Pa se stem
As jy kinders het, is onderhandeling deel van elke dag. Dis net moeiliker as in die raadsaal.
Ek probeer tans om my onderhandelings-tegnieke op te skerp. Nie weens ’n saketransaksie van enige aard nie. Nee, nee. In só ’n onderhandeling vind albei partye darem gewoonlik baat by die uitkomste.
Dié onderhandeling waarvan ek praat, is tussen pa en tweejarige, en beskik oor sy eie stel unieke reëls. Sommiges daarvan sal jy in ’n tydskrif soos dié raaklees, maar die meeste leer jy so met die pad langs.
Ander sal vir jou sê jy moet in geen omstandighede met jou kind “onderhandel” nie. Klink na ’n lekker planeet daai, ek wil ook soontoe gaan.
In die hitte van die stryd werk dit so: My vrou is besig om na ons babadogter om te sien. Elders in die huis is dit ek, my besige seuntjie en sy sopnat doek wat al soos ’n Kerskous hang. Ek neem ’n diep, voorbereidende asemteug. “Kom ons ruil gou daai doekie, boetieman.” “Nee, pappa.” Hier begin dit dus. Ek wil graag sy doek ruil, want dit sal vir hom goed wees. Dit skeel hom min; hy speel mos nou.
Daar is ’n paar opsies wat ek ewe onkundig oorweeg. Een is aandagafleiding: “Kyk net wat maak daai varkies nóú op die televisie!”
En as hy wel kyk, moet jy met daai doek laat waai soos met jou dasknoop nadat die kerkklok klaar gelui het. Maar die kans is ook goed dat hy regtig nie omgee wat die varkies doen nie.
Dan is daar is dreigemente, so matig as moontlik: “Jy gaan nie buite speel voor jy nie daai doek geruil het nie.” Dit kan werk, maar die kans is goed dat hy ontsteld gaan wees oor die verbod op buite speel en dat jy dan ’n ontstelde kind se doek moet ruil.
Of sosiale afpersing: “Wat sal jou maatjies dink as hulle jou met so ’n nat doek sien rondloop?” Soms laat dít hom ’n oomblik in die verte staar – probeer hy dalk regtig dink wat hulle sou sê? Maar gewoonlik blyk dit hy glo sy maatjies sal hoegenaamd geen probleem daarmee hê nie.
Vergelykende bewyse: “Kyk, sussie speel lekker omdat sy háár nuwe doek mooi soet aangetrek het.” Dié een werk soms soos ’n bom, maar dan is daar die dae wat hy dit júís nie wil doen nie omdat sussie dit gedoen het. Dan werk dit ook soos ’n bom – ’n tydbom.
Beloning: “As jy stil lê dat ek jou doek ruil, het ek vir jou ’n verrassing ...” Maak dan seker dit is iets wat hy wil hê, en dat jy dit gereed het. Die verskil tussen beloning en omkopery? Dun grens, as jy my vra. Maar dit is onderhandeling dié, nie kinderspeletjies nie.
Pak die bul by die horings: Hier is die woorde maar min. Jy sit jou vasberade gesig op, pen die kleuter vas, en rúíl daai doek. Verbeel jou jy stoei met ’n krokodil. Dis hoe dit soms kan gaan. Maar die nadele daarvan is vanselfsprekend, jou ou buffel.
Aan die een kant sal die kinderkenners my ’n druipsyfer gee vir hierdie poging tot kindersielkunde. Wie is nou eintlik die manipuleerder? Ek of hy? Aan die ander kant gesels ek hier met regte ma’s en pa’s. Mense wie se kos op die stoof is, selfoon in ’n ander vertrek lui, badwater tap of wie se rugbyspan op pad is om die wendrie te druk terwyl die doekdokumentêr hom afspeel.
My raad oor die onderhandelings is nie vreeslik akademies nie: Raak gewoond aan verloor, met grasie. Daarmee was ek nog nooit baie goed nie. Met dank aan die SuidAfrikaanse Rugbyunie en Inkomstediens is ek dit deesdae wel meer gewoond.
Sommige van die onderhandelings verloop egter so vlot, jy wil mense daarvan vertel. So kan ek in die kategorie “goeie maniere” maar noem dat my kleuter se “dankies” en “nee dankies” mooi aankom. Veral die “nee dankies”.
“Boetie, sit neer daardie gholfstok, jy gaan vir sussie raakslaan.” “Nee dankie, pappa.” Regte klein politikus. Tydens president Zuma se staatsrede vroeër die jaar was daar ook só ’n oomblik – die berugte “**** you, honourable member”. Nee dankie, pappa. Al vermoed ek dat baie van die nat doeke in die parlement wél met omkopery inskiklik geruil sal kan word...
By die huis verloop dinge gelukkig meer beskaaf, maar ietwat meer onvoorspelbaar as in ’n parlementêre sitting. Want sodra jy die ergste sien aankom, vra die klein mannetjie sommer sélf of jy sy doek sal ruil – hy gaan lê vrywillig op die bed en wag. Met ’n smile. Én bedank jou daarna.
Agterna probeer ek dit dan in heroënskou neem. Wat het ek dié keer reg gedoen? Ek wil ’n aantekening maak.
Die slegte nuus is: Dieselfde tegniek werk selde nóg ’n keer. Die verrassingselement is daarmee heen, vermoed ek.
So dít is hoekom ek my onderhandelings-tegnieke probeer opskerp. Jy weet nooit watter een jy vandag nodig gaan kry nie. Minstens weet ek nou ’n “wen” is nie gewaarborg nie, dus pak ek die pa-take met nederige optimisme aan – so kalm moontlik, en natuurlik liefdevol.
Jy sien, net nou die aand het hy met ’n groot vierkantige plakker op sy voorkop gaan slaap, want hy wou. Dit is ’n veldslag wat ek graag verloor het, want die oorlog was mýne.
Hy het – met ’n “lief vir jou, pappa” – stroopsoet in sy bed gaan klim, oë toegemaak, en geslaap.