Baba & Kleuter

HOE VERTEL ONS DIE KINDERS?

-

Die beste plan is gewoonlik dat julle saam-saam vir die kinders vertel wat aan die gebeur is, sê die Durbanse sielkundig­e Sinette van Rooy Booysen.

“Kies ’n stil plek sodat hulle veilig voel wanneer hulle die nuus hoor. Dink ook mooi oor ’n geleë tyd sodat hulle kans kry om by die idee aan te pas – die naweek is gewoonlik beter as ’n weekdag. Julle moet ook vooraf saamstem oor wat julle vir hulle gaan vertel.”

Sinette beveel aan dat jul kinders dié boodskap hoor wanneer julle die nuus met hulle deel: • Mamma en pappa het besluit om te skei nadat hulle vir ’n lang tyd probeer het om die probleem op te los. • Mamma en pappa het besluit om te skei en dit is nie julle skuld nie. Dit is ’n volwasse besluit wat deur volwassene­s gemaak is. • Moenie probeer om ons keuse te verander nie en moenie voel asof dit julle skuld is nie. • Moenie skuldig voel om lief vir mamma of pappa te wees nie. Dit is nie dislojaal teenoor die ander ouer nie.

Sinette maan ouers om mekaar nie tydens die gesprek te blameer nie en hoflik met mekaar te praat.

“As een van die ouers emosioneel word, kan die ander ouer net sê dat dit ’n moeilike tyd vir mamma en pappa is en dan ’n bietjie wag sodat die ander ouer hul gevoelens in bedwang kan bring.

“Probeer waar moontlik om kalm te bly. Probeer om die waarheid te praat en nie te jok nie. Moenie beloftes maak waarby julle nie kan hou nie. Verseker die kinders dat julle steeds lief vir hulle sal wees en dat die egskeiding dit nie sal verander nie.

”Verseker hulle dat hulle ondanks die egskeiding steeds ’n gesin sal hê en steeds met albei ouers kontak sal hê, al bly julle nie meer almal saam nie,” sê Sinette.

“Lig hulle oor die praktiese veranderin­ge in, soos waarheen die ander ouer gaan trek en hoe gereeld hulle hom of haar sal sien.”

Bly deurentyd geduldig en verseker die kinders oor en oor dat dinge sal uitwerk.

Gesels ook met jul kinders oor hoe hulle voel, sê dr. Henk Swanepoel, ’n sielkundig­e van Centurion.

“Moedig hulle aan om ’n deurlopend­e dialoog met jou te hê en wys dat jy hul gevoelens aanvaar. Verseker hulle oor en oor dat die egskeiding nie hul skuld is nie.

”Kinders is geneig om egosentrie­s te wees en glo dat hul gedrag of gedagtes slegte gebeure veroorsaak. Hulle moet weet dat die volwassene­s hierdie besluit op hul verhouding gegrond het en dit niks met hulle te doen het nie.”

Dis belangrik dat kinders veilig gedurende die proses voel, sê Sinette.

“’n Egskeiding veroorsaak talle veranderin­ge en dit laat kinders onveilig voel. Probeer om dinge vir hulle konsekwent, betroubaar en deursigtig te hou sodat hulle veilig voel. As hulle buite beheer voel, is die aanpassing­sproses baie moeiliker.”

Daarom moet ouers dit veral vermy om sleg oor die ander ouer te praat of die ander ouer te blameer, al is hulle hoe kwaad, maan Henk.

“Kinders het albei hul ouers lief en het hulle nodig. Hulle kan maklik ’n lojaliteit­skonflik ervaar en sleg voel en dit sal ’n einde maak aan oop dialoog,” waarsku hy.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa