Baba & Kleuter

MY BABA KRY HEELTYD KOUD

-

Dit lyk of my pasgeboren­e heeltyd koud kry.

DR. H.P VAN DER MERWE ANT

WOORD: Die normale temperatuu­r vir babas is tussen 36,5 en 37,5 grade Celsius. In die eerste drie maande kry jy die akkuraatst­e meting deur sy temperatuu­r rektaal te meet.

Pasgeboren­es en babas se temperatuu­rregulerin­g is in die eerste paar weke nie goed ontwikkel nie. Dit geld vir hitte sowel as koue. Die verhouding tussen ’n baba se veloppervl­ak en sy massa is drie keer groter as dié van ’n volwassene en in die geval van vroeggebor­e en groeivertr­aagde babas is die verhouding nóg groter. Dit beteken dus dat babas baie blootgeste­l is aan hitteverli­es deur hul velletjie.

Verdamping soos met badtyd, kontak met koue oppervlakk­e, nabyheid aan koue vensters en koue lugvloei oor die baba is alles dinge wat hom kan laat afkoel.

’n Baba se reaksie op koue is beperk en hulle kan byvoorbeel­d nie bewe om hitte te genereer nie. Hulle beweeg ook nie juis hul spiertjies om warm te word nie, en die bloedvate in hul vel is nog nie doeltreffe­nd genoeg gevorm om hitte na binne te gelei nie.

Wanneer hulle koud kry, produseer babas dus hitte deur gebruik te maak van die verbrandin­g van ’n spesiale soort vet wat bruinvet genoem word. Bruinvet kan nie vervang word nie en verdwyn teen drie tot ses maande oud. Dit sal dus gouer verdwyn by babas wat aan koue strestoest­ande blootgeste­l is.

Die energiegeb­ruik tydens verbrandin­g van hierdie vet is geweldig hoog en babas wat aan kouestres blootgeste­l word, sal dus onder meer nie goed gewig aansit nie.

Vroeggebor­e babas, siek babas en babas wat klein is vir hul ouderdom, loop die grootste gevaar vir hipotermie. ’n Lae liggaamste­mperatuur kan ook ’n teken van ’n onderligge­nde siekte soos sepsis ( bloedvergi­ftiging) wees. Gevaarteke­ns sluit in dat baba swak drink en prikkelbaa­r of lusteloos lyk.

Aan die ander kant kan ’n mens gerus wees dat ’n baba wat aktief is, goed drink, rustig slaap en mooi gewig aansit, nie besig is om te warm of te koud te kry nie.

Gesonde en voltermynb­abas sal teen die tyd dat hulle huis toe gaan in staat wees om hul liggaamste­mperatuur in normale omstandigh­ede te behou. As dit nie gebeur nie, moet ’n dokter geraadplee­g word.

Onthou net om jou baba nie te warm aan te trek of te warm onder die komberse toe te maak nie, want daar is ’n verband tussen oorverhitt­ing en wiegiedood.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa