Baba & Kleuter

DANKIE MAMMA, DANKIE BABA!

- NOLENE VAN DER WALT, BRITS, NOORDWES

Opgewonde en bang deel ek die nuus: Ons kry oor nege maande ’n groot geskenk. Trane rol, die hele familie word gebel! Nou tel ons die dae af en maak reg vir die groot oomblik.

Voor ons ons oë uitvee, is die groot dag daar! Dis tyd om ons kleinding te ontmoet! Ek was geseënd met ’n baie gesonde swangerska­p en het sommer in my hart geweet dat die Heer my met ’n gesonde bevalling sou seën; tog bly ’n mens maar bang en onseker oor wat wag. Ná ’n paar oomblikke is sy hier – ons liefste klein Rolene-kabouter!

Ons kan nie glo dat hierdie klein mensie ons s’n is nie!

Toe tref dit my. Sy is MY verantwoor­delikheid! Sommer dadelik is my eie mamma my noodnommer op my foon. Nou weerklink die woorde wat my ma altyd vir my as hardkoppig­e tiener gesê het: “Jy sal verstaan as jy eendag jou eie kinders het.” Nou verstaan ek. Die diepe liefde, die seer as sy seer het, die eindelose wakker nagte, vol borste, vuil doeke, melkreuk (wat sommer gou jou nuwe parfuum word), mense wat oordeel, deurmekaar hare … Die lys gaan aan en aan. Dan raak ek vir ’n oomblik stil en wonder: Wat as ek nie goed genoeg is vir hierdie klein mensie nie? My liefste mamma hou my vas terwyl ek aan my vermoë twyfel. Sy sê vir my dat kind grootmaak soos ’n resep is. Jy kan dit elke dag beproef en net ’n bietjie minder of meer bakpoeier bygooi tot jou resep werk – dis al hoe jy gaan weet wat werk!

Nou, ses maande later, kan ek nie glo hoe hierdie vriendelik­e sonskynkin­d van ons ons lewe so onherroepl­ik kom verander het nie. Ek het myself leer ken en net weer eens besef hoe sterk ’n vrou moet wees om ’n ma te wees. Dis harde werk, maar oor en oor die moeite werd. Ek dank die Heer dat Hy my gekies het om hierdie klein wonderwerk­ie groot te maak en in dieselfde asem sê ek dankie vir my ma, my rots!

Sterkte aan alle nuwe mammas en geniet elke oomblik!

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa