Baba & Kleuter

Vat vas die vet

Twee uit elke 10 kinders in Suid-Afrika weeg meer as wat goed vir hulle is. Doen ons iets verkeerd?

- DEUR ZELDA ACKERMAN GEREGISTRE­ERDE DIEETKUNDI­GE

Ajou kind se gunsteling-tydverdryf televisie kyk of tabletspel­etjies is en sy min buite speel, is dit ’n goeie plan om hierdie artikel te lees. Selfs eet voor die televisie, te min slaap en laat slaaptye word met oorgewig verbind.

Behalwe vir hierdie faktore speel die samelewing waarin ons woon ook ’n groot rol in die vetsugepid­emie.

IS JY DIE SONDAAR?

Is jy een van die ma’s wat jou kind se eetgewoont­es met ’n valkoog dophou? Jy maak seker dat sy geen lekkernye kry nie, jy beperk haar porsies en maak seker dat sy elke aand ál haar groente opeet. Hierdie goeie bedoelings kan juis tot oorgewig bydra.

Navorsing wys dat kinders wie se ouers streng beheer uitoefen oor hul kosinname, ’n groter gevaar loop om vetsug op te doen omdat hul vermoë gekniehalt­er word om hul eie energieinn­ame te beheer. As jy aan- hou om kos aan te bied nadat sy ophou eet het, sal sy weer begin eet. Sy leer om haar lyfie se versadigin­gsboodskap­pe te ignoreer en neem dan meer energie in as wat sy nodig het. Hierdie kinders ontwikkel ook ’n voorkeur vir die hoëvet-, energiedig­te kos wat hul ouers met alle mag van hulle probeer weghou en afkeure van kos wat hulle gedwing word om te eet.

Jy wonder dalk nou moedeloos: “Hoe dan gemaak?” Dis eintlik so eenvoudig!

SKOP REG AF

Een van die maklikste maniere om van dag een af te keer dat jou kind oorgewig word, is om te borsvoed. Studies wys dat babas wat borsmelk drink, ’n aansienlik kleiner kans het om vet te word as dié wat formulemel­k drink. Borsvoedin­g beskerm teen vetsug deur te keer dat babas te vinnig gewig aansit, onder meer omdat borsmelk minder proteïen as formulemel­k bevat. Elke maand wat jy langer borsvoed, word die

kans kleiner dat jou kind oorgewig sal wees teen die tyd dat sy skool toe gaan.

Bied ’n verskeiden­heid gesonde kosse aan wanneer sy begin eet en moedig haar aan om dit te eet, maar moet haar nooit dwing om te eet of vliegtuigi­e speel tot sy genoeg na jou sin geëet het nie. Laat haar toe om self in beheer te wees van hoeveel sy eet en leer haar só om na haar lyfie te luister.

Namate sy ouer word, gaan sussie fyn dophou wat jy en jou maat eet. Eet dus soveel moontlik maaltye as gesin saam om ’n tafel en stel ’n goeie voorbeeld. Dít wat sy in haar kleuterjar­e by julle sien en leer, sal haar eetgewoont­es vorm. Hierdie gewoontes sal sy behou tot sy groot is, en dit sal so haar gesondheid en gewig lewenslank raak.

Wanneer sy begin rondhardlo­op, moedig haar aan om dit soveel moontlik te doen. Kweek gewoontes in jul gesin om waar moontlik eerder trappe te klim en te stap. Pak die stootwaent­jie weg en laat jou klein mensie loop waar sy kan: in die winkel, om die blok of in die park. Dra haar as sy moeg is, dan kry jy ook sommer ’n bietjie oefening in.

Leer as gesin om aktief te ontspan: Gaan speel in ’n parkie, werk saam in die tuin, speel minigholf of besoek ’n botaniese tuin.

IS SY TÉ GROOT?

Dalk stel jy jou gerus met die gedagte dat jou kleinding haar babavet vinnig sal ontgroei wanneer sy begin loop … of as sy begin klimraam klim.

Hoe gouer jy egter die erns van dié saak besef, hoe beter vir jou kinders se gesondheid.

Jou kind se kliniekkaa­rt is nie genoeg om te bepaal of sy te vet is of nie; daarvoor gebruik ons ’n liggaamsma­ssa-indeks (LMI)groeikaart wat spesifiek op jou kind se geslag en ouderdom gemik is. As haar gewig tussen die 85ste en 95ste persentiel is, is sy oorgewig en as dit op of bo die 95ste persentiel is, is sy vetsugtig. Spreek gerus ’n dieetkundi­ge as jy vermoed jou kleinding is oorgewig. Sy sal jou kind se groei volgens dié groeikaart kan evalueer.

VAT DIT NOU VAS

As jou kind reeds ’n bietjie swaar is, is dit nóú die tyd om iets daaraan te doen. Die belangriks­te is om nie te fokus daarop dat sy gewig moet verloor nie, maar eerder dat sy gesonde gewoontes leer. Indien sy lief is vir gesond eet en aktief wees, sal sy stadiger gewig aansit en behoort sy so in haar gewig in te groei.

Waak daarteen om jou kind gereeld te weeg, want dan dink sy dat jy nie haar gewoontes wil verander nie, maar haar liggaam – en dit kan tot eetversteu­rings lei as sy ouer is. Stel spesifieke doelwitte, soos om koeldrank en vrugtesap te beperk en meer groente en vrugte te gee, eerder as om net te sê jy wil haar gesond leer eet. Jy kan dit vir jou en jou kleinding makliker maak deur nie ongesonde kos in jou huis te hê nie en deur seker te maak dat daar genoeg gesonde kos beskikbaar is.

Wat jou kind in haar kleuterjar­e leer, sal eendag haar eetgewoont­es vorm.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa