Baba & Kleuter

Gesonde ontbyt vir gesonde kinders

Ontbyt hou so baie voordele vir jou kleuter in dat julle dit eenvoudig nie mag misloop nie. Kies een van ons nege maklike en vinnige ontbytspys­kaarte.

- DEUR ZELDA ACKERMAN, GEREGISTRE­ERDE DIEETKUNDI­GE BABA & KLEUTER

Om te sorg dat jou kleuter met ’n vol magie kleutersko­ol toe gaan, is nie al wat ’n ma met ontbyt moet regkry nie. Die gewoontes wat gevorm word is amper nog belangrike­r. As jy jou kind van kleins af leer om ’n gesonde ontbyt te eet, skep jy ’n gewoonte waarby hy sy lewe lank sal baat vind.

HOEKOM MOET HY ONTBYT EET?

Ontbyt is ’n belangrike deel van ’n gesonde lewenstyl. Kinders wat gereeld ontbyt eet, het ’n kleiner kans om oorgewig te raak as hul maatjies wat niks eet nie. Dis waarskynli­k omdat dié wat nie ontbyt eet nie, die kombuis teen middagete rasend honger binnestorm en omtrent meer as ’n tienerseun verorber. Kinders wat ontbyt eet, kry ook meer vitamiene en minerale in, eet meer vrugte en groente en kry minder suiker in as kinders wat ontbyt oorslaan.

Moenie dink dat net julle twee sal weet as hy met ’n leë magie by die huis uit is nie. Sy kleuter skooljuffr­ou sal dit vinnig agterkom. Hy sal nie so goed kan onthou of konsentree­r as sy maatjies wat ’n gesonde ontbyt gehad het nie, en sal veral laatoggend meer foute maak. Die brein het glukose nodig om te werk, en dit kom van kos af. Jou mannetjie se brein gebruik dit wat in sy magie kan pas sommer gou op en daarom moet ’n kind gereeld eet: sodat die brein genoeg energie kry om slim planne uit te dink waarmee hy sy ma kan beïndruk.

Kinders wat nie ontbyt eet nie, se brein sal vinnig die bietjie glukose wat nog van aandete af beskikbaar is opgebruik, en dan is ma of juffrou met ’n prikkelbar­e, huilerige seuntjie opgeskeep. As jy jou kleinding dus van kleins af leer om elke dag ontbyt te eet, sal dit hom help om beter te presteer wanneer hy grootskool toe gaan.

Beplan jou kinders se ontbyt en sorg dat daar altyd iets is wat gou gemaak en geëet kan word op daardie dae wanneer die horlosie julle voor is. As jou kind sien jy doen moeite met ontbyt – ’n mooi gedekte tafel, ’n verskeiden­heid vars vrugte en ’n mamma wat saam met hom eet – is die kans groot dat hy sal eet sonder dat jy hom hoef om te koop of te dwing, want laasgenoem­de is selfs nog meer skadelik vir hom.

WAT IS ’N GESONDE ONTBYT?

’n Gesonde ontbyt is eerstens gebalansee­rd. Dit beteken dat daar een kos uit elk van die drie voedselgro­epe op sy bord of in sy bakkie is: ’n boukos (soos melk, jogurt, ’n eier of grondboont­jiebotter), ’n energiekos (soos pap, brood of ’n ander stysel) en ’n beskermkos (’n vrug of groente).

Ten tweede sal dit help as die maaltyd ’n lae glikemiese indeks (GI) het. Dit sorg dat jou kind se bloedsuike­r meer konstant bly en voorkom dat hy al weer honger is teen die tyd dat hy by die kleutersko­ol se hekkie instap.

Derdens wil ons hê daar moet soveel vitamiene en minerale moontlik in sy ontbyt wees sodat hy maklik genoeg van dié onsigbare wonders inkry. En ten vierde sorg ons dat ontbyt ’n stewige dosis vesel bevat om sy magie gereeld te laat werk. Vyfdens wil ons hê dit moet min vet bevat, veral min versadigde vet. Dit moet liewer meer onversadig­de vet bevat.

Laastens moet dit liefs nie onnodig baie suiker bevat wat kan bydra tot tandbederf en oorgewig nie.

Om ’n gesonde ontbyt voor te sit gaan jou nie ure in die kombuis besig hou nie. Gereed-om-te- eet-pap bevat gewoonlik min vet, is met vitamiene en minerale verryk, bevat gewoonlik meer vesel as ander keuses en kan vinnig aanmekaarg­eslaan word, wat dit ’n uitstekend­e keuse vir ma en kleingoed maak. Kies net die regte een! Kom ons bekyk ’n paar ontbytkeus­es.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa