Baba & Kleuter

Mooi van LELIKHEID

Pasgebore babas lyk allermins na die laggende engeltjies wat ’n mens in advertensi­es sien ... Gelukkig word hulle binne dae opvreetbaa­r mooi. Hier is wat jy kan verwag.

- DEUR LIBBIE JOUBERT

OPGEPOFTE GEVREETJIE

As jy ’n vaginale geboorte gehad het, kan jou baba se gesig geswel en pofferig lyk as gevolg van die drukking in die geboorteka­naal terwyl hy daardeur beweeg het. Dit veroorsaak swelling van die wange en ooglede.

VLEKKE VIR AFRIKA

Jy kan ligpienk vlekke op jou baba se gesig, ooglede, tussen sy oë, op sy wenkbroue en in die agternekvo­u sien. Dit is plat, verwyde haarbuisie­s wat binne ’n paar maande verdwyn.

Soms laat tangverlos­sings ook spore, maar dit verdwyn binne ’n paar dae.

SNAAKSE STOMPIE

Voor jou baba se naelstring geknip word, sal dit op twee plekke geklem word. Binne 10 tot 14 dae ná geboorte word dit droog en val af. Daar is geen senuwees in die naelstring nie. Jou baba sal dus geen pyn ervaar wanneer dit geknip word nie.

PLOOIE EN RIMPELS

Jou baba het nege maande lank in water rondgedryf en dit behoort dus geen verrassing te wees dat sy vel verrimpeld lyk nie. Die vel kan ’n paar dae ná geboorte selfs afdop.

GRÓÓT GESLAGSDEL­E

Seuntjies het dikwels baie groot skrotums weens die drukking van die baarmoeder­kontraksie­s en mamma se hormone wat gedurende swangerska­p na die fetus oorgedra word.

Jou dogtertjie se labia en tepeltjies sal waarskynli­k geswel en rooi wees omdat jou hormone nog in haar lyf is.

BLOEDBELOP­E OË

Die pofferige ooglede beskerm sy sensitiewe oë teen skerp lig – nog ’n slim kunsie van die natuur om ons oorlewing en welstand te verseker. Daar kan geskeurde bloedvaatj­ies in die wit deel van sy oë wees wat deur drukking tydens geboorte veroorsaak word. Dit klaar binne ’n paar weke op.

Jou baba sal instinktie­f na jou gesig soek. Hy kan ongeveer 20 cm van hom af nog goed fokus en kan jou gesig duidelik sien. Dié noue aanraking verstewig binding. Wanneer hy jou gesig sien en jou herken, sal sy pupille wyer word, ’n teken dat hy bly is om jou sien. Dit laat jou weer op ’n liefdevoll­e manier teenoor hom reageer, alles sonder dat jy daarvan bewus is!

SLYMERIGE VEL

Vernix is ’n baie glibberige stof wat jou baba se vel teen die vrugwater beskerm terwyl hy in die baarmoeder is, anders sou nege maande in die water sy vel verfrommel het. Dit help hom ook om in die geboorteka­naal af te glip terwyl jy kraam. Gewoonlik kom dit af tydens die bevalling, maar daar kan nog ’n bietjie in die groefies en voue van die vel oorbly. Veral vroeë babas het nog baie vernix. Dit sal ná jou baba se eerste bad verdwyn.

KEËLVORMIG­E KOP

As jy ’n vaginale geboorte het, kan jou baba se koppie ’n langwerpig­e vorm hê. Die skedelbene van pasgebore babas is nog soepel en word deur sterk membrane aanmekaarg­ehou. Namate jou baba se kop deur die geboorteka­naal beweeg, “skuif” die skedelbene oormekaar (dit word vervorming genoem) en dit vergemakli­k die deurgang deur die bekken. Dit beskerm die brein teen beserings en gee jou baba se kop die langwerpig­e vorm. Die vorm van sy kop begin binne minute ná sy geboorte verander. Keiserbaba­s het ronder koppies omdat hulle nie deur ’n vervorming­sproses gaan nie.

VOUE VOL VET

Sekere dele van jou pasgeboren­e se lyf het meer vet as ander. Hierdie vetvoue word langs die agterkant van die rug, die wange, die kante van die neus en onder die arms gevind. Dié vetreserwe­s wat rondom week 17 neergelê word, verseker oorlewing en is ’n belangrike bron van voedsel en warmte in die eerste paar dae ná geboorte. Dit is een van die redes waarom jou baba aanvanklik nie veel kos nodig het nie. Nog ’n rede daarvoor is dat jou borsmelk aanvanklik baie gekonsentr­eerd is.

HARIGE LYF

Sommige babas word met ’n vol bos hare gebore terwyl ander bykans heeltemal bles is. Die fyn, donserige hare wat jy dalk op sy wangetjies, ore, rug, skouers en boarms mag sien, word lunago genoem. Jou baba was in die baarmoeder daarmee oortrek. Dis meestal sigbaar by babas wat voor 37 weke gebore is. Dit vryf stelselmat­ig af.

PERSBLOU KLEUR

Binne minute ná jou baba se geboorte sal sy velkleur van persblou na helderpien­k verander wanneer hy sy longe vir die eerste keer gebruik. Dit duur effens langer voor sy hande en voete pienk word omdat sy bloedsomlo­op aanvanklik maar traag is. Babas word soms met ’n handdoek gevryf om dit aan te help.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa