Baba & Kleuter

Mamma, hoe doen jy dit?

Bewonder jy ma’s wat ’n huishoudin­g, beroep en besige kindertjie­s sonder enige drama hanteer én boonop floreer? Vyf wondervrou­e deel hul geheime.

- DEUR YOLANDI JORDAAN

SPEEL OOP KAARTE MET JOU WERKGEWER, WEES GAAF MET JOUSELF Robyn Lawrenson (30) van Edenvale in Johannesbu­rg is die enkelma van Imogen (5) en werk buite die huis.

“Ek het ’n lys met belangrike telefoon- nommers (ambulans, polisie en blitspatro­llie) op my yskas ingeval daar ’n krisis ontstaan en ek koelkop moet bly om dit te hanteer. Ek het ook vir Imogen geleer hoe om die snel skakelfunk­sie op my selfoon te gebruik en om ons huisdeur oop te sluit en om hulp te roep as ek dit om die een of ander rede nie kan doen nie.

“Ek is nie te kwaai met myself as ek nie altyd konsekwent is nie. As my dogtertjie op die bank spring en dit gate uit geniet, vermy ek die frustrasie daarvan om oor en oor vir haar te vra om op te hou. Soms is dit belangrike­r dat sy net pret het as dat ek altyd die baas is.

“Beplanning is noodsaakli­k, dus hou ek my oggende so stresvry moontlik deur ons albei se klere en sakke die aand vooraf reg te sit en hare te was.

“Speel oop kaarte met jou werkgewer oor jou tuissituas­ie, vervoer en hoe jy jou kind grootmaak. Dis belangrik dat jou werkgewer jou lewe weg van die werk verstaan sodat hy of sy op kantoor die beste uit jou kan haal.

“Ek takel huistakies elke dag. ’n Netjiese huis is ’n weerspieël­ing van ’n ordelike verstand. En sonder ’n huishulp kan my huis nogal vinnig slordig raak!

“As ek nie op my beste voel nie, sê ek ‘maksimum inspanning’ voor ’n opdrag. Dit help om dinge vinnig gedoen te kry en gee my ’n hupstoot.

“Ek beskou die alleentyd saam met my dogtertjie as die grootste geskenk en bederf en liefkoos haar gereeld. Ek kyk haar elke dag in die oë en sê ek is lief vir haar en dat sy dapper en belangrik is.”

SORG VIR JOUSELF OM VIR JOU GESIN TE KAN SORG

Sara- Lea van Eeden (33) van Edenville in die Vrystaat is ma van Lia (3) en besit haar eie ondernemin­g. “Ek probeer om dinge wat elke dag moet gebeur soos bad, saam in die kar ry en kos maak spesiale tye saam met Lia maak. Veral op ’n Saterdag bad ons saam en was ek haar hare. Sy maak vir my ‘tee’ en ons speel lekker in die skuim. In die kar sit ek die ‘vlerke’ aan (nood flikkerlig­te) en ons verbeel ons ons vlieg. My man, Pierre, het gedink ek jaag verskrikli­k met Lia in die kar toe sy tuis kom en hom vertel ons het gevlieg! Sy sit ook gewoonlik by my wanneer ek kos maak en geniet dit om met die speserye te speel. Ons ruik en proe dan aan alles en leer die name.

“Ek maak tyd vir my ook en doen dan waarvan ek hou. Ek probeer om nie skuldig daaroor te voel nie! Jy kan nie uit ’n leë beker skink nie… As jy uitgebrand is, hou dit geen voordeel vir ’n huwelik of kinders in nie. As jy jou nie versorg nie, gaan jy dit ook nie vir jou gesin kan doen nie.”

NÁ WERK IS EK NET HULLE S’N

Leanne Schoeman (34) van Centurion is ma van Thomas (6) en Klara (3) en werk buite die huis. “Ek probeer om gejaagde oggende so glad moontlik te laat verloop deur soveel as moontlik die vorige aand te doen. Jy kan baie tyd wen deur broodjies te pak, klere uit te sit en ontbyt reg te sit die aand voor jy gaan slaap. Goeie raad is om die paar uur nadat jy by die huis aangekom het volkome met jou kinders deur te bring. Ek eet saam met hulle, ons speel saam en lees ook voor slaaptyd saam.”

KOESTER ELKE KOSBARE OOMBLIK

Annelie Laubscher (30) van Johannesbu­rg, is ma van Lea (2) en besit haar eie ondernemin­g. “Om ’n werkende ma te wees kan soms baie vervullend wees en ander dae wens ek dat ek van die werk kan vergeet en heeldag saam met my kind kan deurbring en elke oomblik kan absorbeer.

“Ek doen moeite om ná werk of oor ’n naweek iets spesiaals saam met Lea te doen. Dis ook vir my belangrik om gehaltetyd saam met haar deur te bring. Probeer om nie vasgevang te raak in die gejaag van die alledaagse roetine nie.

“Ek herinner my gereeld daaraan dat deur te werk, ek ’n inkomste verdien en dat ek daardeur my kind in staat stel om meer van die lekker dinge van die lewe te geniet.”

DAAR IS NIE IETS SOOS ’N PERFEKTE MA NIE

Sarita Liebenberg (44) van Johannesbu­rg is ’n advokaat en ma van Niel (8) en Cara (4). “Ek het vinnig geleer daar bestaan nie iets soos die perfekte ma nie. Al wat jy kan wees, is goed genoeg in jou omstandigh­ede.

“Dit is ook wys om vrede te maak met die skuldgevoe­l wat op jou skouers kom sit die oomblik wanneer jou lyfie sy eerste asemteug neem.

“Ek steek daagliks my trots in my sak en maak staat op die hulp, bystand en ondersteun­ing van mense in my kinders se lewe wat vir hulle belangrik is. Dit help my geweldig baie en ek voel ek gun my kinders die geleenthei­d om spesiale bande met hierdie belangrike mense te bou. Dit is ook belangrik om my kinders se aktiwiteit­e by te woon en dit doen ek deur afsprake in my dagboek te skryf. Dit is moeilik om alles by te woon, maar ek sorg dat ek darem met ’n paar wedstryde in ’n seisoen langs die veld staan.

“Eie tyd is ononderhan­delbaar vir selfbehoud en dit is heel aanvaarbaa­r om nee te sê – vir werk, vir jou kind, vir jouself. Ek kry my eie tyd wanneer my kinders dinge saam met hul pa doen.

“Ek probeer om saans net voor ek in die bed klim, my kinders te soen en te weet dat ek vandag goed genoeg was.”

 ??  ??
 ??  ?? Robyn en Imogen.
Robyn en Imogen.
 ??  ?? Annelie en klein Lea.
Annelie en klein Lea.
 ??  ?? Sarita, Cara (links) en Niel.
Sarita, Cara (links) en Niel.
 ??  ?? Leanne, Klara (links) en Thomas.
Leanne, Klara (links) en Thomas.
 ??  ?? Sara- Lea en Lia.
Sara- Lea en Lia.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa