Baba & Kleuter

ONBESKRYFL­IKE LIEFDE

- YOLANDI BOTHA, RANDFONTEI­N, GAUTENG

As ’n mens al die twispunte wat met ouerskap gepaard gaan uitskakel, is daar een ding waaroor almal saamstem: Mamma wees is moeilik!

Daar is ’n duisend dinge wat mamma wees uitdagend maak, maar vir my is daar een wat kop en skouers bo alles uitstaan: die liefde wat jou hart heeltemal in beslag neem die oomblik dat jy daardie skreeuende klein mensie in die wêreld bring.

Die liefde wat ’n ma vir haar kind voel is onmoontlik. Dit oorweldig alles.

Die liefde wat ’n ma vir haar kind voel sorg dat daar altyd bekommerni­sse in haar hart is. Van die kleiner dinge soos “Is hy vandag warm genoeg aangetrek?” tot die groter goed soos “Hoe lê ek die fondament sodat hy eendag ’n goed aangepaste, goedhartig­e persoon sal wees?”

Die liefde wat ’n ma vir haar kind voel sorg dat elke mylpaal met ’n bittersoet gevoel gepaard gaan. Elke eerste tree, eerste woord, eerste dag van skool trek ’n streep onder ’n fase van ’n kind se lewe wat jy nooit weer gaan terugkry nie.

Die liefde wat ’n ma vir haar kind voel sorg dat ’n ma haarself nooit weer eerste kan – of wil – plaas nie. Skielik kraai baba se geluk, baba se gemak, baba se behoeftes koning.

Die liefde wat ’n ma vir haar kind voel sorg dat sy altyd in ’n tweestryd gewikkel is. Is die berg skottelgoe­d regtig so belangrik of kan ons vanaand maar ’n ekstra storie voor slaaptyd lees? Moet ek my kleuter leer om selfstandi­g te wees of kan ek maar tot sy redding kom wanneer ’n maatjie ’n speelding gryp waarmee hy eerste gespeel het?

Die liefde wat ’n ma vir haar kind voel sorg dat sy elke oomblik vir ewig wil vasvang want sy weet dat hierdie kind, vir wie sy dalk nou die hele wêreld is, eendag gaan grootword en sy eie lewe gaan lei.

Die liefde wat ’n ma vir haar kind voel is die ding wat maak dat ons elke boek, blog en artikel verslind om seker te maak ons doen die beste ding vir ons kinders. Dit is wat maak dat ons nagte wakker lê en elke besluit betwyfel.

Die liefde wat ’n ma vir haar kind voel is die ding wat ma wees so uiters moeilik maak – en die ding wat ma wees so uiters die moeite werd maak.

Die liefde wat ’n ma vir haar kind voel is onbeskryfl­ik, onherroepl­ik, oneindig.

 ??  ?? Die Botha- gesin: Yolandi (25), Eduan (29), Dylan (3) en Liam (1).
Die Botha- gesin: Yolandi (25), Eduan (29), Dylan (3) en Liam (1).

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa