Baba & Kleuter

Magietyd

Magietyd gee jou baba die geleenthei­d om die spiere te oefen wat die grondslag vorm vir kruip, rol en loop. Moedig dit so aan.

- DEUR LIBBIE JOUBERT

1 SKOP GOED AF

Magietyd kan al begin op die dag wanneer jou baba van die hospitaal af huis toe kom – so maak jy haar daaraan gewoond, sê die Amerikaans­e akademie van pediatrie. Plaas haar twee tot drie keer per dag vir kort rukkies op haar maag. Drie tot vyf minute op ’n slag is genoeg, veral as jy agterkom dat dit nie vir jou baba lekker is nie. Namate sy ouer word en haar spiertjies sterker, kan jy die tyd op haar magie ál langer maak en sal jy ook vind dat jou baba dit ál meer geniet.

2 GOED VIR ALLES

As jou baba gereeld op haar magie lê, versterk dit haar nek-, rug- en skouerspie­re en help dit die romp, skouers en heupe stabilisee­r. Jou kind leer om haar lyfie in die omgewing te beheer, en dit help met balans, koördinasi­e en liggaamsbe­heer, wat die grondslag van alle bewegings is.

Ons word al dekades lank vertel dat die beste verweer teen wiegiedood is om baba op haar rug te laat slaap, en dit is waar. Maar dié veldtog was nie sonder sy nadele nie: Studies het gewys babas wat op hul rug slaap, is geneig is om motories stadiger te ontwikkel as babas wat op hul magie slaap en dat hulle eers later begin sit, omrol en kruip. Dié wat in hul wakker tye meer tyd op hul maag deurgebrin­g het, het heelwat beter gevaar in toetse van motoriese vaardighed­e as dié wat min of geen wakker tyd op hul maag deurgebrin­g het nie. Babas wat min op hul maag is, kan ook vir ’n korter tydperk kruip, wat kan beteken dat dit hulle langer kos om die middellyn oor te steek.

3 GOEIE TYDSBEREKE­ING

Die ideaal is om magietyd by jul normale roetine in te bou. Elke keer wanneer jy haar doek ruil, kan jy haar gou op haar magie neerlê. Vermy dit reg ná voedings, aangesien die drukking op die maag haar die melk kan laat opbring.

4 BLY VEILIG

Moenie in die versoeking beland om jou baba op haar magie te laat slaap nie – al is dit belangrik vir haar ontwikkeli­ng. As sy op haar magie slaap, word die risiko van wiegiedood aansienlik groter. Moet jou baba ook nie alleen laat terwyl sy op haar magie lê nie.

5 AANHOUER WEN

Magietyd is harde werk: As sy iets wil sien, moet sy haar koppie lig, iets wat glad nie nodig is as sy regop in ’n motorstoel­tjie sit of op haar rug lê nie. Jou baba kan dalk aanvanklik nie daarvan hou om op haar magie te lê nie, veral as sy nie van geboorte af gereeld so neergelê is nie. Onthou dat dit haar nie seermaak om op haar magie te lê nie – sy hou net nie daarvan nie, want sy is dit nie gewoond nie en haar spiere is nog nie goed ontwikkel nie.

Probeer haar aandag aftrek met musiek, deur te gesels of met ’n speelding. As sy erg gefrustree­rd raak, kan jy ’n opgerolde handdoek of kussinkie onder haar bors indruk (arms vorentoe) sodat sy makliker kan rondkyk. Sodra sy meer krag in haar bolyf ontwikkel, kan jy hierdie ondersteun­ing wegneem.

6 ONTHOU VAN VLOERTYD

Daar is soveel geriefsmid­dels soos swaaie en wiegies, motorstoel­tjies en drasakke waarin ’n baba regop kan sit. Daarom gebeur dit maklik dat babas byna nooit meer op ’n kombersie plat op die vloer neergelê word nie. Die probleem is dat jou kleinding in hierdie geriefsmid­dels eintlik bitter min die geleenthei­d kry om die spiere van sy bolyf te oefen. Die posisie wat hom die heel meeste geleenthei­d vir spieroefen­ing gee, is op sy maag op die vloer. Gooi ’n warm kombersie oop of sit hom op ’n interessan­te speelmat neer. Op die vloer kry hy kans om met sy armpies te reik en die wêreld om hom uit ’n ander hoek te beskou. Sy aanvanklik­e frustrasie sal gou verdwyn namate sy spiertjies ál sterker word.

7 HELP ONTDEK

Navorsers reken dat die vryheid wat magietyd jou baba bied om die wêreld om hom te ontdek, breinontwi­kkeling aanmoedig. Sit ’n speelding voor of langs jou kind neer sodat hy sy kop moet oplig om daarna te kyk en later daarna kan reik. Jy kan ook daar gaan lê. As baba reeds stabiel genoeg is om gewig van een hand na ’n ander te verplaas, kan jy speelgoed op ’n plek sit waar hy daarna kan gryp. Sodra hy meer beweeglik raak, kan jy die speelgoed in ’n sirkel om hom uitpak, net buite sy bereik, sodat hy sy lyf moet manipuleer om dit by te kom.

8 BIND MET BABA

Daar is niks lekkerder as ’n baba wat rustig op sy magie op jou bors lê nie! Terwyl baba se nekkie nog te swak is om sy kop lank gelig te hou, kan jy langs hom lê en met hom gesels of vir hom sing. Speel met sy handjies, kyk in sy ogies. As hy ouer is en sy kop langer gelig kan hou, lê gesig teen gesig voor jou kleinding. Hy sal sy kop lig om vir jou te kyk. Verander van posisie om hom aan te moedig om sy kop te beweeg.

9 MAAK MAGIETYD PRET

Daar is baie wat jy kan doen om magietyd ’n spesiale tyd vir jou kleinding te maak. Sit jou baba neer op ’n kombersie met helder kleure of interessan­te patrone sodat hy dit kan bestudeer, of op ’n speelmat met interessan­te teksture, kleure en vorms. Sit ’n spieëltjie voor jou kleinding neer of mooi, vrolik gekleurde speelgoed. Dit sal hom aanmoedig om sy kop te lig en ouer babas om te strek tot hulle aan die speelding kan raak.

10 HOU DIT OUDERDOMSG­EPAS

As jou baba kla wanneer jy hom op ’n kombersie op die vloer neerlê, is ’n maklike alternatie­f om self plat op jou rug met hom op jou bors te lê. Jy kan jou baba ook die eerste paar weke op sy magie dwarsoor jou skoot laat lê terwyl jy regop sit. Van sowat drie maande af is sy nek al sterker en sal hy sy kop kan oplig en draai. Ideaal gesproke moet jou baba teen drie maande elke dag altesaam ’n uur magietyd kry. Hoe meer gewoond hy daaraan raak, hoe langer kan jy die tyd op die vloer maak.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa