Baba & Kleuter

Induksie: nie net ’n kortpad na kraam

Het jou baba ’n bietjie hulp nodig om sy reis na die buitewêrel­d te begin? Dan is ’n induksie soms aangewese – ons bekyk die metodes, newe- effekte en risiko’s.

- DEUR COLETTE DU PLESSIS

Soms is dit nodig om ’n bevalling kunsmatig aan die gang te skop as die liggaam dit nie self wil doen nie. Dit word induksie genoem en behels dat jou kontraksie­s aangewakke­r word sodat jy kan begin kraam en steeds ’n vaginale geboorte kan hê.

Soms is induksies die veiligste opsie wanneer jy die lewe moet skenk. Dit is egter nie ’n metode wat ontwerp is om die geboorte makliker te maak nie.

As ’n baba slegter begin groei – soos wanneer die plasenta uitgedien raak – is die risiko groot genoeg om ’n induksie te noodsaak. As jy diabetes of hoë bloeddruk het, of die gevaar bestaan dat jou baba onverwags in die baarmoeder kan sterf, word dit ook as genoeg rede vir ’n induksie beskou.

Dieselfde geld vir ’n swangerska­p wat veel langer duur as wat veilig is. Die meeste ginekoloë beskou 41 weke as ’n goeie tyd om ’n swangerska­p te beëindig, selfs al gaan alles goed.

Jy as ma het egter altyd die reg om die beëindigin­g van ’n swangerska­p te weier as jy graag natuurlik wil begin kraam. As dít die pad is wat jy kies, moet jy in gedagte hou dat jy ekstra fyn dopgehou sal word om seker te maak alles bly pluis met jou baba.

VERSKILLEN­DE SOORTE INDUKSIE

Induksies kan in twee kategorieë verdeel word: fisiek en medies, sê prof. Lut Geerts, hoof van die Tygerberg-hospitaal in Kaapstad se eenheid vir verloskund­e, ginekologi­e, ultraklank en fetale geneeskund­e.

Een van die algemeenst­e fisieke metodes behels dat die vliese met ’n spesiale haak geskeur word sodat jou water breek en jou baba se kop dan hopelik druk op die serviks uitoefen sodat dit oopgaan en kraam begin.

In ’n ander fisieke metode word ’n kateter met ’n ballon in die vagina geplaas. Die ballon word stadig opgeblaas in die hoop dat dit jou baba se kop stimuleer sodat dit druk op die serviks begin uitoefen.

Mediese metodes behels die gebruik van verskillen­de soorte prostaglan­dien, hormone wat per mond of deur die vagina toegedien kan word.

Die hormoon oksitosien word ook soms binneaars toegedien.

Die doel van die hormone is om die serviks sag te maak en die bevalling aan die gang te kry.

As jy ’n induksie moet kry, is dit belangrik dat jy vooraf ingelig word watter metode jou dokter gekies het. Maak ook seker jy verstaan die moontlike komplikasi­es eie aan die metode en weet hoeveel tyd toegelaat gaan word voor die metode begin werk.

WATTER METODE IS REG VIR JOU?

Volgens Lut het elke induksieme­tode vooren nadele, moontlike newe- effekte en spesifieke komplikasi­es.

“Die keuse van ’n spesifieke metode of kombinasie daarvan hang af van jou en jou baba se risikoprof­iel.”

HOE BEÏNVLOED INDUKSIES NORMALE KRAAM?

“Die bevalling moet meer noukeurig gemonitor word en sal langer duur,” sê Lut. Jou kontraksie­s en jou baba se hartklop sal die hele tyd gemeet word.

Dit gebeur met die hulp van ’n kardiotoko­graaf (KTG) wat met twee bande aan jou buik vasgemaak word.

Geïnduseer­de kraam is dikwels ook meer pynlik, sê Lut. Dis onder meer omdat die baarmoeder harder moet werk aan ’n groter aantal kontraksie­s oor ’n langer tydperk.

Vroue het dus dikwels ’n groter behoefte aan pynverligt­ing soos epidurale verdowing, sê sy.

Afhangende van hoe die proses verloop, kan daar ook uiteindeli­k ’n groter kans wees vir ’n keisersnee of tang- of suierverlo­ssing.

Indusering het ook ander nadele. Sommige middels verhoog die risiko dat jou baba geelsug opdoen. Hierdie probleem word meestal maklik behandel, maar dit lei tog tot ekstra kostes en ingrypings wat onnodige spanning op jou kan plaas.

Van die kunsmatige hormone wat toegedien word, kan jou ook naar maak, laat opgooi en diarree gee.

HET JY DIT REGTIG NODIG?

Weens die newe-effekte en die gevaar van mislukking word induksies net oorweeg wanneer dit veiliger is as om te wag dat die bevalling vanself begin.

Induksies word uiteraard glad nie aanbeveel as ’n veilige vaginale verlossing in elk geval nie moontlik is nie.

Dit kan wees as placenta praevia teenwoordi­g is, jy meer as een vorige keisersnee gehad het of ’n ernstige hartletsel het.

Sekere fetale afwykings, hewige groeivertr­aging en dwarsliggi­ng skakel ook induksie uit.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa