan albei tale is. Kinders leer nie ’n taal as ’n mens nie dikwels en op hulle vlak met hulle kommunikee­r nie.”

En, beklemtoon sy, die kind moet nie geleer word nie, maar mee gesels word!

Sy sê blootstell­ing kan vanaf babadae geskied; ouers hoef nie te wag tot op ’n sekere ouderdom nie.

Heila sê dis nie nodig om jou kind in ’n anderstali­ge skool te sit om sy tweede taal goed te vestig nie. “Maar jy kan as jy wil. As jy volhou om jou eie taal tuis te praat, sal die kind ten volle tweetalig anderkant uitkom.”

In so ’n geval, sê sy, moet ouers verseker dat die kind wel ook in sy eerste taal lees en skryf. “Dis makliker as die eerste taal ook as vak by die skool aangebied word.”

Dit kan aanvanklik ’n jaar of twee duur voor die kind op dieselfde vlak is as kinders wat in hul eie taal skoolgaan.

As jy en jou man nie dieselfde moedertaal het nie, sê Heila dat albei gereeld met hulle kind praat en ook ewe veel in albei tale praat. “As dit nie moontlik is nie, moet hulle onthou dat die kind die taal waarin die meeste met haar gepraat word, die beste sal leer.”

Daar is geen bewys dat kinders nie twee tale gelyk kan leer nie, sê Heila. Dis dus nie nodig dat die kind eers in een taal vaardig is voor ’n tweede geleer word nie. “Ouers moet egter seker maak dat hulle gereeld in albei tale met hul kind gesels, boekies in albei tale lees en albei tale stimuleer.”

Wanneer die ouers met mekaar praat in ’n taal wat nie een van hulle se moedertaal is nie – soos wanneer die ma Afrikaans is, die pa Duits en hulle praat Engels met mekaar – het Heila die volgende raad: “’n Ma moet liefs met haar kind in haar eie taal praat. Hulle kan dan kies watter ander taal hulle die kind wil laat leer. Om prakties te wees, sal dit seker die taal wees wat hulle albei goed kan praat soos Engels, maar die pa kan ook met sy kind Duits praat. Al die tale hoef nie gelyk te kom nie.”

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa