Baba & Kleuter

Ware verhaal

Om ’n kind te verloor is ’n ouer se grootste vrees. Jacqueline Gelderblom deel hulle storie van hartseer ... en vreugde.

- DEUR SHANDAL LUYT

“Mieke het haar pa se blas vel gehad en my donker oë en hare. Sy was ’n stroopsoet, betreklik gesonde baba. As peuter het sy só mooi geluister. Ek kan glad nie onthou dat sy stout was nie ... Sy was net ’n perfekte dogtertjie vol lag en vriendelik­heid. En slim vir haar ouderdom. Sy het selfs begin Engels praat van die televisie af!

“My jongste, Karmi (18 maande), is baie bedrywiger as Mieke. Sy is glad nie soos haar sussie nie, maar ek glo hulle sou mekaar vreeslik geniet het.”

Jacqueline Gelderblom van die mooi dorpie Ladismith in die Klein-Karoo gesels graag oor haar dogters, al sit die trane soms vlak, want in 2014 het Jacqueline en haar man, Corné, vir Mieke verloor aan ’n aggressiew­e breinkanke­r. Hul drome vir haar is in ’n oogwink kortgeknip: Net vyf weke nadat die eerste simptome waargeneem is, moes Jacqueline en Corné haar finaal groet. Hier is hul storie ...

’N BIETJIE KOPSEER?

Einde Junie 2014, net nadat Mieke (toe 2) klaar gebad het, het sy vir Jacqueline gewys haar kop is agter seer.

“Ek het haar ’n bietjie Panadostro­op gegee. Oor die volgende twee weke kon ek agterkom iets pla steeds, maar sy het niks gesê of gehuil nie, en ek het gedink dis dalk ’n nekspier wat sy verlê het.

“Later het sy haar koppie na die een kant begin hou. Die volgende dag, ’n Woensdag, het ek haar na ’n pediater op Worcester geneem. Hy het tortikolli­s (’n soort nekspasma) gediagnose­er en antibiotik­a gegee.

“Die naweek sy begin opgooi en ek het vermoed dis van die medikasie. Ek het die pediater aan diens gebel, maar hy kon nie veel help nie. Die Maandag is ek terug na haar oorspronkl­ike pediater. Sy is opgeneem en hulle het ’n lumbale punktuur uitgevoer om te kyk of sy dalk breinvlies­ontsteking het. Bloedtoets­e is ook gedoen, haar spiertonus is getoets en x-strale is geneem. Die toetse het niks gewys nie.”

Teen Woensdag het Mieke minder opgegooi en is sy ontslaan, maar die naweek het sy weer begin braak. “Soggens wou sy nie opstaan nie, want haar kop is seer. Toe kom ek agter sy begin met haar kop skeef en holrug loop en kan nie meer plat op haar sitvlak sit sonder om haar ruggie hol te trek nie. Sy het ook met wye bene gebuk.”

Die Maandag het Jacqueline die pediater weer gekontak. Hy het ’n MRI-skandering vir die Vrydag gereël, maar gesê as sy sleg voel, moet sy hospitaal toe.

“Maandag het alles goed by die skooltjie verloop. Dinsdag het hulle vertel sy en ’n maatjie het saggies koppe gekap terwyl hulle gespeel het en sy het vreeslik gehuil. Sy het in die kar dadelik geslaap en ek het besef dis nie normaal nie. Ek het die pediater gekontak om te sê ons is op pad. Sy is Woensdag in die oggendure hospitaal toe.”

Steeds kon die dokters nie vasstel wat fout was nie. Mieke het doodstil gelê en kon geen kos binnehou nie, dus is ’n drup opgesit. Jacqueline kon sien sy het pyn.

“In ’n stadium het sy vreeslik geskree. Die pediater aan diens is laat kom en het haar dadelik vir ’n skandering gestuur. Dit het gewys dat Mieke ongeloofli­k baie vog opgebou het, wat die pyn veroorsaak. Die drup is uitgehaal en ’n ‘sout’ ingesit om die vog te onttrek. Hulle het die bokant van haar bed gelig en allerhande dinge gedoen.

“Skielik het ’n klomp goed gebeur. Die pediater het gesê haar pols is baie swak. Ek was in skok. Jy kry nie gehuil nie. Ek het net daar gestaan en nie geweet

wat aangaan nie. Ek het heeltyd na haar geroep as ek sien haar hartklop daal – dan tel dit weer op.”

VEG OM ’N LEWE

Daar is besluit om Mieke oor te plaas na Rooi Kruis-kinderhosp­itaal in Kaapstad om die vog te laat dreineer. “Dit was die langste wag ooit. Hulle was bang dat Mieke nie die rit daarheen sou oorleef nie. Sy is aan ’n ventilator gekoppel om haar kunsmatig aan die lewe te hou en gestabilis­eer terwyl ons in die wagkamer gewag het. Die suster het haar nagklere vir my gebring ... daardie oomblik kom jou hart omtrent tot stilstand, maar sy mag nie klere aanhê nie sodat hulle haar makliker kan behandel.

“Die ambulansri­t het soos ’n ewigheid gevoel. By die Rooi Kruis is ons dadelik na die intensiewe­sorg-eenheid toe. Hulle het haar dadelik begin behandel om haar weer ‘wakker’ te kry. Ons moes buite in die wagkamer wag. Die wag was ondraaglik. Dit het gevoel of hulle iets ingedruk het op elke plek waar hulle ’n aar kon kry.”

Die hoof van die eenheid het hulle eenkant geroep. “Ek sal dit nooit vergeet nie. Hy het net vir ons gesê: ‘Dit lyk nie goed nie. Julle moet maar gereed wees vir die ergste.’ Daarna het ’n neuroloog met ons kom gesels en het ons die eerste keer gehoor Mieke het breinkanke­r.

“Daar was ’n groot gewas aan die agterkant van haar kop, ’n kanker wat baie vinnig groei. Al die vog het die gewas in haar ruggraat begin afdruk, waar asemhaling en so meer beheer word. Hulle het toe ’n gaatjie in haar skedel gemaak om vog te dreineer en die drukking te verlig. Hierna het hy gesê gee hulle haar agt uur om te reageer.”

Mieke was kritiek. “Nog pypies is gekoppel om haar te probeer wakker kry en haar bloedgasse is gemonitor. Die plakker op haar kop was gekoppel aan ’n masjien vir breinaktiw­iteit, maar dit het geen reaksie gewys nie. Ons kon sien haar urine word ál ligter en haar lyfie was so koel.

“Ek en Corné kon al die tekens sien, maar ons wou dit nie glo nie. Die neuroloog was kort-kort daar op soek na reaksie. Mense kom en praat met jou, deel tydskrifte uit, maar jy doen niks nie, jy staar net na jou kind.”

TYD OM TE GROET

Die gewas, ’n medullabla­stoom, was groot en het baie skade veroorsaak. “As Mieke sou wakker word en geopereer moes word, sou dit ’n nege uur lange operasie wees wat sy moeilik sou oorleef. Die kans was ook baie groot dat daar reeds skade was soos blindheid – en dat die gewas kon terugkeer.”

Die medici het besluit om die laaste toetse te doen om te kyk of Mieke ’n reaksie toon. So nie, sou hulle die lewensonde­r-steunende masjiene afskakel.

“Daar was drie dokters wat getoets het, maar daar was geen reaksie nie – nie die knip van ’n oog of enigiets nie. Toe het die neuroloog kom sê sy reageer nie. Ons het die wêreld se vrae gehad, maar op daardie oomblik weet jy nie wat om te sê nie.

“Hulle het al die pypies en naalde verwyder. Ons het Mieke gewas, haar aangetrek en haar gegroet. Ons ouers, ons familie en vriende het ook kans gehad om te groet. Mieke is om 15:15 daardie Donderdag oorlede verklaar – presies dieselfde tyd en dag van die week as wat sy gebore is. Dit was net vyf weke nadat sy daardie eerste aand vir my gesê het haar kop is seer.

“Die neuroloog wou agterna weet of Mieke enige ander simptome getoon het, want volgens die grootte van die gewas moes haar een ogie al skeel gewees het, die een kant van haar lyfie lam of haar voet moes sleep of handjie hang – maar daar was niks. Geen waarskuwin­g nie. Sy was so pragtig soos elke ander dag van haar lewe tot net voor sy opgeneem is.”

Party dae is maklik en ander dae gaan dit nie so goed nie, sê Jacqueline. Sy en Corné het baie gesels ná Mieke se dood.

“Ons het dit probeer uitredenee­r. Maar ek het gesê: Ons kan probeer redeneer soos ons wil. Ons moet onthou die wêreld gaan aan. Niemand gaan stilstaan omdat ons stilstaan nie. Ons moet dus besluit om ook aan te gaan. Ons het baie oggende tot tweeuur gesels. As ons nie vir mekaar gehad het nie, sou dit bitter erg gewees het. Ons was vir mekaar baie goed – en is dit steeds.”

Daarna het ’n neuroloog met ons gesels en het ons vir die eerste keer gehoor Mieke het breinkanke­r.

 ??  ?? Jacqueline Gelderblom en haar man, Corné, by die bedrywige klein Karmi (18 maande), wat ná Mieke se dood gebore is.
Jacqueline Gelderblom en haar man, Corné, by die bedrywige klein Karmi (18 maande), wat ná Mieke se dood gebore is.
 ??  ?? Mieke Gelderblom (2) is in 2014 oorlede aan ’n aggressiew­e breinkanke­r – net vyf weke nadat sy die eerste keer hoofpyn gekry het.
Mieke Gelderblom (2) is in 2014 oorlede aan ’n aggressiew­e breinkanke­r – net vyf weke nadat sy die eerste keer hoofpyn gekry het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa