Bekommerd oor bloed
IJy skrik waarskynlik baie groot as jy tydens jou swangerskap ’n bietjie bloed in jou broekie gewaar. Wanneer is dit rede tot kommer? n jou eerste trimester is ’n paar kolletjies bloed maar net ’n paar kolletjies bloed. In Engels word dit spotting genoem. Dit kan van ligpienk tot donkerbruin in kleur wees en dit sal nie jou swangerskap beïnvloed nie, sê die bekende Johannesburgse vroedvrou suster Burgie Ireland.
Die eerste trimester is ’n tyd van groot hormoonveranderinge. Die eierstokke, wat in elke menstruele siklus estrogeen en progesteroon vervaardig, moet nou rus en die plasenta toelaat om sy werk te doen. Die baarmoeder huisves immers nou ’n fetus en jy menstrueer dus nie.
Die baarmoeder groei ook. Gewoonlik lê dié orgaan effens na voor bo-oor die blaas, maar teen die einde van die 12de week van swangerskap staan dit soos ’n gloeilampie regop sodat dit in jou buik kan groei waar daar meer plek is.
Daar is ’n hele aantal oorsake. ’n Algemene een is ’n implantasiebloeding, wat ’n baie ligte bloeding is wat ontstaan wanneer die bevrugte eiersel hom in die endometrium tuismaak. Dit gebeur gewoonlik op die tydstip wanneer jy sou gemenstrueer het as jou eiersel nie bevrug was nie.
Helderrooi bloed is egter ’n teken van seerkry van die een of ander aard.
Die bloedvolume in jou vrouedele is tydens swangerskap veel groter en dit is dus moontlik dat seks bloeding kan veroorsaak as daar ’n klein skeurtjie ontstaan in die labia minora, die vagina of selfs die serviks.
Ongediagnoseerde fibroïede (klein, niekankeragtige groeisels in die baarmoeder) kan ook begin bloei wanneer die baarmoeder rek en van vorm verander.
As jy heelwat fibroïede het, kan dit in die tweede trimester moontlik met jou swangerskap inmeng en in die derde trimester tot vroeë geboorte lei. Aanhoudende bloeding kan ’n simptoom daarvan wees, en jy móét dus ondersoek laat instel.
Bruin, donker of slymerige bloed is ’n teken van ou bloed. Die oorsaak kan ’n infeksie of ’n besering hoog op in die vagina wees. Solank dit nie gepaardgaan met ’n slegte reuk nie of nie weer voorkom of erger word nie, is daar nie rede tot kommer nie.
As jy bloed op die toiletpapier sien wanneer jy toilet toe gaan, kan dit wees dat die bloed eintlik van die rektum af kom.
Helder, rooi bloed kan deur aambeie veroorsaak word, deur ’n rektale poliep
(’n niekankeragtige groeisel) of deur ’n skeurtjie in die anus as jy hardlywig is.
Moenie paniekerig raak nie, maar noem dit beslis aan jou dokter of vroedvrou wanneer jy hulle weer raadpleeg.
As jy val (al was dit ’n klein valletjie) is daar altyd die moontlikheid dat jou baarmoeder seergekry het en dit kan die rede vir ’n bietjie bloed wees.
Rus ’n paar uur met jou voete omhoog, maar as jy weer ’n bloedkolletjie sien of enigsins erger begin bloei, moet jy beslis die dokter of vroedvrou bel.
As jy ’n bloedingafwyking het, moet jy jou dokter daarvan vertel voor jy swanger word. Jy sal dwarsdeur jou swangerskap streng deur ’n spesialis gemonitor moet word.
’n Bloedkolletjie ( spotting) verwys na ’n klein hoeveelheid bloed. Jy sal byvoorbeeld ’n bietjie op die toiletpapier sien wanneer jy jou afvee of ’n vlekkie in jou broekie gewaar.
Ware bloeding aan die ander kant is wanneer jy ’n doekie moet dra en dit moet omruil. Jy sal moontlik dink dis jou maandstonde. Maar swanger vroue menstrueer nie!
As jy dus swanger is en dit lyk of jy menstrueer, moet jy onmiddellik dokter toe gaan.
Wanneer dinge nie by ’n bloedkolletjie bly nie, in bloeding omskakel en met hewige bekkenpyn, koors en ’n gevoel van swakheid en angs gepaardgaan, kan dit dui op ’n ektopiese swangerskap. Dis wanneer ’n baba buite die baarmoeder begin groei. Dit is ’n noodgeval.
Bloeding, tesame met pyn soortgelyk aan menstruasiepyn wat erger word ná ’n warm bad, kan ’n miskraam wees.
Miskrame is ongelukkig soms onvermydelik, maar as jy ’n geskiedenis van miskrame het, moet jy jou dokter bel. Stappe om nog ’n miskraam te verhinder, soos die insit van ’n stekie in die serviks, kan vroeg in jou swangerskap gedoen word en dit kan help om die komplikasie te vermy.
Vroue wat MIV-positief is of Rh-bloedonversoenbaarheid het, moet alle vaginale bloeding in ’n ernstige lig beskou. Bloeding gee die virus ’n geleentheid om na die baba oorgedra te word en bloedgroeponversoenbaarheid kan die gesondheid van jou baba aantas.
Vroue wat met die hulp van in vitrobevrugtig swanger geword het, moet hul spesialis bel as hulle ’n kolletjie bloed of meer bloed sien. Die oorsaak kan onbelangrik wees, maar dis beter om dit te laat monitor.
’n Bloedkolletjie later in jou swangerskap kan dieselfde oorsake hê as vroeër in die swangerskap, en dit kan sporadies voorkom tot met die geboorte. Hou jou dokter of vroedvrou maar daaroor ingelig. Solank dit by min bloed bly, is daar nie juis rede tot kommer nie.
Sou die bietjie bloed egter begin toeneem en jy werklik begin bloei, is dit iets wat jy nie kan ignoreer nie. Dit kan dui op ’n miskraam of vroeë geboorte wat met ingryping vermy kan word.
Lig ook dadelik jou mediese sorggewer in as jy laat in jou swangerskap bloedkolletjies ná seks gewaar. Dit kan dui op ’n blaasinfeksie.