AVONTURE, JA?
Die Bieldt-gesin woon nou al amper ’n jaar in Bad Homburg, Duitsland – en wat ’n avontuur is dit nie!
Na ongeveer ’n jaar in Bad Homburg in die Hesse-streek van Duitsland, voel ons – ek, my man, Louis, LJ, en Ben – darem al taamlik ingeburger. Hannah is net ná ons aankoms hier gebore en ken dus niks anders as Duitsland se kultuur en weer nie!
Ek was 34 weke swanger met haar toe ons hierheen gevlieg het. Hoewel dit my derde keisersnee sou wees was ek bang, want selfs al is dit dalk nie ’n nuwe prosedure nie, was die omgewing vir my vreemd. Die personeel by die kliniek was almal vroue wat my op my gemak laat voel het, selfs al kon ons mekaar nie verstaan nie. Hulle het vir Hannah kleineMaus gedoop omdat sy so soet en stil was. Ons was vreeslik beïndruk met die diens en versorging wat die staat hier bied – ek het fantastiese ondersteuning gekry met die borsvoeding! Babas wie se mammas aanvanklik sukkel, kry uit die borsmelkbank borsmelk tot hul ma self met die voeding regkom. Dit bly vir my merkwaardig.
Homburg is ’n pragtige, klein dorpie buite Frankfurt am Main waar my man, Louis, werk. Die lewe hier is nogal anders as waaraan ons gewoond was. Ons het ’n ruim huis verruil vir ’n woonstel, gematigde wintertemperature vir bibberkoue en sneeu en ons gesinsmotor vir bus- en treinkaartjies. Dit klink dalk na ’n afgradering, maar vir ons lewensgehalte as gesin is dit verseker die teenoorgestelde.
Ons gunsteling-tydverdryf saam is parkie-jagtogte, en hier is wonderlike speelparkies om elke hoek en draai. Elkeen van hierdie parkies het die interessantste en indrukwekkendste speelapparate wat ek nog gesien het: dit daag kinders uit terwyl dit ook ure se pret verskaf. Die meeste parkies het groot sandputte waarin die kinders graag speel. Ons twee mannetjies geniet die swaaie en glyplanke baie. Ons stap sommer baie hier en hou gereeld piekniek in die parke. Ons het vinnig uitgevind dat dit deel van die Europese kultuur is.
Ons het verseker met baie minder haas leer leef. Ek het hier meer tyd vir myself en kry selfs tyd vir balletklasse, iets wat ek jare lank nie kon doen nie.
Dinsdae en Vrydae is dit markdag in Homburg. Vars vrugte, groente, blomme en vleis van die boere in die omgewing word op die plein uitgestal, en natuurlik heerlike kase en Duitse fyngebak ook. Alles daar is van ’n baie hoë gehalte en organies. Ons begin altyd ons inkopies met ’n bakkie aarbeie waaraan die seuns smul terwyl ons verder loop en koop. By so ’n markdag is daar ook kunstenaars wat musiek maak. Ons gesin se gunsteling-fyngebak is berliner – ronde oliebolle met konfyt aan die binnekant. Dit is hemels en iets waarmee jy enigeen van die Bieldts kan omkoop.
Inkopies hier word anders aangepak. Waar ons in Suid-Afrika graag kosvoorraad berg, koop jy hier van dag tot dag. By kasregisters is daar ook nie iemand wat jou inkopies inpak nie; jy pak self. Die Duitsers, glo ek, hou die wêreldrekord vir mense wat inkopies die vinnigste in sakke kan inpak. Jy moet roer, want bewaar jou as jy te stadig pak en die ry terughou ...
Die taal was en is steeds die grootste aanpassing. Gelukkig leer ons kinders dit baie gou. Ons het op ’n YouTubekanaal afgekom met Duitse kleuterliedjies wat LJ en Ben al die liggaamsdele en kleure in Duits help leer het. Hulle kan hulself al voorstel en ook iemand om hul naam vra. Ek glo dit sal nog vinniger gaan sodra hulle ná die somer skool toe gaan.
Ons dorp se toerisme-leuse is "sjampanje en tradisie". Dit het sommer ook ons manier geword om kind grootmaak aan te pak. Met pret en borrelende opgewondenheid, met ’n eie SuidAfrikaanse en Afrikaanse uitkyk en humor, met oopheid vir nuwe en ou tradisies, pak ons elke dag en ervaring aan. En natuurlik ook met ’n bottel regte sjampanje!
Dis die grootste avontuur wat ons gesin nog beleef het. Ons pak hom met albei hande, soms in dik handskoene toegewikkel, by die horings.