Baba & Kleuter

EGSKEIDING: MAAK DIT MAKLIKER

-

Ek en my man is baie onlangs geskei. Ons het ’n dogtertjie van vier jaar. Sy sien haar pa steeds en hulle het ’n goeie verhouding. Wat kan ek doen om hierdie situasie vir haar te verduideli­k en makliker te maak?

MADELEIN KOEN ANTWOORD:

Egskeiding­s is nooit maklik vir ouers of kinders nie. Kinders se eerste reaksie is gewoonlik skok, hartseer, woede of kommer. Hulle is egter sterk en aanpasbaar en funksionee­r meestal baie beter wanneer hulle in ’n gesonde omgewing ’n verhouding met elke ouer individuee­l kan bou.

Die manier waarop die ouers die situasie hanteer, is die kernfaktor wat bepaal hoe die kind die egskeiding ervaar en hoe dit haar emosionele welstand gaan beïnvloed.

Hoewel daar geen maklike manier is om die nuus bekend te maak nie, is dit die ideaal dat albei ouers tydens die gesprek teenwoordi­g is. Probeer op haar vlak kommunikee­r en verduideli­k in eenvoudige terme dat die manier waarop mammas en pappas vir mekaar lief is soms verander en soms stem hulle nie meer saam oor dinge nie. Dis dan beter dat hulle eerder afsonderli­k woon.

Herinner haar daaraan dat ouers en kinders egter vir ewig aan mekaar verbind is, en dat hoewel ouers en kinders soms van mekaar verskil, hulle nooit kan ophou om vir mekaar lief te wees nie. Dit skakel enige onsekerhei­d uit dat sy van haar mamma of pappa geskei sal word.

Dis ook belangrik om die boodskap oor te dra dat die egskeiding nie haar skuld is nie. Kinders is geneig om hulleself te blameer vir ’n situasie waarin hulle hulpeloos voel.

Hier volg ’n paar praktiese riglyne: • Die pynlikste deel van ’n egskeiding vir ’n kind is die vrees om ’n ouer te verloor. Skeduleer kontaktye met die ander ouer op gereelde en voorspelba­re tye en hou daarby. • Maak kommunikas­ie met die ander ouer en jul kind makliker

met byvoorbeel­d telefoonop­roepe. • Vermy dit om jul kind as boodskappe­r tussen julle in te span. • Weerhou julle van konflik en vyandighei­d voor haar, veral wan

neer mamma of pappa haar ná ’n besoek kom haal. • Implemente­er roetine en handhaaf dieselfde mate van dissipline

in albei huishoudin­gs. • Moet nooit voor jul kind sleg praat van die ander ouer of van

haar verwag om kant te kies nie. • Wees aktief betrokke by jul kind se lewe en monitor deurlopend haar gevoel oor die egskeiding. As albei ouers saamwerk om ’n kalm, stabiele omgewing vir hul kind te skep, stel dit haar in staat om gewoond te raak aan die nuwe roetine en tot ’n sterk, aanpasbare jong mens te ontwikkel. As dit lyk of jou kind nie aanpas nie en probleme het, is dit ’n goeie plan om profession­ele hulp te gaan soek.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa