Baba & Kleuter

AKSIEPLAN

-

STAP 1 BLY KALM

Dis gewoonlik onmoontlik om ’n woedeaanva­l stop te sit as jou kind eers vlamvat, en jy hoef ook nie. Jy moet wel in beheer van die situasie bly. Toegegee, dis moeilik om kalm te bly as jou kind op die vloer lê en skop, maar dis presies wat jy moet doen. As jy skree of kwaad word, is dit net olie op die vuur en sal dit nie die woede laat bedaar nie. Dit sal jou kind net nog meer buite beheer laat voel.

Madelein sê dit is wys om jou die “kan dit wees”-vrae af te vra: “Kan dit wees dat my kind my onverdeeld­e aandag soek?” “Kan dit wees dat my kind in beheer wil voel?” “Kan dit wees dat my kind oorgestimu­leer is?”

Vloerstuip­e is vir jou kind ’n vorm van ontlading. Die meeste kinders sal enige vorm van vertroosti­ng verwerp en kan jou selfs wegskop of harder gil as jy dit nader waag. Ander sal wel toelaat dat jy hulle vashou en tot bedaring bring. Kyk wat vir jou kind werk.

Jy kan by jou kind bly tot hy uitgewoed is, of as dit jou te veel ontstel of jy sien jou teenwoordi­gheid vererger die situasie net, kan jy hom uit die situasie verwyder. Tel hom op (al skop en skree hy) en neem hom na sy eie veilige plek soos sy kamer, waar hy in privaathei­d kan ontlaai sonder ’n gehoor wat die gedrag aanvuur.

In ’n winkelsent­rum kan dit soms beteken dat jy jou waentjie net so laat staan en jou kind na die naaste badkamer of jul motor neem tot hy weer kalm is.

Madelein herinner ouers egter daaraan om nooit jou kind in die openbaar te verneder nie.

“Dit doen afbreuk aan sy selfbeeld en sal die woedebui buitendien vererger.”

STAP 2 ERKEN GEVOELENS

As jy weet waarom jou kind vloerstuip­e het, sê kalm: “Ek kan sien jy is kwaad omdat jy nie lekkers kan kry nie, maar dis amper aandete. Ek gaan jou nou los tot jy klaar geskree het. Sê my as jy klaar is.” So nie kan jy net erkenning aan sy emosies gee. Moenie met hom probeer redeneer as hy nie positief reageer nie; gee hom kans om self tot verhaal te kom. Die boodskap is: “Ek verstaan jou frustrasie, maar vloerstuip­e is nie die manier om jou sin te kry nie.”

STAP 3 TYD VIR TROOS

As jou kleinding uitgewoed is, is dit troostyd en hersteltyd. Vloerstuip­e sal jou en jou kind emosioneel en fisiek heeltemal uitgeput laat. By sommige kinders moet jy intree en troos sodra die ergste verby is – so help jy hulle om veilig en getroos te voel en weer in beheer van hulself te kom. Ander kinders verkies dit om alleen gelaat te word tot hulle weer heeltemal kalm is (en kan nog ’n hele ruk lank skree dat jy moet padgee!). Gun hulle dan hul ruimte.

Madelein se raad is dat jy jou kleinding help om opsommend na te dink oor die situasie sodra hy weer reg is vir kontak. Vra vlugtige vrae soos: “Wat het gebeur?”. “Wat is ons reël?” “Wat gaan ons volgende keer doen?” Soen hom, sê jy is jammer hy was so ongelukkig en bly hy voel weer beter, en beweeg aan. “Wanneer kinders die situasie op ’n positiewe manier leer verstaan, is hulle meer geneig om daarna hul gedrag beter in bedwang te hou,” sê Madelein.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa