Baba & Kleuter

GENESING

-

Ons is in 2007 getroud en ek was ’n jaar daarna swanger met Abigail, vandag sewe jaar oud.

Toe sy twee was, het ons op ’n tweede kind besluit. Ek het gedink ons gaan vinnig swanger raak, maar wat gevolg het, was drie miskrame.

Ons was uiteindeli­k weer swanger en alles het goed verloop – min het ons geweet wat op ons wag! Met een van die sonars het ons doktor bekommerd gelyk en ons dadelik verwys vir ’n fetusasses­sering. Daar het ons die skok van ons lewe gekry.

Ons moes hoor ons geliefde babaseun het ’n nare sindroom. Die afwykings wat hy gehad het was erg. Sou ek voortgaan met die swangerska­p, sou ons hom net ná die geboorte verloor het omdat sy longe glad nie sou ontwikkel en sy borskas nie sou groei nie. Dit was omdat sy hartjie die plek van sy longe in sy borskas ingeneem het. Hy sou met geboorte nie asem kon kry nie. Sy arms en beentjies het ook ophou groei.

Ons gebed was dat God hom sou kom haal nog voor hy kon swaarkry. Nooit sal jy dink jy moet vir God vra om jou kind liewer te neem as dat hy leef nie, maar niemand wil hê dat hul kind moet ly nie.

Die Here het ons gebede verhoor en op 11 Junie 2015 het Hy ’n goue draadjie om John-Martyn se lewe kom bind en hom saggies kom neem.

Ons was platgeslaa­n. Sy as is op my ouers se plaas gestrooi en ons is daarna kerk toe. Een van die kerklede het gevra of sy oor my baarmoeder kan bid en ek het ingestem. Ek het so ongeloofli­k leeg gevoel en verskrikli­k baie gehuil.

In September 2015, drie maande ná ons seuntjie se dood, het ek uitgevind ek verwag. Natuurlik was die hele swangerska­p vol vrees dat iets sou verkeerd loop. God het my gelei na die vers in Psalm 138:8: Hy sal vir my alles goed laat afloop. Ek het vasgehou aan die vers en so baie mense het vir ons gebid.

Op 6 Junie 2016 skenk ek die lewe aan ’n perfekte seuntjie, Eli. Eli beteken onder meer “verhewendh­eid”.

Deur Eli het God vir ons genesing gebring. Ons is so ongeloofli­k lief vir hom.

Abigail help alte graag vir mamma en

pappa met haar boetie. Ons kan nie vir God genoeg dankie sê vir hierdie wonderwerk nie. CAROLINE DEAN, CENTURION, GAUTENG ●

 ??  ?? Shaun en Caroline Dean met Abigail (7) en Eli (8 maande). Eli het vir die gesin genesing help bring ná John-Martyn se dood.
Shaun en Caroline Dean met Abigail (7) en Eli (8 maande). Eli het vir die gesin genesing help bring ná John-Martyn se dood.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa