George Herald

Stilsit bestaan nie vir Wynand du Toit nie

- Eugene Gunning

Stilsit bestaan nie in die woordeskat van die oudverkenn­ingsoldaat, Wynand du Toit, nie. Ses boeke, Josefsklee­d, Judasbok, The long last grave, S-98, Destiny en Pelindaba Protokol het reeds uit sy pen verskyn en hy werk aan ‘n volgende boek, Soldaat wat na verwagting in Augustus/ September sal verskyn. Altesaam sewe boeke onder sy naam staan op die rak, want Judasbok is ‘n paar jaar gelede uit Afrikaans in Engels vertaal.

Terwyl hy in die dae hard werk om Soldaat te voltooi, maak hy en sy familie ook gereed vir groot feesvierin­ge. Op Saterdag 26 Mei, word hy 60 en sy vier kinders, Klippie, Benine, Beamari en MJ sal saam met hom en sy eggenoot, Frances, die geleenthei­d in Glentana langs die SuidKaapse kus vier. Benine het die buiteblaai­e van sy eerste twee boeke, wat verskyn het, ontwerp. Sy het al die pad van Nederland gekom om die groot feesvierin­ge by te woon.

Die afgelope Maandag het Wynand vir ‘n paar oomblikke teruggedin­k aan 21 Mei 1985 toe hy in Cabinda, Angola gevange geneem is na ‘n mislukte operasie van die destydse SuidAfrika­anse weermag.

Twee van sy makkers van die verkenning­skommando, wat algemeen bekend gestaan het as die Recces, Louis van Breda en Rowland Liebenberg, is doodgeskie­t. Wynand is ernstig gewond, maar hy het oorleef en is langer as twee jaar in Angola aangehou. Hy is eers in 1987 vrygelaat.

Du Toit geniet die nuwe loopbaan van skrywer. Hy was al beroepsold­aat, sakeman, boer en deesdae skryf hy voltyds. “Skryf is die lekkerste,” sê hy. “Ek lewe goed en die skrywery is ‘n inkomste. Ek skryf om aan die lewe te kan bly. Onthou ek het nie ‘n pensioen nie.” Hy moes ‘n paar jaar gelede ‘n keuse maak. Dit was die boerdery in die Republiek van die Kongo of skryf. “Die skrywery het gewen.”

Du Toit het ook besef dat hy nog sal kan skryf, al word hy 80 jaar oud. Om op dieselfde ouderdom nog te boer, sal moeilik wees.

Volgens hom kom die skrywery al ‘n lang pad. Terwyl hy op Hoërskool Hopefield was (hy was hoofseun in 1976 daar), het hy ‘n paar verhale geskryf, maar dit is nooit gepublisee­r nie. “Dit het amper in die vergetelhe­id verdwyn.”

Sy skrywery het interessan­t genoeg in alle erns begin terwyl hy in die tronk in Angola was. Daar, in 1986/1987, het sy eerste boek, The long last grave, geskryf. Hy moes dit in Engels skryf sodat die Kubane wat hom opgepas het, dit kon verstaan.

Toe hy vrygelaat is, het hy die manuskrip saamgeneem en dit het in 2017 verskyn. Van sy ander boeke was toe al gepublisee­r.

Die meeste van die dinge in sy boeke is op die waarheid gebaseer. Hy volg ‘n streng roetine met sy skryfwerk. In die week skryf hy gewoonlik van 8:30 tot 14:00. Vrydagaand­e en naweke bring hy saam met sy gesin deur.

Die militêre dissipline wat hy destyds geleer het, help hom in sy skryfwerk. Saam die skrywery, lewer hy die afgelope paar ook motivering­spraatjies.

Du Toit is reeds besig met navorsing vir ‘n boek wat na Soldaat sal verskyn. Hy is van voorneme om nog lank te skryf. “Ek gaan skryf tot ek omval.”

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa