Baba & Kleuter

SPESIALE KINDERS

- YOLANDE STRYDOM, PORT ELIZABETH, OOS- KAAP

Ek wil slaap en slaap en slaap, al is dit nie die soort moegheid wat deur slaap weggeneem sal word nie. My brein is ma-voos, my lyf is kapot, my hart is pynvoos. My siel en my gees is special-needs- voos.

Om twee spesiale kindertjie­s, twee besige en slim hartskinde­rs, meer van die wêreld te leer en gereed te maak vir die dag wanneer die deur na die werklikhei­d sal oopgaan, is moeiliker as wat enige ma haarself kan indink wanneer sy die twee strepies op die toetsie sien. Ek kla nie gewoonlik nie, maggies, ek kla nooit nie! Vir my gesin is ek ’n supervrou.

Google is my nuwe beste vriendin. Sy hou my geselskap as ek wakker lê, al is ek hoe moeg. As jy ’n spesiale kindjie het, google jy jou foon warm op soek na antwoorde – as jy twee het, dan google jy jou foon, tablet en skootreken­aar almal tegelyk aan die brand. Jy en Google word vennote en aktiviste vir jou kinders wat enige dokter, spesialis, terapeut of hoogdrawen­de tannie ore sal aansit!

Ek ruil nog doeke, al moes ons al biblioteek­uitstappie­s aangepak het; ek maak nog bottels, al moes ek al langs die karate-matte gestaan en juig het; ek loop in Checkers met ’n kind en ’n peuter en herhaal elke eerste letter van elke woord kliphard. B... B ... B ... Brood ... Ek slaap by hulle, ek bid vir hulle. Ek het drie mense in die hele wêreld wat kans sien om na hulle om te sien sodat ek en my man ’n blitsige uitstappie kan geniet. Ondanks die feit dat ons nie uitgenooi word nie, nie kan kamp of op ’n uitstappie kan gaan nie (nog nie), ondanks die feit dat ek vreesbevan­ge sal wees om sonder ’n harnas winkels toe te gaan (het jy enige idee hoe kyk mense ’n vyfjarige aan wat 38 kg weeg en ’n veiligheid­sharnas moet dra?), ondanks die feit dat ons nie kerk toe kan gaan of sirkus toe as dié in die dorp is nie – ondanks alles is ek die gelukkigst­e en trotsste mamma wat ek ken.

Aan elke mamma van ’n spesiale kindjie – moenie terugstaan nie. Haal uit die lewe so min as wat julle kies of soveel as wat julle durf! Ek is dankbaar.

 ??  ?? Marius en Yolande Strydom en hul kroos, Karel-Hendrik (5, voor) en Alexander (4).
Marius en Yolande Strydom en hul kroos, Karel-Hendrik (5, voor) en Alexander (4).

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa