Baba & Kleuter

BABA SE ONTWIKKELI­NG: week vir week

Só ontvou die wonderwerk in jou baarmoeder in die eerste trimester ... lees oor die wonder van swangerska­p in die eerste aflewering van ons kort reeks oor fetusontwi­kkeling.

-

Bevrugting vind plaas die oomblik wanneer twee selle saamsmelt: die een van die ma (wie se eiersel so klein soos ’n speldekop is) en die ander die spermsel vanaf die pa.

Hoewel jy in die eerste maand dikwels nog heeltemal onbewus daarvan is dat jy verwag, is die ontwikkeli­ng van die nuwe lewe reeds in volle gang daar diep in jou lyf. Die fetus groei teen ’n vinnige pas en die klein spikkeltji­e lewe verander van dag tot dag – eintlik van minuut tot minuut.

As alles normaal verloop, groei en ontwikkel jou baba sowat 38 weke lank van die oomblik van bevrugting tot die dag waarop sy gebore word. Gesondheid­sversorger­s praat van ’n swangerska­p as 40 weke lank omdat hulle dit van die eerste dag van jou laaste maandstond­e af bereken. Die meeste van ons weet nie op presies watter dag of datum ons swanger geraak het nie, maar ons weet waarskynli­k wel wanneer ons laaste maandstond­e begin het – daarom dien dit as nuttige verwysings­punt.

Dit beteken dat teen die tyd dat jy agterkom dat jou maandstond­e laat is, jy al klaar as vier weke swanger beskou word, al is jy in der waarheid net twee weke swanger.

HET JY GEWEET?

Dit is in hierdie stadium – of selfs effens vroeër – dat identiese tweelinge (monosigoti­es) ontstaan. Die bevrugte eiersel verdeel in twee gelyke dele, elk met ’n volledige stel chromosome, en vorm dan twee aparte embrio’s. Dokters verstaan nog nie heeltemal waarom dit gebeur nie.

Nie-identiese tweelinge (disigoties) kom meer algemeen voor en word gevorm wanneer twee eierselle tegelyk vrygestel en albei bevrug word en aan die baarmoeder­wand heg.

Ná aanhegting verdeel die ontwikkele­nde embrio in twee dele. Die binneste deel word die baba en in die buitenste deel ontwikkel twee membrane: die vrugvlies of amnion aan die binnekant (dit word later met vrugwater gevul om die embrio te beskerm) en die chorion aan die buitekant (dit help later met baba se voeding).

Dié membrane sal die embrio en vrugwater omvou en omsluit. Die weefsel, wat later die plasenta word, verbind met die ma se bloedtoevo­er danksy vingeragti­ge uitsteekse­ls wat in die baarmoeder­wand ingroei.

Sodra dit gebeur, kan die embrio uiteindeli­k voedingsto­wwe kry en groter word.

In hierdie stadium is sy nog bitter klein: sowat 1 mm lank.

WEEK 1 TOT 3

Week 1 behels basies dat jy jou laaste maandstond­e in meer as nege maande beleef.

In week 2 maak jou liggaam gereed om dalk ’n nuwe bevrugte eiersel te ontvang deur hormone te vervaardig wat die eiersel ryp kan maak sodra dit die baarmoeder binne kan gaan en daar kan vasheg.

Elke maand berei hormone die endometriu­m – die dik voering aan die binnekant van jou baarmoeder – voor om ’n bevrugte eiersel te ontvang. Word die eiersel nie bevrug nie, skei jou liggaam die laag uit en dis die bloed wat jy sien wanneer jy menstrueer.

As die eiersel egter bevrug word, bly die voeringlaa­g sit en verdik dit verder – en dis waarom jy later agterkom dat jou maandstond­e nie opgedaag het nie. WEEK 4 Bevrugting vind plaas wanneer die eerste van die duisende spermselle wat so vinnig moontlik na die eiersel geswem het, daarin slaag om sy kop by die vrygesteld­e eiersellet­jie in te wurm en deur die sterk wand te dring – en siedaar, bevrugting het plaasgevin­d.

Die eiersel se wande sluit onmiddelli­k en verseker so dat geen ander spermselle kan inkom nie. Daar is nou ’n enkele sel met twee kerne.

Die twee kerne smelt vinnig saam om een sel te vorm en in die derde week (wat eintlik die eerste week van bevrugting is) verdeel die bevrugte eiersel in twee selle, dan vier, dan agt, dan sestien en so duur dit voort.

Dié bondel selle sweef die uterus binne en heg aan die baarmoeder­wand vas, gewoonlik aan die bokant van die uterus.

Aan die einde van dié week bestaan dit reeds uit sowat 200 selle. WEEK 5

Die toekomstig­e baba is ’n klein skyfie wat oor haarself vou om ’n buis te vorm wat die neuraalbui­s (die brein en die rugmurg) en die buisagtige vorm van die lyf sal begin aanneem. ’n Knop wat binnekort ’n primitiewe hart sal word, begin ook vorm en are begin met mekaar verbind.

Teen die einde van die week smelt die twee buise wat die hart is, saam. Dit begin saamtrek om hartkloppi­es te vorm wat die bloed in een rigting laat beweeg.

Teen die einde van die eerste maand sal die opgekrulde embrio omtrent so groot soos ’n ryskorrel wees. Die onttrekkin­gsrefleks begin nou ook werk. Dit veroorsaak ’n reaksie wat die embrio toelaat om bewegings te maak om haar te beskerm.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa