OM AAN WONDERWERKE TE GLO
In 2003 verwag ons ’n wittebroodbabatjie en nege maande later is ons seuntjie gebore. Ons was maar jonk, net 24. Hy was die mooiste en vriendelikste baba. Ons probeer ná twee jaar weer, maar tevergeefs. Ons beproef alles wat finansieel bekostigbaar is en ons bid, glo en hoop. Ná 10 jaar besluit ons om alles te staak – dit is emosioneel te uitmergelend. Ons het darem een kind, ons enigste wonderwerkie.
Toe, in 2017 ná 14 jaar van getroude lewe, vind ons uit ek is op amper 40 swanger. Nou hoe het dit gebeur? vra my man so ewe. Ná ’n paar groot skrikke is ons laatlam gebore, ’n volle 13 en ’n half jaar later as sy ouboet. ’n Pragtige tienerseun en sy bababoetie – ons gaan nooit oud word nie! ANSI COETZEE, ERMELO, MPHUMALANGA