Baba & Kleuter

Stadig maar seker

Waarom draai party babas so voor hulle begin loop – en wanneer moet jy mediese hulp vir ’n laat loper soek?

- DEUR LIBBIE JOUBERT

Miljoene jare gelede het ons voorvaders hul bolywe gelig en regop begin loop. En soms voel dit vir ons ook soos miljoene jare voor ons kleinding sover kom om daardie einste bolywe te lig en van kranige kruipers in dapper stappers te verander.

Ontspan – kinders begin nie almal op dieselfde ouderdom loop nie omdat almal se motoriese stelsels nie ewe vinnig ontwikkel nie, sê die Paarlse pediater dr. H.P. van der Merwe.

Sowat 50 persent van kinders begin teen 12 maande loop, maar die normale grense is tussen nege en 18 maande, sê hy.

Presies wanneer jou bloedjie wegtrek, hang van verskeie faktore af. Oorerwing speel veral ’n groot rol. Temperamen­t ook – ’n kind met ’n meer tevrede temperamen­t begin dikwels later loop omdat hy vir langer gelukkig in ’n statiese speelposis­ie is. Sulke kinders is heeltemal tevrede daarmee om te sit en toekyk eerder as om aan die aksie deel te neem.

Besige, bedrywige kinders is weer geneig om vroeër te begin loop, sê Lizanne du Plessis, ’n arbeidster­apeut van SomersetWe­s in die Wes-Kaap.

In haar boek Maak gelukkige kinders groot noem Lizanne sulke aan-die-gang kinders apies. Hulle stel baie belang in hul omgewing en hul breintjie en lyfie soek meer stimulasie.

Nog faktore wat volgens Lizanne die ouderdom beïnvloed waarop jou kind begin loop, sluit in krag, stimulasie en blootstell­ing aan ’n ouer medespruit.

As jou kind teen 18 maande nog nie loop nie, is dit wel ’n goeie plan om hom te laat evalueer – veral as hy ander ontwikkeli­ngsagterst­ande ook het, sê H.P.

Soms is die gehalte van die bewegings wat jou kind uitvoer selfs belangrike­r as sy ouderdom, sê Anro-mari Cohen, ’n fisioterap­eut van Vredendal in die Wes-Kaap.

Op sy eie is die onvermoë om te loop nie altyd ’n aanduiding van ’n probleem nie. Soek egter hulp as jou kind ander mylpale ook misloop, soos rol, sit, kruip en hom aan meubels optrek.

“Stel vas of jou kind op ander gebiede ook agter is – soos met sy spraak, sosiale interaksie en fyn motoriese vaardighed­e. Styfheid of buitengewo­ne slapheid kan ook op ’n probleem dui,” sê Anro-mari.

HOEKOM BEGIN KINDERS LAAT LOOP?

Daar kan verskeie redes wees, sê die kundiges. Hier volg ’n paar: • Die deel van hul brein wat beweging

beheer, ontwikkel stadiger. • Hulle was vroeg gebore. • Ná hul geboorte het hulle dalk ’n virus of ander infeksie gehad, of hulle kon ’n suurstofte­kort opgedoen het. • Daar was dalk probleme in die swanger

skap soos siekte, rook of alkoholmis­bruik. • Daar was moontlik probleme tydens die geboorte soos ’n suurstofte­kort, ’n geboortebe­sering of die vervroegde loskom van die plasenta. • Chroniese oorinfeksi­e kan ook ’n rol speel. Dit kan die baba se balans heeltemal omvergooi en so veroorsaak dat hy laat begin loop. • Selfs jou kind se oorgeërfde liggaamsti­pe kan ’n rol speel. Maer en fyn babas is geneig om gouer te begin loop. Groter babas loop dikwels later omdat hulle meer krag nodig het om orent te kom. • Jou kind se temperamen­t kan van so ’n aard wees dat hy tevrede daarmee is om vir eers net te kruip.

HET VROEË LOPERS ’N VOORSPRONG?

Kinders wat voor nege maande oud begin loop het nie later beter koördinasi­e of sportvaard­ighede nie. Hulle is ook nie slimmer as dié wat later begin loop nie, sê H.P.

Daar is uiteindeli­k geen verskil tussen die vaardighed­e en vermoëns van ’n kind wat op 12 maande begin loop het en een wat eers teen 15 maande wegspring nie.

Vroeg loop beteken dus nie noodwendig dat jou kind eendag ’n groot atleet gaan wees nie, net soos laat loop hom nie tot ’n lewe van lompheid verdoem nie.

Moet jou kind ook nie aanmoedig om te vroeg te begin loop nie. Kinders wat op nege maande begin loop, het meestal glad nie of net vir ’n baie kort rukkie gekruip. Dit kan veroorsaak dat hulle nie genoeg skouerstab­iliteit ontwikkel nie. Teen die tyd dat hulle ses jaar oud is, kan dit ook fyn motoriese probleme begin veroorsaak.

WANNEER HET ’N KIND TERAPIE NODIG?

As ’n baba teen ses maande oud nog nie tekens toon dat sy wil sit nie, moet jy haar liefs laat evalueer omdat sy dan waarskynli­k ook laat sal begin loop. Al die ontwikkeli­ngstadiums van sit, kruip en teen meubels optrek berei jou kind op die loopslag voor.

Die terapeut en dokter sal na die groter prentjie van jou kind se ontwikkeli­ng kyk. Het sy al haar mylpale gehaal? Wanneer het sy haar primitiewe reflekse verloor? Sy sal ortopedies sowel as neurologie­s ondersoek word en as alles normaal is, kan jy vir eers ontspan.

Anro-mari sê die volgende is rooi ligte wat op probleme kan dui: • Jou baba kan op nege maande oud nog

nie onafhankli­k sit nie. • Sy dra teen 12 maande nog glad nie

gewig op haar beentjies nie. • Sy loop ná 18 maande nog nie. • Sy kan op twee jaar oud nog nie hardloop

nie. • Sy kan teen drie nog nie trappe klim nie. • Sy loop meestal op haar tone. • Haar spiere is buitengewo­on styf of bui

tengewoon pap.

WAT DOEN DIE TERAPEUT?

’n Terapeut sal jou eers uitvra oor die geskiedeni­s van die swangerska­p, die geboorte self en jou kind se ontwikkeli­ng ná geboorte.

Sy sal jou kind fisiek evalueer en dan ’n aantal terapieses­sies aanbeveel. Julle kan ook oefeninge kry om tuis te doen.

’n Deel van die evaluasie behels om vas te stel hoe sterk jou kind se rug- en maagspiere is omdat goeie rompstabil­iteit en romprotasi­e nodig is om te kan loop.

Jou kind sal waarskynli­k baie tyd op die fisioterap­iebal en -bankies deurbring en ander swaai-oefeninge doen. Die terapeut maak ook baie gebruik van balansappa­rate waar kinders eers sittend, dan knielend en dan staande behandel word.

Die plan is om jou kind se spiertonus te verbeter, haar brein te leer om spesifieke bewegings uit te voer, spierkrag te bou en sekere liggaamsde­le meer stabiel te maak.

WAT JY NIE MOET DOEN NIE

Pasop vir ’n loopring. Dit verhinder normale groot motoriese ontwikkeli­ng. Dit versterk die spiere van jou kind se onderste ledemate, maar haar bobeen- en heupspiere bly swak – en dis die belangriks­te spiere vir loop. Loopringki­nders se haksenings is boonop dikwels verkort.

Plaas jou baba liewer op die mat en laat haar toe om teen haar eie pas die normale ontwikkeli­ngstadiums te deurloop, is ons kundiges se raad.

 ?? DR. H. P. VAN DER MERWE, PEDIATER, DIE PAARL ANRO- MARI COHEN, FISIOTERAP­EUT, VREDENDAL LIZANNE DU PLESSIS, ARBEIDSTER­APEUT, SOMERSET- WES ??
DR. H. P. VAN DER MERWE, PEDIATER, DIE PAARL ANRO- MARI COHEN, FISIOTERAP­EUT, VREDENDAL LIZANNE DU PLESSIS, ARBEIDSTER­APEUT, SOMERSET- WES

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa