Baba & Kleuter

VIER WENKE

-

Daar is ’n rits redes waarom peuters soms verseg om te slaap. Hulle is nou in ’n ontdekking­sfase en is dikwels bloot bang dat hulle iets opwindends misloop terwyl hulle dut. Faktore soos ’n swak roetine, skeidingsa­ngs, honger en dors of ander fisieke ongemak, ’n ontoepasli­ke slaapomgew­ing en oorstimula­sie of oormoeghei­d kan ook ’n rol speel.

#1 GEE KANS VIR RUSTIG RAAK

Oorstimula­sie kort voor slaaptyd is nooit ’n goeie idee nie en kan dit vir jou kleinding moeilik maak om af te skakel en aan die slaap te raak. Die kinderslaa­pkenners Megan Faure en Ann Richardson sê jou peuter is dalk oorgestimu­leer as sy aan jou vasklou, prikkelbaa­r is, nie wil eet of saamspeel nie en ander kinders stamp of byt. Hul raad is dat jy dan minstens 10 minute voor haar slapie ’n kalmerende strategie toepas, soos om met haar te gaan stap of na strelende musiek sonder prentjies of aksies te luister.

#2 DIESELFDE OMGEWING

Laat slaap jou peuter elke keer op dieselfde plek. Haar slaapplek moet soos ’n veilige, rustige hawe voel, sonder te veel helder kleure of dinge wat haar aandag kan aftrek. Maak seker haar doek is droog, haar magie vol en haar klere gemaklik. Los gerus die slaapkamer­deur oop sodat sy jou in die huis kan hoor rondbeweeg. Hou die gordyne toe en maak seker die temperatuu­r in die kamer is nie te warm of te koud nie.

#3 KONSEKWENT­E ROETINE

Dit help baie as jou peuter se dag ’n vaste volgorde het sodat sy presies weet wat om volgende te verwag. Maak seker haar roetine sluit hope vars lug en fisieke aktiwiteit in, met ’n rustiger aktiwiteit (nie televisie kyk nie) korter voor slaaptyd, soos stories lees. Sy moet weet dat as jy haar ná ete kamer toe neem, dit slaaptyd is. Dan sal sy ook makliker verstaan dat sy eintlik net ’n kort rukkie gaan slaap voor julle die dag saam verder kan geniet. Dit sal haar veilig laat voel.

#4 RUSTIGE MUSIEK

Musiek is wonderlik as dit kom by slaaptyd, veral in die dag wanneer die geluide van die buitewêrel­d dit soms bitter moeilik vir jou kleinding maak om weg te dommel. Belê in goeie slaaptyd-musiek met rustige instrument­ale musiek; dis die geld werd. In die eerste plek voel dit nie vir jou kind sy moet wag tot sy vaak is nie, maar sy kan na die musiek luister tot haar ogies self toeval. Tweedens demp die musiek outomaties buitenspor­ig harde klanke wat jou kind wakker kan maak of hou, en derdens tree dit as ’n soort sneller op: Jou kind se ogies sal later sommer vanself toeval as jy die musiek opsit.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa