Baba & Kleuter

24-48 UUR NÁ GEBOORTE

-

MOETS • Voed baba minstens agt keer, al moet

jy hom elke drie uur wakker maak. • Jy en baba hoort bymekaar. Troetel hom soveel moontlik op jou bors, verkieslik vel teen vel. • Vermy fopspene en bottels. Dit kortwiek melkproduk­sie en leer borsbabas verkeerde suiggewoon­tes. • Rus wanneer jy kan. MOENIE ...

• wag tot baba huil nie. Bied die bors aan sodra jou kleinding begin kriewel, kniesgelui­de maak, sy handjies suig of sy kop ronddraai en oplig. ’n Gespanne pienkvoet voed ondoeltref­fend. • dat baba aan jou bors huil nie; dit skep negatiewe assosiasie­s. Sus hom en probeer weer wanneer hy rustig is. • die duur van voedings beperk nie. Kort voedings “spaar” nie jou tepels nie: Hoe hongerder ’n baba is, hoe harder suig hy. Let eerder op goeie posisioner­ing en hegting om wrywing teen jou tepels te voorkom. WEES GEWAARSKU Jul tweede nag (of derde, indien jy ’n keiser of epiduraal gehad het), kan ietwat van ’n beproewing wees. Baba voed dat dit klap om jou melk “in te bring” en het agtergekom dat hy ’n stem het. Jy is so moeg dat jy kan saamhuil ... Vasbyt, binnekort is jou melkvoorra­ad milddadig, dan gaan baba langer versadig bly. Sit-lê gemaklik sodat jy ’n uiltjie kan knip wanneer hy indommel.

Byvoedings kan vannag aanloklik klink. Staan sterk, selfs een bottel kan verreikend­e gevolge hê. Dit sal jou melkproduk­sie strem, baba se dermkanaal­flora verander en sy risiko vir allergieë en tipe 1- diabetes verhoog. Die ferm botteltiet en vinniger melkvloei is verwarrend voordat hy borsvoedin­g onder die knie het.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa