Slimkop van die speelkamer
Speel is ’n baba se werk! Hier is die topspeletjies en -speelgoed in sy eerste twee jaar.
Selfs die eenvoudigste speletjies help jou baba om vinniger bewus te raak van jou, homself en die omgewing om hom. Ons wys jou watter speletjies en speelgoed die beste resultate gaan oplewer in elke fase van ontwikkeling.
6 TOT 12 MAANDE
Sodra Boetie op sy eie kan sit, word die speletjie-moontlikhede soveel groter. Hy kan self begin reik na speelgoed wat hom interesseer en boonop alles wat lekker lyk, in sy mondjie druk!
Gee vir hom verskillende voorwerpe met verskillende teksture om aan te voel en laat hom ook toe om aan nie-giftige voorwerpe te proe.
’n Bakkie met water kan vir net soveel pret sorg, maar sorg dat jy áltyd daar is om toesig te hou. Onthou, ’n baba van hierdie ouderdom kan selfs in ’n hondebak se water verdrink.
Jy sal agterkom dat jou baba in hierdie stadium al meer daarvan begin hou om rowwer en aktiewer te speel. Tel hom hoog in die lug op of wip hom op en af op jou knie.
Sodra jou baba hier teen nege maande begin kruip, sal hy alles wil ondersoek wat op sy vlak is. Gee hom speelgoed wat kan beweeg, soos iets wat hy agter hom kan aantrek of wat vorentoe rol as hy daaraan stamp.
In hierdie stadium kan selfs die onwaarskynlikste voorwerpe vir hope pret sorg, soos jou Tupperware-kas of selfs ’n paar kastrolle en lepels!
Tot jou groot frustrasie sal Boetman ook oorsaaklikheid begin uittoets – dis noú dat hy begin om goed van sy eetstoeltjie af te gooi. Daar is mos niks so lekker as om te sien hoe mamma elke keer afbuk en dit weer optel nie! BESTE SPEELGOED VIR 6 TOT 12 MAANDE • Groot plastiekboublokke • Speelgoed wat op mekaar gestapel word • Groot speelgoedmotors • Speelgoed wat verskillende geluide maak • Eenvoudige musiekinstrumente • Hardebandboekies met prentjies
12 TOT 18 MAANDE
Teen dié tyd is jou baba baie bewus van al die verskillende teksture om hom. Hy wil aan alles vat, sien hoe dit van vorm verander en hoor watter geluide dit kan maak as hy dit druk en gooi en smeer.
Dis nou die tyd om jou kleinding aan verf, klei, deeg, modder en skuim bekend te stel, want dit sal boonop help om sy tassin, handoog-koördinasie, reuksin en gehoor te ontwikkel.
Maak vir Boetman vingerverf aan en smeer dit op ’n groot stuk papier. Moedig hom aan om strepies en patroontjies met sy handjies in die verf te trek.
Julle kan net so lekker met nie-giftige gom speel terwyl hy allerlei goed soos ryskorrels, sand, pasta en selfs stukkies toiletpapier daarop plak.
Jou kind sal ook speelgoed geniet wat hy kan rondtrek en beheer. Dis ook nou die tyd om hom aan houtlegkaarte bekend te stel waarin hy eenvoudige vorms kan pas.
Hy kan groot vetkryte in sy handjie begin vasvat en op ’n groot stuk papier krabbel. BESTE SPEELGOED VIR 12 TOT 18 MAANDE • Nie-giftige vetkryte • Verf • Balle • Blokkies • Legkaarte • Boekies
18 TOT 24 MAANDE
Teen dié tyd behoort jou kind al goed te loop en sy speletjies is gewoonlik baie meer aktief as voorheen. Hy sal daarvan hou om op en af te klim en te hardloop, spring, kruip, rol, hom op goed te balanseer en selfs soos ’n apie onderstebo te hang.
’n Klimraam is seker een van die waardevolste speelgoed waarin jy nou kan belê. Sorg dat jy altyd by is om toesig te hou, want hoewel Boetie se lyfie sterk genoeg is om tot bo te klim, is sy koppie nog nie slim genoeg om te keer dat hy báie hard van daar afval nie!
Onthou, deur te klim en klouter leer jou kind groot motoriese vaardighede, sy lyf se posisie in ruimte en dat hy ’n linker- en regterkant het (hoewel hy dit nie noodwendig nou al kan benoem nie). Die twee helftes van sy brein word geïntegreer, wat voorbereiding is vir lees en skryf. Dit help ook met spiertonus.
Speel speletjies waar jou kind na die dele op sy lyfie moet wys wat jy benoem en moedig rolspel aan waar hy oor die telefoon gesels of sy teddiebeer kos gee.
Dis ook in hierdie tyd dat hy die pret van ’n ryding soos ’n plastiekmotorfiets begin ontdek. BESTE SPEELGOED VIR 18 TOT 24 MAANDE • Speelgoed waarop hy kan ry, soos ’n
motorfiets of driewiel • Verf • Sand en water • Deeg • Poppe