Baba & Kleuter

PLUK DIE VRUGTE

-

Ek het in sub B ’n kwaai juffrou gehad wat elke dag in ’n diep stem sulke gesegdes oor haar klas gespreek het. Een van hulle was: “Jy kul nie vir my nie, jy kul net jouself” in reaksie op luiheid. Die ander een wat by my vasgesteek het, was “wat jy saai, sal jy maai”. Ek dink die vrou wou seker eintlik ’n dominee geword het, maar in daardie dae was dit nie vir vroue ’n moontlikhe­id nie. Toe preek sy maar vir haar klas, bordkryt in die hand.

Ouerskapke­nners sê dit werk nie om vir kinders te preek nie, maar dis nou al 40 jaar later en ek onthou die gesegdes baie goed. Nie net onthou ek dit nie, hulle het vir my betekenis ook. Wanneer ek lui voel en ’n kortpad wil kies, span ek dié twee sêgoed in om myself te motiveer om beter te doen en harder te probeer. Want wie gaan die vrugte pluk? Ek!

Dis met kinders grootmaak ook so. Hulle sê mos kinders word in die eerste sewe jaar gevorm. Wat jy in daardie jare by hulle kan vaslê – waardes, beginsels, gewoontes, roetines – is waarop hulle later gaan terugval wanneer hulle voor keuses te staan kom. Dis soos die default setting op jou rekenaar.

Ons wil almal gelukkige, gesonde kinders grootmaak wat ’n bydrae tot die samelewing kan maak. Baba & Kleuter is propvol raad oor hoe jy jou kind in dié rigting kan stuur, al van babadae af. Jy kan elke dag saadjies plant. Onthou om ook soms, veral aan die einde van ’n lang dag vol uitdagings, stil te staan en kyk hoe mooi die plantjie groei.

Tot volgende maand

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa